Funksies

Robertson Small hunker terug na die verlede met nostalgiese kosreis

Kom verloor jouself in die verlede en verlustigings van Robertson wanneer The Robertson Small Hotel – ‘n vyfster toevlug waar ouwêreldse elegansie, kontemporêre sjiek ontmoet – hulde bring aan die goeie ou dae van die poskaart-mooi Breederiviervallei tydens ‘n Remembrance of Things Past Aandete op Saterdag, 10 Augustus. Dié bekroonde boetiekhotel verleen nostalgiese sjarme aan die 2013 Robertson Slow Fees – wat plaasvind vanaf 9-11 Augustus – en sal die sintuie koester met ‘n kulinêrereis terug in tyd, om toeka se glorie dae van volstruis-paleise, volbloed stoetplase en wynplase te herleef. “Ons nooi kos- en wynliefhebbers om ‘n luilekker fees van onthou-nog ‘classics’ van vervloeë dae te kom geniet, terwyl ons die toekoms van ons pragtige vallei ontdek met smake vanuit gister tot nou. Jou smaakprikkels sal reis na ‘n verlore era wat nou weer met smaak seeviër,” gesels sjef Tiaan van Greunen wat die potte en panne slaan in die hotel se gewilde restaurant, Reuben’s at The Robertson Small. Geïnspireer deur tydlose resepte van ouma en tannies, sal Tiaan smaakvol sy eie stempel aan tydloses treffers verleen met ‘n heilsame vyfgang spyskaart wat die verlede in fynproewerstyl vier. Dink aan geurige Suikerboontjie Sop met plaasvars brood; Biltong Parfait; Volstruis-pastei met pruimsous, en ‘n trio tradisionele nageregte uit ma se kombuis – alles verlekker en voorgestit in ‘n meer moderne baadjie. Met wyn wat so ‘n integrale deel in die daaglikse bestaan van die Robertson-wynvallei speel, sal elk van die vyf disse ook perfek gepaar word met ‘n bypassende keldertrots vanuit die streek. Eksklusiewe aanbod vir hotelgaste: Diegene wat gedurende die naweek van die Robertson Slow Fees hulle koppe by die luukse Robertson Small sal neerlê sal ook trakteer word op ‘n komplimentêre Skemerkelkie Soiree op die Vrydagaand, 9 Augustus. “Hierdie intieme wynproe bied aan gaste die geleentheid om hul eie ‘Vino-tipe’ te ontdek en hoekom hul juis van ‘n spesifieke styl wyn hou. Hierdie pretbelaaide, interaktiewe geleentheid is ‘n moet vir diegene wat die wyne van die vallei van nader wil leer ken en dit bied beslis ‘n goeie rede om die Robertson Slow naweek met smaak af te skop,” verduidelik sommelier Susan Cashin, wie die gaste aan ‘n besonderse keurspel Robertson wyne tydens die aand sal bekendstel. The Robertson Small Hotel, wat sy oorsprong in ‘n grasieuse 1909 Viktoriaanse herehuis vind, het by die gesogte 2012 World Luxury Hotel Toekennings koning gekraai toe dit vir die tweede agtereenvolgende jaar die titel as die Beste Luukse Plattelandse Hotel in Suid-Afrika gewen het. Met 10 ruim en luukse en-suite kamers, ‘n glansrestaurant – Reuben’s at The Robertson Small Hotel – voelgoed spa-behandelings in die ‘Wellness Room’, ‘n immergroen tuin, en verfrissende swembaddens, is die stemmige elegansie van hierdie boetiekhotel verfrissend uniek. Die 5-gang Remembrance of Things Past Aandete kos R380 per persoon wat ‘n glas bypassende landgoedwyn per gang insluit. Bespreking is uiters noodsaaklik. Om jou tafel te bespreek of vir meer inligting oor The Robertson Small Hotel en sy akkommodasie aanbiedinge besoek www.therobertsonsmallhotel.com; skakel Tel: (+27)23 626 7200 of stuur ‘n epos na reservations@therobertsonsmallhotel.com. The Robertson Small Hotel is geleë by 58 Van Reenenstraat, Robertson, Wes-Kaap.