Funksies

VROU TOT VROU MET SJOKOLADE BY VAN RYN’S IN AUGUSTUS

Elke Donderdag in Augustus sal Marlene Bester, die distilleerdery se bestuurder en wynbiotegnoloog, gaste vergesel op ʼn toer om 11:30 van die aanleg en hulle die unieke koper-potketels wys wat vandag nog gebruik word, asook die verouderingskelder en hulle ’n demonstrasie laat bywoon van ’n kuiper wat ’n Franse eikehoutvat aanmekaar sit. Sy sal ook proeë aanbied waartydens gaste die bekroonde brandewyne in die Van Ryn’s Collection Reserve-reeks met òf handgemaakte sjokolade òf Florentynse-beskuitjies kan proe. Van Ryn’s het die bekende Kaapse chocolatier Richard von Geusau gevra om sjokolades te maak wat by die brandewyne in die reeks pas. Die 12-jaar-oue brandewyn word gepaar met ’n cappuccino-sjokolade, die 15-jaar-oud met ’n kaneel- en lemoensjokolade en die 20-jaar-oud met ’n Franse sjokolade wat 70% kakao bevat. Die Florentynse beskuitjies, wat uitsluitlik vir die vyfster-distilleerdery gebak word, bevat wit of donker sjokolade en is bespikkel met neute en verskillende droëvrugte om die geure van die brandewyne te weerspieël. Dit kos slegs R90 per persoon om die toer mee te maak en een proe-opsie te ervaar. Voorafbespreking is noodsaaklik en kan gedoen word by 021 881 3875 of info@vanryns.co.za. Vir meer inligting oor Van Ryn’s, besoek www.vanryns.co.za of www.facebook.com/vanryns.