Funksies

SNUFFEL SAAM MET DELHEIM LANDGOED VIR SAMPIOENE

Entoesiaste kan by die Sperling-familie aansluit vir ‘n betowerende tog deur die dennewoud op die plaas, op soek na hierdie seisoenale aards-lekkernye onder die wakened oog van Nora Sperling-Thiel en Gary Goldman aka “The Mushroom Hunter’ – ‘n sampioenkenner met ‘n skerp oog wat ‘n gekamoefleerde porcini sommer in ‘n japtrap kan uitwys. “Oor die afgelope jare het die self-soek na wilde sampioene ietwat van ‘n familie passie geword. Dit gaan alles oor die geheimsinnigheid en opwinding van die seisoen, die perfekte tydsberekening, die soektog, en dan die kersie op die koek…om ‘n watertand maaltyd te berei met iets wat jy self sopas in die natuur uitgesnuffel het. As ‘n wynmaakfamilie lewe ons naby aan die natuur en buitendien is sampioene ook propvol goeie dinge soos kalium, vitamine D en antioksidante,” gesels Nora, dogter van Delheim se eienaar, Spatz Sperling – ‘n legendariese Kaapse wynpioenier en mede-stigter van die Stellenbosch Wynroetes meer as 40 jaar gelede. Nadat hulle ‘n heerlike aptyt in die woud opgewerk het, sal die snuffelaars hulle hul pad vind na Delheim se Vatkelder vir ‘n voortreflike buffet-middagete van die lekkerste wilde – en eksotiese sampioengeregte, wat geniet sal word met ‘n keurspel van Delheim se jongste oesjare en kelderskatte. Jy sal vinnig moet spring want daar is slegs vir ‘n beperkte aantal geesdriftiges plek. Kaartjies vir die Delheim Wilde Sampioen Snuffel-Soektog (op 17 & 18 Junie) kos R250 per persoon, wat ‘n kort kursus oor sampioen-identifisering – ‘n belangrike inleiding om vergiftiging te voorkom en die moets en moenies van wilde sampioene te leer – sowel as die luilekker kelder-ete insluit (drankies uitgesluit). Die sampioen-soektog skop 10.30vm af en voorafbesprekings is noodsaaklik. Om jou plek vir hierdie opwindende ervaring te bespreek skakel Delheim by Tel. 021 888 4607; stuur ‘n epos na restaurant@delheim.com, of besoek www.delheim.com. Amper vier dekades gelede was Delheim die eerste wynlandgoed in die land wat ook kos aan sy gaste begin bied het, en vandag is sy familie-vriendelike Garden Restaurant met sy idilliese ligging, nog steeds ‘n gewilde wynlandbestemming en word dit gelief vir sy huislike atmosfeer en lekker koesterkos. Diegene wat op die sampioen-soektogte gaan uitmis kan nog steeds ‘n heerlike verskeidenheid van wilde sampioengeregte in die restaurant geniet gedurende Delheim se Sampioen Week wat vanaf 17 tot 23 Junie plaasvind.