BEWEEG SA

BeweegSA: Dieet net 2 dae van die week

Jy voel soos ’n opgestopte worsie en die vrolike feestyd is boonop om die draai. En dan gaan jy éérs eet, nè? Want dis nou maar eenmaal deel van ons kultuur om dié tyd van die jaar met mening te vier.Met lekker kos, gebak en ’n glasie wyn!

Dis nou dat jy jou beursie skud vir een of ander wondermiddel op die winkelrak. Of uit desperaatheid ’n kitsdieet beproef. Al weet jy diep in jou hart dit gaan nie eintlik jou gewigsprobleem oplos nie.

Maar die blote gedagte hoe jy ná al die eet en jol gaan lyk, maak jou by voorbaat kortasem. Daar is hoop. ’n Goeie, beproefde, wyse “pleister”wat sal help dat jy nie die nuwe jaar binnerol nie.

Navorsers aan die Universiteit van Sheffield in Engeland het ’n interessante proefneming gedoen. Twee groepe mense is op dieet gesit. Die een groep het drie maande lank die gewone, “gesonde” dieet gevolg. Jy verloor ½ kilogram ’n week. Jy stoom jou groente. Jy tel jou porsies. Die maaskaas-en-kraakbeskuitjie-patroon wat ons almal maar te goed ken.

Die ander groep se dieet is só verander dat hulle net twee dae van elke week hul kJ moes tel. Die res van die week kon hulle “normaal” eet.

Die resultaat was verrassend. Die groep wat net 2 dae van die week dieet het, het meer gewig verloor as dié wat die gewone, “gesonde” roete gevolg het.

Jy kan nou inderdaad vra hoe dit moontlik is. Maar (en dit is ’n groot maar) wanneer jy reg te werk gaan, nie jou liggaam van noodsaaklike voedingstowwe ontneem wat hom aan “uithongering” herinner nie, en die balans vind tussen jou honger in toom hou en terselfdertyd jou metabolisme
meer skop gee, het jy ’n goue resep.

Ongelukkig is dit by die “regte” resep waar die knoop lê. Ek het ’n sterk geloof in die belangrikheid van voedingstowwe om jou metabolisme volstoom te laat werk, jou gesond en energiek en jou emosioneel op-en-top te laat te voel. Feit: Jy kan gesond en bietjie oorgewig wees – en maer en
baie ongesond!

Ek het dus die Sheffield-program ’n stap verder geneem en spesiaal vir SARIE-lesers aangepas – sodat dit gesond is en by ons Suid-Afrikaanse kosse en smake aanpas. Dit sal ook vir die meeste mense werk (behalwe as jou metabolisme so stadig soos ’n slak is en daadwerklik aandag moet kry). Dis selfs veilig vir mense met gesondheidskwessies soos hoë bloedsuiker en cholesterol.

Dié 2-Dag-Beter-Eet-reddingsboei is ook net die ding as jy dieet-voos is, maar tog nie handdoek wil ingooi nie. Of as jy ’n besige sosiale lewe het en nie altyd beheer het oor watter kosse voorgesit word nie. Dit kan jou dan help om die skade te beperk.

As jy reeds fluks aan’t dieet is met SARIE se BeweegSA-eetplanne, gebruik die 2-dagdieet om water te trap tydens die feestyd – sodat jy nie die kilogramme wat jy reeds verloor het weer optel nie. As jy nou eers wakker skrik, vergeet daarvan om ál die ekstra gewig nog voor Kersfees te wil afskud.

Daar is dalk ’n goeie rede waarom jy so met jou gewig sukkel.

[box:full:grey:both]

Die wortel van die kwaad

Die somervakansie is ’n klipgooi ver. En dis nou dat jy jou maklik laat verlei deur kitsdiëte en ander foefies wat belowe jy sal in ’n japtrap gewig verloor. Jy wil 5 kg verloor? Maklik. Gaan sit 2 uur lank in die sauna … en siedaar.

Maar die hardnekkige rolletjie om jou middel en kuiltjies op jou dye het nie ’n aks gewyk nie, al sê die skaal wat. Dis eenvoudig: Jy het nie vet verloor nie, net water. Of jy verloor gewig en tel dit binne ’n week weer op. Dis genoeg om jou moed te breek.

Elke mens is op haar eie patroontjie gesny. Daarom is dit te betwyfel of daardie kitskuur vir almal gaan werk. Dieselfde met die nuwe dieet wat nou op almal se lippe is.

Jy is ook nie noodwendig oorgewig omdat jy te veel eet nie. ’n Onderaktiewe skildklier, insulienweerstandigheid, hormoonwanbalans, diabetes, depressie, postpartum-moegheid en selfs
chroniese stres is maar ’n paar dinge wat jou gewig kan laat aansit. En dit bitter moeilik maak om gewig te verloor.

Tensy die oorsaak van die probleem uit die weg geruim word, gaan jou gewig ’n probleem bly. As jy jouself hierin herken, gee eers aandag aan jou gesondheid, dán jou gewigsprobleem.

[/box]

Fokus liefs daarop om nie tydens die feestyd nog gewig aan te sit nie. En takel die probleem aanstaande jaar.

Trap water met dié maklike resep. En dis nie onmoontlik dat jy selfs ’n kilogram of twee kan verloor nie.

Baie belangrik: Dit is nie terapeuties nie, dus nie die enigste medisyne wat nodig is om jou liggaam en metabolisme gesond te maak nie.Maar dit gaan jou vir seker meer “vaartbelyn” deur die jolige, dol, onseet- elke-aand-uit-tyd van die jaar kry.

[box:full:grey:both]

So werk die twee-dag dieet

[/box]

Stap 1: Die volgende is taboe

  • Suiker, kunsmatige versoeter en produkte met dié bestanddele
  • Botter, margarien, sonneblomolie, kookvet (cooking liquid)
  • Alle brood, kraakbeskuitjies en koekies, sowel as koring/hawer/gort/ rog/ontbytgraankosse
  • Alle verfynde en verwerkte produkte, dus enigiets wat uit ’n pakkie kom en ’n lang lys “bestanddele” het
  • Beperk alkohol tot 1 sopie whisky as jy wil – maar los liewer heeltemal

Stap 2: Eet presies volgens die volgende voorskrifte

[box:full:grey:both]

Soggens, Kies een van die twee opsies

[/box]

  • 1 gekookte plaaseier, of 30 g kaas, of ½ houertjie vetvrye maaskaas
  • 1 – 2 groot tamaties
  • 200 ml ongegeurde vetvrye jogurt
  • Jy kan bv. die eier en tamatie in ’n nie-kleefpan bak

OF

  • 200 ml ongegeurde jogurt, of laevet-melk
  • 1 appel of piesang
  • 10 amandels
  • 1 eetlepel wei-poeier (whey)
  • 1 teelepel kaneel (opsioneel)
  • Maak ’n smoothie en drink stadig

Happies laat-oggend

1 vrug (genoeg om ’n tradisionele teekoppie vol te maak) bv. appel/bessies/ perske/papaja 10 rou amandels, of 1 eetlepel organiese grondboontjiebotter (die ou soort wat die olie uitskei)

[box:full:grey:both]

Middagete: Kies een van die volgende 3 opsies

[/box]

Maaskaas-slaai

  • 1 (250 g) houertjie vetvrye maaskaas, of 1 sirkel feta met verminderde vet
  • 1 groot tamatie
  • 10 cm-stuk komkommer
  • 1 grasui
  • 1 radys (opsioneel), of soetrissie-skywe na behoefte
  • 1 agurkie, of pikantrissie vir garnering
  • 1 teelepel olyfolie vars basiliekruidblare
  • 1 eetlepel balsemasyn

OF

Biltong- of kouevleisslaai

  • 50 g springbokbiltong, of
  • 4 velletjies ham/pastrami, of klein hoenderborsie (gerook/gekook)
  • 1 teelepel olyfolie
  • 1 eetlepel balsemasyn
  • 1 groot tamatie, of 10 babatamaties
  • 10 cm-stuk komkommer
  • 1 groot murgpampoen, in dun sirkels gesny gerasperde kool, of gestoomde blomkool

OF

Tuna-en-eierslaai

  • 1 gekookte eier en
  • ½ blikkie tuna in water groot hand vol roket- of groen slaaiblare
  • 2 – 3 grasuie, of 1 groot radys
  • 1 rooi soetrissie gesny
  • ½ koppie gestoomde ertjies
  • 1 eetlepel Clover-laevet-room, of
  • 1 teelepel olyfolie
  • Sit suurlemoensap by room as sousie

DRINK HIERMEE SAAM:

  • Koffie/tee/rooibostee/groentee.
  • Melk (2% of vetvry). Tot 1½ koppie melk per dag toegelaat vir tee/koffie maar geen suiker.

LAATMIDDAG, nie later as 15:30 nie

  • 1 vrug, genoeg om ’n tradisionele teekoppie vol te maak. Bv. appel/bessies/ perske/papaja/druiwe/piesang
  • 10 rou amandels, of 1 eetlepel organiese grondboontjiebotter 150 ml laevet-/vetvrye melk, of vetvrye jogurt
  • 1 t kaneel (opsioneel)
  • 1 eetlepel wei-poeier (whey, te koop by gesondheidswinkels) – dit laat jou lekker versadig voel

Jy kan bv. ’n smoothie maak van 1 piesang 10 amandels 150 ml melk 1 eetlepel wei-poeier

[box:full:grey:both]

Aandete, Kies een van die drie opsies

[/box]

  • 150 g vis
  • 2 koppies gestoomde broccoli en blomkool
  • 1 rou tamatie
  • 1 teelepel olyfolie
  • 2 teelepels pesto

Braai vis in kleefvrye pan met knoffel, pesto en olyfolie.

OF

  • 1 groot hoenderborsie sonder vel
  • Griekse slaai gemaak sonder feta maar met olywe (minstens 2 koppies vol slaai)
  • 3 – 4 gestoomde of rou murgpampoentjies
  • 2 teelepels olyfolie
  • balsemasyn

Gebruik ’n vleishamer en kap hoenderborsie plat. Smeer met 1 teelepel olyfolie en knoffel.
Bedruip met suurlemoen. Braai in kleefvrye pan of riffelpan. Gebruik die ander teelepel olyfolie vir slaai.

OF

  • 120 g lendeskyf-biefstuk sonder vet (sirloin)
  • 2 groot bruin sampioene
  • 1 groot ui
  • slaaiblare
  • 20 groenbone, of 1 ½ koppie
  • broccoli effens gestoom

Braai ui en sampioene saam en sit voor as sous op biefstuk, as verkies. Rangskik groenbone op slaaiblare en bedruip met olyfolie en suurlemoensap en (as verkies) vars gedrukte knoffel en vars kruie.

OF maak ’n slaaisousie van asyn, 1 teelepel olyfolie, ½ teelepel heuning en ½ teelepel mosterd.
Braai vleis in ’n kleefvrye pan of oor die vuur.

[both:full:grey:box]

NOODSMULHAPPIE: 1 Blokkie Lindt-donkersjokolade met ‘n groot beker tee of gehalte-koffie

[/box]

[both:full:grey:box]

LEES MEER OOR

[/box]

Vergeet van skuldgevoelens
Jou gedagtes speel ’n reusagtige rol in jou metabolisme – dis dus belangrik om aan jou gedagtepatrone te werk. Dis boonop iets waarby jy ook in die toekoms gaan baat vind.

Druk die reset-knoppie in jou gedagtes!

  • Skryf al jou ou denke oor dieet op ’n Kerskaartjie en sit dit in ’n Kerskous. Jy het dit dan weggegee, dis nie meer joune nie.
  • Skryf nou op ’n ander kaartjie hoe jy jou denkpatroon wil verander – en skenk dit aan jouself. Byvoorbeeld: As ek op dieet is … is ek onmiddellik rasend honger en wil alles wat voorkom eet. (Dis omdat die ongemak van jare se hongerly-diëte in jou gedagtepatrone vasgelê is.) Vervang dit met: Ek voed my liggaam en is gesond. Goeie samesyn is deel van gesond wees – en ek kan besluit wanneer ek genoeg geëet het.