boy_and_girl_tasting_wine
Funksies

Taste of Helderberg 2013

Dit is dan wanneer die NH Lord Charles Hotel in Somerset-Wes getransformeer sal word in ‘n Helderberg smul-spil waar gaste meer as 100 plaaslike wyne en glansgeregte van sewe uitnemende restaurante wat al langs die Helderberg Wynroete smaak verleen, kan geniet – en dit alles onder een dak. Hierdie roemryke wynarea – ‘n tuiste vir van die oudste wynplase in Suid-Afrika – is een van die vyf sub-roetes van die Stellenbosch Wynroetes. Die meer as 40 wynprodusente op die roete het elk hul eie unieke manier van wynmaak, en die wyne se gehalte trek voordeel uit die streek se idilliese ligging naby die kus. Taste of Helderberg is ‘n eksklusiewe ervaring van die jongste smake en suksesse van die Helderberg Wynlande en vanjaar sal gaste kan kuier in die gesellige samesyn van ten minste 25 wynprodusente wat wissel van eertydes, tradisionele staatmakers tot ultra-sjiek kelders; gewilde familieplase tot eko-vriendelike baanbrekers. Wyne wat gedurende die aan die kollig sal steel, sluit in dies van Bordeaux-styl spesialis Morgenster, Avontuur Landgoed; Chenin koning Ken Forrester Wingerde, rooiwyn en port kenner JP Bredell Wyne; die gesogte boetiekstyl wyne van Longridge Landgoed en die elegant kelderskatte van Waterkloof, die ‘kelder in die wolke’, hooggeleë teen die hange van die Schapenberg waar hul ‘n bio-dinamiese toenadering tot wynmaak koester. Kosliefhebbers sal beslis ook nie buite in die koue gelos word nie, want sjefs van sewe deelnemende restaurante sal ook gedurende die aand smul-porsies van hulle eie unieke geregte te koop aanbied. Vanjaar se liplekker restaurante sluit onder andere Longride Restaurant, Avontuur en 96 Winery Road in. Sedert sy onstaan in 2009, het Taste of Helderberg aansienlik in gewildheid gegroei en met verlede jaar se skou het besoekers in die 100de opgedaag ten spyte van onplesierige, nat en koue wintersweer. “Al is dit grys en mislik daar buite, waarborg Taste of the Helderberg 2013 ‘n warm, koester-bederf van die fynere dinge in die lewe. Wat meer het jy dan nodig as gehalte wyn, kos en geselskap om die hart warm te laat klop! Ons beperk wel die toegang tot 500 gaste siende ons die skou intiem wil hou sodat almal gemaklik met mekaar kan sosialiseer sonder om benoud en beknop te voel,” gesels Annareth Bolton, Hoofbestuurder van die Stellenbosch American Express ® Wynroetes. Die deure sal oop wees vanaf 17h00 tot 21h00 en kaartjies kos R70 per persoon, wat ‘n elegante proeglas en gratis wynproeë insluit. Die wyne sal ook gedurende die skou te koop wees. Gedurende dié lekker Helderberg kuier kan gaste ook gaan asem skep in verskeie ontspanningsareas of gebruik maak van die hotel se restaurant vir aandete. Voorafbesprekings vir die restaurant is noodsaaklik om teleurstelling te voorkom. Skakel 021 855 1040 om jou tafel te bespreek. Vir meer inligting oor Taste of Helderberg 2013 en om jou kaartjies te bespreek skakel Bjorn van Oort by bjorn@cvomarketing.co.za of 021 981 0216. Kaartjies sal ook by die deur beskikbaar wees. Ter ondersteuning van verantwoordelike alkoholgebruik sal die NH Lord Charles ook ‘n spesiale akkommodasietarief op die aand aanbied. Skakel gerus die hotel by 021 855 1040 vir ‘n kwotasie en gee: Taste of Helderberg akkommodasie as verwysing.