eikendal_fondue_image_lr
Funksies

Eikendal bied smelt-in-die-mond Fondue Vrydae

Met Eikendal se eienaars wat van Switserland afkomstig is, is dit geen wonder dat hierdie landgoed wat veral erkenning geniet vir sy klassieke Bordeaux-styl rooiwynversnitte en bekroonde Chardonnay ook oor die afgelope drie dekades bekend was vir sy kaasfondue nie. Na ‘n kort afwesigheid is hulle immergewilde fondue nou weer terug met liplekker oorgawe. Elke Vrydagaand tot en met einde Augustus, kan geesdriftiges hulle naweek in die geselskap van Eikendal afskop waar Gruyère en Emmenthal die gemoed pamperlang saam met gehalte landgoedwyne, wanneer hul restaurant se potte prut met hul weergawe van die tradisionele Switserse kaasfondue. Buiten die kaas-weergawe, verleen Sjef Mark Radnay ook soete verleiding aan die aand met ‘n rojale sjokolade tiramisu fondue wat verlekker word met vars vrugte, Spaanse oliebolle en éclairs. As jy nie so gaande is oor fondue nie, hoef jy glad nie te kommer nie want die Fondue Vrydaes se spyskaart sluit ook heilsame kerries soos tradisionele Bo-Kaapse kerrie; ‘n Kambodjaanse beesvleiskerrie, en ‘n Viëtnamese ‘Hang-lay’ varkvleiskerrie in. Ander geurige smaaksensasies sluit in ‘n Franse uiesop, eksotiese Thai-hoender en die restaurant se immergewilde soetpatat gnocchi verryk met parmesaanskuim en truffelolie. Van uitsonderlike ontdekkings tot opwindende ervarings, bied Eikendal, wat halfpad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes geleë is, die ideale toevlug waar die hele gesin ‘n goeie tyd kan geniet. Buiten insiggewende keldertoere en daaglikse wynproeë, bied die landgoed ook unieke wyn-en-sjokolade parings aan. Ma en Pa kan daarna sommer lekker met ‘n boek of kaasbord op die gras langs die dam uitspan terwyl die kleinspan hulle aapstreke in die jungle gym uithaal. Of buiteluggeesdriftiges kan voetslaan deur die wingerd en fynbosprag voordat hulle gaan aansit vir ‘n lui-lekker, al fresco ete by die restaurant. Te danke aan Winelands Fly Fishing het vlieghengel in die wynland ook behoorlik posgevat. Daar is ‘n vlieghengelwinkel by Eikendal om jou volledig uit te rus wanneer die lus jou beetpak en jy en jou gesin of pelle tyd langs die waters wil spandeer om hierdie geliefkoosde sport te beoefen. Na al die opwinding van eet, drink, en speel kan jy gaan voete opskop by Eikendal Lodge met sy huislike atmosfeer waar ontspanning en gul Suid-Afrikaanse gasvryheid hoog op die agenda is. Daar is nege ruim en-suite slaapkamers, wat volledig toegerus is en smaaklik versier is en elkeen het ook sy eie private stoepie wat uitloop op ‘n pragtige tuin met ‘n skilderagtige uitsig oor die wingerde en die Helderberg. Besprekings vir die eksklusiewe Fondue Vrydaes by Eikendal Restaurant is noodsaaklik. Gedurende die winter is die restaurant slegs oop vir middagete (Woensdae tot Sondae) so maak seker jy bespreek vir hierdie aande sommer nou dadelik. Vir besprekings en navrae skakel Eikendal Restaurant by Tel: 021 855 5033 of stuur ‘n epos na restaurant@eikendal.co.za. Vir meer inligting oor Eikendal Landgoed; sy wyne, en toeriste attraksies kontak die proekamer by Tel: 021 855 1422; stuur ‘n epos na info@eikendal.co.za, of besoek www.eikendal.com. Vir meer inligting oor Eikendal Lodge skakel Tel: 021 855 3617; epos info@eikendallodge.co.za, of besoek www.eikendallodge.co.za. Vir meer inligting oor Winelands Fly Fishing en hulle vlieghengel kliniek by Eikendal skakel Philip Meyer by Tel: 021 855 2646 of stuur vir hom ‘n epos by flytalk@telkomsa.net. Maak sommer nou ‘n nota: In Oktober maak Eikendal se gewilde Jazz Aande weer hulle terugkeer op vrydagaande vanaf 17h00 tot 20h00. Maak seker jy mis dit nie en bespreek vroegtydig.