BEWEEG SA

Dieet-inspirasie vir die lente

Toe ek in September 2010 gediagnoseer is met polisistiese ovariële sindroom (PSOS), het my ginekoloog vir my gesê ek moet gewig verloor, veral as ek eendag kinders wil hê. Ek het my lewe lank met my gewig gesukkel en het altyd geweet ek moet iets doen, maar het nooit so ver gekom nie. Ek het iemand nodig gehad om vuur te maak onder my, en as die dokter die een is wat die vuur maak, dan luister jy!

’n Vriendin het my al vir ’n geruime gevra om saam met haar aan te sluit by Adventure Boot Camp, maar ek het haar aanhou ignoreer. Daardie dag ná ek weg is by die dokter, het ek onmiddellik aangesluit.

Terwyl ek deur die webtuiste gelees het, het ek op ’n dieetkundige afgekom. Kim Hofmann het saam met my die eerste tree na my nuwe leefstyl geneem. Die eerste twee weke was taamlik erg. My liggaam was in skok, want hy het nie geweet wat ek doen nie. Maar teen week 3 het ek begin gewoond raak aan die nuwe gewoontes.

As gevolg van die PSOS moes ek my insulienvlakke verhoog, en dít bemoeilik dit om gewig te verloor. Albei my ouers is later in hul lewe met tipe-2-diabetes gediagnoseer, daarom loop ek ook die risiko daarvan, maar ek is vasbeslote om dit te vermy.

Ek het stadig maar seker begin gewig verloor. Dit is wonderlik om gemaklik in my eie vel te voel en meer selfvertroue te kry. Ek volg ’n lae-GI-, laestysel-, laevet- en omtrent suikervrye dieet, en woon drie keer per week die Adventure Boot Camp by.

Ek sien die potensiaal in myself raak en dit hou my gemotiveerd.

My eerste doelwit was om gewig te verloor vir my troue. Ek het reeds 12 kg verloor en het nog 8 kg om te gaan voor ek my ideale gewig bereik. Oefening was nog nooit vir my lekker nie, maar met die Adventure Boot Camp is dit fantasties. Ek kan eerlikwaar sê ek geniet elke oomblik daarvan! Ons het soveel pret en ons lag terwyl ons oefen en fiks word. En die beste van alles is dat niemand jou oordeel nie.

VOOR NA
[box:full:grey:both]

My wenke om uit te hou en aan te hou:

  • Ja, dit is moeilik, maar die resultate is die moeite werd!
  • Ek het gehuil ná my eerste dag by Adventure Boot Camp, maar ek het nie tou opgegooi nie.
  • Jy sien dalk nie die gewig van dag 1 af wegsmelt nie, maar wanneer jy dit agterkom is dit fantasties! Veral wanneer ander mense dit ook agterkom en jou daaroor komplimenteer.
  • Dink daaraan as ’n belegging in jouself!

[/box] [box:full:grey:both]

Het jy ‘n soortgelyke storie? Deel dit met ons by sarie@sarie.com!

[/box]