Funksies

KOEL KLANKE BY NEDERBURG SE SONSAK-PIEKNIEKKONSERT

Vanaf 15:00 kan gaste hul plek op die sagte grasperk voor die historiese opstal uitsoek en op Nederburg se geil wingerde en die omringende berge uitkyk. Voeg ’n glas wyn by, loer in die spesiaal voorbereide piekniekmandjie en luister na passende melodieë deur CODA, die gewilde Afro-jazz-groep, die briljante tenoor James Bhemgee, wat SABC2 se werklikheidsreeks SA’s Got Talent in 2010 gewen het, en die talentvolle kabaretkunstenaar Niël Rademan. Die musiekoptredes begin om 17:00. Die kaartjies, teen R100 elk, sluit ’n bottel wyn uit Nederburg se befaamde Winemaster’s Reserve-reeks vir twee mense in. Kinders jonger as 12 hoef nie toegang te betaal nie. Gaste kan hul eie piekniekmandjies saambring, of ’n heerlike Nederburg-piekniekmandjie bespreek en by die ingang afhaal. Die piekniekmandjies kos R100 per persoon, en daar is ook ’n vegetariese keuse. Piekniekmandjies vir kinders kos R50. Gaste word vriendelik versoek om nie hul eie alkoholiese drank saam te bring nie. Nederburg wyn, koffie, tee en nie-alkoholiese drankies word op die perseel verkoop. Gaste word aangeraai om hul eie glase, komberse en stoele saam te bring. Kom vroeg om die verhoog die beste te sien. Bespreek ’n piekniekmandjie asseblief vier dae vooruit en/of bespreek die konsertkaartjies deur Jean-Mari Marais van Nederburg tydens kantoorure by (021) 862-3104 of nedwines@distell.co.za te skakel. Daar sal ook kaartjies by die konsert te koop wees. Nederburg bied die hele jaar deur kelder- en museumtoere, wynproe en verskeie wyn-en-kos-afparings. Gaste kan op die dag van die konsert tussen 10:00 en 16:00 by die Besoekersentrum inloer en Nederburg se bekroonde wyn proe. Dit kos tussen R20 en R45 per persoon om die wyn te proe.