Funksies

PLUK APPELKOSE BY DE KRANS

Besoekers aan De Krans, alreeds bekend vir sy hanepootpluk wat elke jaar in Februarie en Maart plaasvind, sal van 23 November tot 7 Desember elke dag, behalwe Sondae, appelkose kan pluk tussen 08:00 en 16:00. Die appelkose kos R3.90/kg en besoekers is welkom om hul eie houers te bring. Houers kan ook teen ‘n nominale bedrag by De Krans gekoop word. Die Vygieshof Tehuis vir Bejaardes sal, as deel van hul jaarlikse geldinsamelingsprojekte, ‘n heerlike braai aanbied op 23, 26 en 30 November en weer op 3 en 7 Desember by De Krans. Aangesien hul etes baie gewild is, moet besoekers vroegtydig bespreek om teleurstelling te voorkom. Hierbenewens stel ‘n besoek aan De Krans, wenner van die 2010 Peter Schulz port-uitdaging met hul Cape Tawny Port, besoekers in staat om hul wye reeks wyne en ports te proe. Probeer gerus De Krans se Pink Port (die eerste van sy soort in Suid-Afrika), asook De Krans se Cape Vintage Reserve Port 2008, wat onlangs saam met die Cape Tawny Port aangewys is as twee van die Top 100 wyne in Suid-Afrika.