Funksies

Les Sharpe beeldhouwerk in Stellenbosch

Beeldhouwerk deur die bekroonde en bekende kommersiële en reklame regisseur: Les Sharpe het aan die Croydon School of Art and Design in London studeer, waarna hy vir al die toonaangewende reklame agentskappe in Suid-Afrika gewerk het, en in 1999 na Australië verhuis het. Sy werk omvat van die mees ikoniese en blywende TV advertensies, soos SASOL (klein seuntjie), IBM (olifante) en MNet (singende diere). Hy het ook verskeie internasionale toekennings ontvang, mees onlnags ‘n Lion D’Or in Cannes en Ad of the Year vir die Australian Milk Board. Les se beeldhouwerk is ondubbelsinnig van Afrika, en hy het Stellenbosch gekies as die plek vir sy werk as beeldhouer om sodoende gebruik te kan maak van die hoë kwaliteit gieterye in die omgewing. Hy besit ‘n liefde en empatie vir die dierelewe van Afrika, wat terugstrek na sy kinderjare op ‘n plaas en besoeke aan die Kruger Wildtuin, Caprivi en Botswana. Met verloop van tyd het hy in ‘n entoesiastiese fotograaf van wilde diere ontwikkel, en ‘n groot versameling fotografie opgebou wat nou as inspirasie vir sy beeldhouwerk dien. Hy vermy die statiese en dekoratiewe, en verkies ‘n narratiewe en dramatiese benadering, waarin elke werk soos ‘n enkele fotografiese raam ‘n dramatiese oomblik in die natuur vasvang, en in brons verewig. Hy gee dit verdere betekenis in die wyse waarop hy die oppervlak definieer deur die klei met krapwerk , skrape en vingerhale te bewerk en die beeld ‘n dramatise kwaliteit deur die spel van lig en donker te gee, soos ‘n mens byvoorbeeld kan sien in “Fleeing Impala”. Die uitstalling duur van 15 tot 29 Mei 2013. Vir verdere inligting kontak Carla Schnetler, 021 – 887 3385 of gallery@slee.co.za, by die Slee Galery, Dorpstraat 101, Stellenbosch. Die opening is Wo-aand, 15 Mei @ 18:30.