Funksies

Stellenbosch Straat Soirees

Gedurende die sosiale Stellenbosch Straat Soirees – wat aangebied word deur die Stellenbosch American Express® Wynroetes en Stellenbosch 360 – word die onderste gedeelte van Kerkstraat in ‘n kleurvolle en geurvolle kos-en-wyn rendezvous omskep, waar vreemdes vriende raak en luilekker uitspan op die sypaadjies. Gratis wynproeë word aangebied deur verskeie wynplase op Suid-Afrika se vernaamste wynroete terwyl deelnemende restaurante in en om Stellenbosch, liplekker etes daar in die straat verkoop. Plaaslike musiekvermaak kry jou ook in die regte stemming na ‘n lang dag op kantoor. “Die uitleg en leefstyl van ons pragtige dorp maak sulke buitelug bymekaarkomste moontlik en ons straatkuiers bied die ideale toevlug om na werk saam met ons, loslit te kom ontspan en die wonderlike Wynland-atmosfeer en siel van Stellenbosch in al sy glorie oor ‘n happie en ‘n glasie van die beste te kom ervaar,” gesels Elmarie Rabe, geleentheidskoordineerder van die wynroete. “Stellenbosch was nog altyd die groot kokkedoor as dit kom by gehalte wyn, maar ons het ook onlangs die bordjies verhang en staan ook nou bekend as die ‘Gastronomiese Hoofstad’ van Suid-Afrika soos bevestig by die onlangse 2012 Eat Out toekennings. Vier van die Top Tien restaurante kom uit ons geweste!” voeg Elmarie by. Elke Stellenbosch Straat Soiree bied ‘n verskillende keurspel van kelders en kokke wat smaak aan die aand verleen en toegang is gratis. Dit duur vanaf 17h00 tot 19h30 en vir ‘n skamele R20 deposito kry jy ‘n wynglas en geleentheid om na hartelus al die wyne te proe. Maak seker jy skryf die volgende straatkuier-datums in jou 2013 dagboek: 16 Januarie; 25 Januarie tot 3 Februarie (Stellenbosch Wynfees); 13 & 27 Februarie, en 13 & 27 Maart. Vir meer inligting oor die Stellenbosch Straat Soirees skakel Tel: 021 886 8275/021 886 4310 of besoek www.wineroute.co.za. Gaan loer ook op ‘Stellenbosch Street Soirees’ se Facebook bladsy.