Funksies

NG Gemeente Grabouw Basaar

Oud en jonk kan uitsien na ‘n bielie van ‘n buitelug familiefees met meer vermaak en speletjies vir die kleinspan en ‘n groter plaasstal om in rond te snuffel vir heerlike tuisgebak en eiesoortige snuisterye. Pa en Ma kan lekker saam met vriende in die kuiertent kom voete uitskop waar musiekvermaak deur die Stoepsitters ‘n gesellige dag sal volmaak, terwyl die kroos besig gehou sal word met verskeie aktiwiteite wat wissel van ‘experi-buddie’ en gesigverf tot skyfskiet en ‘singstar’. Al rondom die tent sal besoekers kan kies en keur uit ‘n watertand-keurspel van kosstalletjies. Aanloklikhede op die dag sluit in ‘n vars vleistafel, wynproe, ‘n teetuin, liplekker gebraaide hoender-etes om daar en dan te geniet of huis toe te neem asook watertand afval potjies wat die smullus sal sus. Die reuk van ou gunstelinge insluitende slaptjips, basaarpoeding, pannekoek, warmbrakke en hamburgers sal ook in die lug hang. WEN WEN WEN – Die NG Kerk Grabouw nooi vanjaar weer almal binne en buite sy gemeente uit om te deel in die genot van hierdie feesdag deur middel van hul gawe om te gee – hetsy dit produk- en kosskenkings of finansiele bydraes is. Inruil vir jou bydraes staan jy die kans om groot pryse op die dag van die basaar te wen. Die NG Gemeente Grabouw Basaar vind vanjaar weer op die kerkterrein plaas en verkope sal vanaf 9vm tot laatmiddag plaasvind. Maak seker jy kom vroeg! Toegang is gratis. Vir meer navrae oor die basaar of indien jy jou gawes, donasies of hulp wil verleen skakel vir Antoinette Lötter by 082 879 9224 of stuur ‘n epos aan antoinettel@vodamail.co.za.