Funksies

Reuben’s by The Robertson Small Hotel vuur en vlam vir Braaidag

Hierdie smeulend gesofistikeerde ‘braai boot camp’ in die hart van die Breederiviervallei bied aan karnivore sowel as vegetariërs ‘n geleentheid om vroegtydig te leer hoe om met smáák op 24 September, eer te bring aan Nasionale Erfenisdag en sy bykomstige Nasionale Braaidag. Een van die land se gewildste glanssjefs, Reuben Riffel, staan slaggereed om sy witwarm braai-geheime met gaste te deel en die smullus te sus met van sy eiesoortige braaigeregte en bykosse, direk vanaf die kole en gasbraaier. Gedurende hierdie watertand, interaktiewe kookdemonstrasies sal breëbors belangstellendes ook die geleentheid gegun word om die perfekte filet op te dis in ‘n kulinêre poging om as dié ‘Tangmeester’ van die dag gekroon te word. “Maak nie saak watter ras, klas, taal en geloof…ons almal deel een gemeenskaplike erfenis oftewel tydverdryf – die braai – wat amper soos ‘n altaar geword het waarom Suid-Afrikaners bymekaar kom om hulle kulturele verskille uit die kole te krap en te vier. En min dinge oortref die sappige, geroosterde en gekaramaliseerde geure en smake wat so eie is aan ‘n egte braai-ete,” gesels ‘n vuur en vlam Reuben. Die tjoppie-aflek-lekker Grills Gone Wild braaifees sluit in ‘n 4-gang plattelandse middagete van seisoenale, kontemporêre koestergeregte, gemaak van unieke produkte vanaf die area. Dink vuur-geroosterde neute en ‘n verskeidenheid kase, vergesel met ‘n groetglas plaaslik gebroude bier met aankoms, gevolg deur ‘n al fresco fees wat tussendeur die kookdemonstrasies voorgesit sal word. Liplekker braai-sensasies sluit in geroosterde garnale; eietydse roosterkoek met ‘n verskil; bielie braaislaaie; Springbok filet, en heuning-geroosterde vrugte om die dag op ‘n soet noot af te sluit. Gaste sal ook die geregte kan paar met ‘n keurspel wyne vanuit die Robertson-wyndistrik en sal deur sommelier, Susan Cashin, gelei word om hulle eie smaakvoorkeure te ontdek en te verstaan. “Gedurende die Grills Gone Wild makietie sal kos- en wynliefhebbers leer hoe om die kos-en-wynparings te kies wat die beste vir hulle eie palet pas en so ook hulle eetervaring na hoër hoogtes neem,” verduidelik Susan. Sy is oorspronlik van Austin, Texas, maar besit al sedert 2001 ‘n kleinhoewe buite Robertson en het in 2009 finaal na Suid-Afrika verhuis en haar ‘barbecue’ dae vir ‘n trots Suid-Afrikaanse braai verruil. Die eksklusiewe Reuben’s by The Robertson Small Hotel Grills Gone Wild extravaganza begin 12h00 en kos R450 per persoon en sluit al die kos en wyn op die dag in. Sitplek is beperk en voorafbesprekings is noodsaaklik. Die Robertson Small Hotel moedig ook belangstellendes aan om hulle Breederivier-kuier te verleng met spesiale verblyfsaanbiedinge gedurende die naweek van die Grills Gone Wild gebeurtenis. Dit wissel vanaf R1200 per persoon vir die braaifees gevolg deur ‘n salige oornag in dié bekroonde hotel, of jy kan die gejaag van die stadslewe verruil vir ‘n luukse tweenag-wegbreek wat teen R1800 per persoon ook ontbyt en ‘n sitplek by die Grills Gone Wild tafel insluit. Om jou Reuben’s by The Robertson Small Hotel Grills Gone Wild kaartjie te bespreek of vir meer inligting oor die hotel se verskillende verblyfsaanbiedinge, skakel The Robertson Small Hotel by Tel: (+27)23 626 7200 of rig ‘n epos aan reservations@therobertsonsmallhotel.com. The Robertson Small Hotel is geleë by 58 Van Reenenstraat, Robertson, Wes-Kaap.