interior_shot_of_reuben_s_at_trsh_1_lr
Funksies

The Robertson Small Hotel vier Cupido koors in Februarie

Op Valentynsdag sal diegene wat aan Cupido koors lei by die hotel se romantiese tuin kan aansit vir ‘n sensoriese vyfgang Kos & Wyn liefdesmaal met geregte en bypassende drankies wat se geure en kleure smeul van liefde, passie en romanse. Paartjies en groepe vriende sal by hulle eie private tafel, knus weggeesteek in die tuin, ‘n heerlike kersligete onder die sterre kan geniet, en net soos die liefde ook maar onvoorspelbaar kan wees sal hierdie aand ook ‘n paar verrassings oplewer. “Shakespeare het mos gepas verklaar ‘If music be the food of love, play on’, so buiten die heerlike kos en wyn sal die gaste se sintuie ook op ‘n romantiese ontvlugtingsreis geneem word tydens ‘n eksklusiewe dansvertoning,” gesels Uitvoerende Sjef Tiaan van Greunen. Sy spesiale interaktiewe nagereg beloof om daardie liefdesvlam weer opnuut te laat flikker en die aand op ‘n dekadente hoë noot af te sluit. Indien aandete eenvoudig nie genoeg is om jou liefde vir daardie spesiale persoon te verklaar nie moet jy sommer ‘n aand of twee by The Robertson Small Hotel gaan oorbly in een van sy 10 ruim en-suite kamers. Dié prag toevlug bied aan al sy hotelgaste gedurende Februariemaand ekstra Valentynsbederfies gedurende hulle verblyf, wat insluit ‘n gratis bottel wyn vir jou tafel indien jy by die hotel se glansrestaurant – Reuben’s at The Robertson Small Hotel – gaan eet; ‘n spesiale geskenkie in jou kamer, asook ‘n R100 afslagkoepon indien jy een van die ontpannende spa behandelings (ter waarde van R300 of meer) by die hotel se Wellness Room geniet. The Robertson Small Hotel, wat sy oorsprong in ‘n grasieuse 1909 Viktoriaanse herehuis vind, het by die gesogte 2012 World Luxury Hotel Toekennings koning gekraai toe dit vir die tweede agtereenvolgende jaar die titel as die Beste Luukse Plattelandse Hotel in Suid-Afrika gewen het. Die ‘Midsummer’s Night Dream’ Valentynsete by The Robertson Small kos R240 per persoon en sluit die wyn/drankies wat met elke gang gepaar gaan word in. Cupido sal om 19h00 gereed staan met sy boog en besprekings is uiters noodsaaklik siende sitplek beperk is. Om ‘n tafel of ‘n kamer te bespreek skakel The Robertson Small Hotel by Tel: (+27)23 626 7200 of stuur ‘n epos na reservations@therobertsonsmallhotel.com. The Robertson Small Hotel is geleë by 58 Van Reenenstraat, Robertson, Wes-Kaap.