sr1202_my_kind_2_
BEWEEG SA

BEWEEG SA: Kry jou kind van die rusbank af

ons jeug…
… was 5de op die wêreld se vet-ranglys wat in 2009 by die Suiker-en- gesondheidsimposium in      Oos-Londen bekend gemaak is

… bestee sowat 30% van hul tyd voor die TV en rekenaar

… Meer as 40% van ons jeug neem nie gereeld aan enige energieke fisieke aktiwiteite deel nie

… Sowat 6% van ouers ontken hul kinders is vet

In graad een was hy die outjie wat gespot is omdat hy nie ’n bal kon raakvang nie – en dan droewig begin huil het. Hy het met grootmotoriese vaardighede gesukkel, wat onder meer dinge soos skop en vang beïnvloed. Maar teen die tyd dat hy in graad 7 was, was hy ’n uitblinker in sport en hoofseun van ’n skool met 1 000 leerders.

Vir Pasella se Dieter Voigt was die draaipunt in graad 4 – en sport was sy wegspringblok. Vandag moedig dié rolmodel kinders aan om te beweeg.

“Ek sou nie ’n kwart van die sukses in my lewe behaal het as dit nie vir sport was nie – dit het my ongelooflike lewensvaardighede geleer,” sê Dieter, ’n voormalige Mnr. SA en een van ons BeweegSA-ambassadeurs. Sy tweede motiveringsboek vir jongmense het beweeg as tema en verskyn binnekort.

’n Onderwyseres het hom destyds aangemoedig om harder aan sy grootmotoriese probleme te werk. En terwyl hy met rugby geworstel het, het ’n ander onderwyser hom raakgesien en begin help. “Baie mense sê balvaardigheid is iets waarmee jy gebore word. Ek moes baie hard daaraan werk. My pa vertel hy het nog nooit iemand so hard sien oefen nie. Maar ek het deurgedruk.”

Dieter het op laerskool rugby en krieket vir die A-span en op hoërskool rugby vir die eerste span gespeel. As student aan die destydse Onderwyskollege Boland (OKB) op Wellington was hy Sportman van die Jaar en rugby- en hokkie-kaptein. Hy het ook aan die SA studente- atletiekbyeenkoms deelgeneem.

“Ek was vyf jaar lank ’n L.O.*- onderwyser, want ek wou my passie met kinders deel. Wanneer oefening eers ’n dissipline raak, voel dit só goed en maak dit soveel sin. Ek ervaar die voordele daarvan daagliks.”
En dis juis die kweek van gesonde oefengewoontes by kinders wat regerings, skole en ouers wêreldwyd kwel. Want vetsug onder kinders is ’n yslike probleem. Kongresse word daaroor gehou en boeke geskryf. En ons land is een waar vetsug die vinnigste toeneem. (Sien syfers bo.)

Tog neem mense steeds dié mediese toestand ligtelik op, sê prof. Hans de Ridder, direkteur van die skool vir biokinetika, rekreasie en sportwetenskap aan die Noordwes- Universiteit se Potchefstroom-kampus. Hy noem dit ’n “mediese tydbom” en waarsku dat ons ’n “siek generasie kweek”. Kinders so jonk soos twaalf gebruik medikasie vir leefstylsiektes soos diabetes en hoë bloeddruk.

MXit en TV
Oor die redes kan lank en breedvoerig uitgewei word. Kinders speel nie meer nie. Veiligheidsoorwegings veroorsaak dat hulle nie meer vryelik op fietse kan kerjakker en skool toe stap nie. Selfone, TV en rekenaars is hul gunsteling-maniere van ontspan (die sogenaamde “skermgenerasie”). Oorwerkte ouers misluk boonop om kinders gesonde oefen- en eetgewoontes te leer. En die gebrek aan balans in ons eie lewe spoel oor na ons kinders.

Die oplossing is veelvlakkig: Skole, ouers en die regering moet hande vat.

Ouers se rol
Hans sê jong kinders (tot en met graad 9) moet minstens ’n uur per dag speel en hardloop. ’n Liefde moet by hulle gekweek word vir skop, rol, vang, bollemakiesie slaan.

Fisieke ontwikkeling het ’n regstreekse invloed op hoe kinders op skool vorder, sê Adelita Botha, sportwetenskaplike en hoof van die Laerskool Rustenburg se departement menslike bewegingskunde. Dis noodsaaklik vir dinge soos liggaamskoördinasie, hand- oog- en voet-oog-koördinasie, ritme, tydsberekening, motoriese vaardighede, balans en spiertonus.

Wenk: Dieter meen jy moet die regte omgewing skep om jou kind aan die beweeg te kry. Daar moet meer dissipline en ’n vaste roetine vir huiswerk en oefening wees. TV-kyk en rekenaarspeletjies is nie ’n gegewe nie, maar die beloning vir goeie gedrag.

Jou kind kan rekenaarspeletjies speel én oefen. Maar soos met alles in die lewe, is balans belangrik. En jy as ouer moet daarvoor sorg. “Kinders funksioneer die beste binne reëls. Jy moet grense stel, hulle kan nie vrye teuels hê nie,” sê hy.

Skole se rol
Ook skole dra nie hul deel by nie. Die regering het in 1994 liggaamlike opvoeding (L.O.) as vak uit die skool- kurrikulum verwyder, maar in 2013 word dit weer amptelik deel daarvan. Tog het ons ’n lang pad om te loop, sê Hans. Die hoof se ingesteldheid bepaal hoeveel aandag L.O. kry. Boonop is daar ’n behoefte aan goed opgeleide onderwysers in kinder- kinetika. En by minder bevoorregte skole ook aan geriewe.

Volgens Hans sal L.O. op skool ’n kind nie noodwendig fiks maak nie. Dit kan egter ’n saadjie by hom plant en ’n gewoonte (selfs ’n liefde) vir oefening kweek. Hy leer hoe lekker dit is om ’n bal te skop en te gooi. “Daar is ’n gesegde: Onbekend maak onbemind,” sê hy.

Dieter meen skole maak ’n te groot ophef van kinders met sporttalent. “Dis húlle wat positiewe erkenning kry. Die outjie wat nie in sport uitblink nie, voel later hy is net goed genoeg om voor die TV te sit. Maar sport is nié net vir eerstespan-spelers nie.”

Volgens hom moet die positiewe uitwerking van sport op jou liggaam meer beklemtoon word. Eers sal die kind weerstand bied, maar as dit vir hom lekker en deel van sy leefstyl raak, gaan hy die voordele aan eie lyf ervaar.

Inderdaad, beaam Hans. Daar word nie genoeg klem gelê op sport en oefening vir goeie gesondheid, genot en sosiale interaksie nie. Kinders wat nie in sport presteer nie, wat die meerderheid is, moet ook betrokke raak by speel en oefen. Hy reken L.O. op skool is die belangrikste manier hoe dit gedoen kan word.

Die Laerskool Rustenburg het ’n stappie verder gegaan en in 2010 sy eie departement vir menslike bewegingskunde geskep. Dis onlangs as die beste in Noordwes aangewys en bestaan uit onder andere twee sportwetenskaplikes en ’n arbeidsterapeut. Daar is onder meer ’n aktiwiteitsbaan, klimmuur en swembad en boogskiet as sport.

Sowat 60% van ’n kind se fisieke ontwikkeling vind gedurende pouses plaas, sê Adelita. Verskeie soorte speletjies is daarom op die skoolterrein geverf. Van tradisionele bordspeletjies soos Slangetjies en Leertjies en Ludo, tot speletjies soos hopscotch en ’n groot veerpyltjiebord (gespeel met boontjiesakkies).

Almal se probleem

Volgens Hans moet die hele gemeenskap betrokke raak. In Amerika het die Iowa State University byvoorbeeld ’n skool “aangeneem” om fisieke aktiwiteite te bevorder. Die ouers kan in die skool-gimnasium oefen. En sommige weekdae kan hulle saam met hul kinders ’n gesonde ontbyt by die skool geniet.

Bekendes, soos Michelle Obama in Amerika, moet as rolmodelle optree, meen hy. Sy is ’n spreekbuis oor die voordele van oefening vir kinders. Sy praat op TV oor gesond eet en raak betrokke by sportdae. Dis nou maar eenmaal so dat jy kan praat tot jy blou is, maar dat jou kind sy ore sal spits as ’n bekende presies dieselfde ding sê.

Rolmodelle is belangrik, beaam Dieter. “Uiteindelik moet jou eie dryfkrag en motivering inskop, maar dit help as daar iemand is na wie jy kan opkyk. Ek kan daarvan getuig, ek het sulke onderwysers gehad.”

Snoepwinkels en kafkos

Onthou, oefening sonder gesond eet, is soos dans sonder musiek, sê Hans. Gemorskos (hoog in suiker, stysel en vet) is in die farmaseutiese maatskappy GlaxoSmithKline (GSK) se nasionale gesondheidsopname (2010) uitgesonder as dié grootste sondaar wat tot vetsug lei. Ma en Pa werk, Ma is moeg en gemorskos is ’n vinnige, maklike uitweg. Die opname wys ook die meeste ouers weet nie wat hul kinders deur die dag eet nie.

Wenk: Ma’s moet seker maak daar is gesonde kos in die huis. “Jou kind sal net tjips eet as hy toegang daartoe het,” sê Dieter.

Snoepwinkels by skole is ook ’n groot probleem. Net 18% hou melkdrankies en jogurt aan, wys ’n onlangse studie in die South African Journal of Clinical Nutrition. En die gewildste items is aartappelskyfies en vleispasteitjies. Dit kan slegs verander as ouers, skole en beheerliggame saamwerk, sê Hans.

Die Laerskool Westcott in Dieprivier, Kaapstad, is ’n voorbeeld van wat gedoen kán word. Hulle is onlangs deur Discovery se Vitality Wellness-program as die gesondste skool in die land aangewys. Die snoepie verkoop byvoorbeeld vars groente en vrugte en net op Vrydae lekkergoed, sê die hoof, mnr. John Robertson. ’n Groentetuintjie word deur die pre-primêre leerlinge onderhou. L.O. is nooit afgeskaf nie en almal word aangemoedig om aan sportdae deel te neem. Met hul R25 000 prysgeld wil hulle nou ’n oefenbaan om die sportveld oprig, waar die ouers ook kan litte losmaak.

Volgens Dieter is daar ’n groter bewussyn dat snoepwinkels moet aanpas. “Daar is niks verkeerd met peuselgoed nie, maar dit moet gesond wees. [Soos biltong en neute pleks van tjips en lekkers.] Dis noodsaaklik om jou bloedsuikervlakke stabiel te hou, wat ’n kind se konsentrasie verbeter en hiperaktiwiteit kan verminder.”

Aaron Motsoaledi, SA se minister van gesondheid, het gewaarsku dat die kitskosbedryf met wetgewing gereguleer kan word. Hans beskou dit egter nie as die oplossing nie. SA het van die beste wetgewing in die wêreld teen rook. Tog het ’n derde van kinders al gerook, wys die plaaslike Healthy Active Kids Report Card, 2010.

So leer ons elke dag, en leefstyl- aanpassings is nooit te laat nie.

*L.O. staan hier vir liggaamsopvoeding en nie lewensoriëntering nie.

BEWEEG SÁÁM MET JOU KINDERS

Jou voorbeeld is belangrik. Staan dus self van die rusbank af op en moedig jou kinders aan om saam met jou te beweeg, sê Adelita Botha van die Laerskool Rustenburg. Hier is ’n paar wenke.

* Speel saam met hom fisieke speletjies. Laat hom perdjie ry op jou rug, of slaan ’n paar tennisballe.

* Blaas ’n ballon op en kyk hoe lank julle dit in die lug kan hou.

* Kry ’n hoepel en dink kreatiewe speletjies uit wat hy daarmee kan speel. Dit kan byvoorbeeld ’n “kragveld” wees en hy moet daardeur klim sonder om aan die kante te raak.

* Maak reëls oor “TV-skerm-tyd”. Byvoorbeeld: As die son skyn, speel hy buite, of hy speel ’n uur buite vir elke halfuur wat hy voor die TV sit. Laat jou kind/gesin op ’n Pilates-bal sit en TV kyk (of huiswerk doen). Dit is ’n uitstekende stabiliteitsoefening wat help met die ontwikkeling van spiertonus en kernstabiliteit, liggaamshouding en balans.

* Moedig hom aan om boom te klim, eerder as om met vrees te reageer en hom met ’n gil of twee uit die boom uit te jaag. Moedig hom aan om kaalvoet te loop. (Hans sê laerskoolkinders moet in die somer sonder skoene skool toe gaan. Hul voete kry só kans om natuurlik te ontwikkel.)

* Koop vir hom ’n goedkoop plastiekbal en speel saam daarmee. Skop dit met die verkeerde voet, stamp dit met jou kop – hy sal dit geniet.

* Leer hom sportdeelname gaan nie oor wen nie, maar om jou liggaam sterk en gesond te hou.

* Moenie hom vir goeie gedrag beloon deur hom te laat TV kyk nie, bring liewer tyd saam met hom deur.