Funksies

Klein Karoo Klassique: 2 Grammy-benoemde SA kunstenaars tree op

Verskeie top plaaslike en internasionale klassieke musici kom bymekaar op Oudtshoorn. Vier van hierdie kunstenaars sluit die Grammy-genomineerde klavierduo, Two Pianists, Luis Magalhães en Nina Schumann, violis Frank Stadler van Oostenryk, asook die Suid-Afrikaans gebore Gareth Lubbe, wat tans die hoof altviolis van die Gewandhaus-orkes is en in Leipzig, Duitsland woon.  

Die Two Pianists het ook verlede jaar tydens die Klein Karoo Klassique opgetree. Schumann beskryf hul 2009 ervaring as uitsonderlik. “Wat ons verras het, was die nuwe manier waarop klassieke musiek met kos, wyn en kuns gekombineer was. Die hele dorp is byeengebring deur die fees en dit is baie uniek. Ons is mal daaroor dat daar mense is wat die fees die hele dag bywoon en nie slegs ‘n konsert bywoon nie, maar ook middagete geniet of elders gaan waar iets anders aan die gang is.”

Feesgangers sal die geleentheid hê om Stadler en Lubbe te ontmoet as deel van ‘n gratis gesprekreeks. In conversation with Gareth Lubbe vind plaas op die 1 Oktober vanaf 13:00 by die Turnberry Lodge & Tavern en In conversation with Frank Stadler vind plaas op die 2 Oktober vanaf 13:00 in dieselfde venue.

‘n Wye verskeidenheid kos en wyn aanbiedings word ook tydens Klein Karoo Klassique aangebied. Dit sluit ‘n Griekse en Italiaanse buffet, ‘n Klassique High Tea, verskeie Klassique Senses wyn-werkswinkels en die Orchard Fine Foods mark in. Laasgenoemde sal op Vrydagaand, 1 Oktober, sorg vir ‘n betowerende kos en wyn ervaring. Op Saterdag, 2 Oktober, bied die oggendmark ‘n verskeidenheid van vars produkte, kuns en veel meer. Dit beloof om ‘n heerlike uitstappie vir die hele gesin te wees. 

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.computicket.com, asook by Shoprite/Checkers tot en met Dinsdag, 28 September om 17:00. Daarna sal kaartjies by die deure te koop wees. Vir meer inligting, asook die volle program, besoek die webblad van Klein Karoo Klassique by www.klassique.co.za of skakel die feeskantoor by 044 203 8600.