BEWEEG SA

Ons heupe huil, maar ons kook en geniet

Jy kyk graag na Mollie en Wors op TV en het ook Vetkoekpaleis nooit misgeloop nie.

Ja, Worsie van Vetkoekpaleis het intussen groot geword (letterlik en figuurlik!) en heet nou Wors. En sy gesinnetjie–Mollie,Vaatjie en Blapsie – is almal op dieselfde patroon as hy gesny – lekker rond.

Hoekom is dié reekse so gewild? Dalk omdat jy met die gesellige, ronde mense kan identifiseer? Of wys jy vinger en sê: Dankie tog, dis nie ek nie?

Nee, daar bestaan nie navorsing of data oor oorgewig en spesifiek Afrikaanssprekendes nie. Maar die persepsie is inderdaad dat ons groot is. Kyk wat sê Nataniël in sy resensie van Kook & Geniet in Rapport (September 2010): “Ons heupe huil, maar ons kook en geniet!”

“Ons eet of hongersnood voorlê,” beaam prof. Tess van der Merwe, Pretoriase endokrinoloog wat in
vetsug spesialiseer. Sy draai nie doekies om nie. Vroeër het sy gesê: “Vetsug is die siekte wat gaan maak dat Homo sapiens uitsterf!”

Want vetsug is ook elders op die aardbol besig om angswekkende afmetings aan te neem. Vir die eerstekeer is daar nou wêreldwyd meer mense oor- as ondervoed.

Die erns van die probleem in SA is in September verlede jaar onderstreep toe GlaxoSmithKline (GSK) se bevindinge van ’n nasionale gesondheidsopname bekend gemaak is. Ons is nie net vet nie,maar van die heel vetste mense op aarde – naas Amerika en Brittanje. Australië was vierde. Die Amerikaners was al in verskeie studies die wêreld se vetste.Maar omvattende nuwe navorsing wys dié “eer” behoort nou aan die inwoners van die Stille Oseaan-eilande en opkomende nywerheidslande soos Koeweit. (Volgens The Lancet, Februarie 2011.)

Die probleem is nie net groot nie, dis ook kompleks. Daar is boonop geen one-size-fits-all-oplossing nie, want die OORSAKE kan kultureel, emosioneel, fisiologies, sosio-ekonomies of geneties wees – of ’n kombinasie hiervan.

Die GEVOLGE is ewe drasties en kan ’n negatiewe impak hê op jou gehalte van lewe, produktiewe
werksjare, hoeveelheid lewensjare en gemoedstoestand. Die probleem is groot genoeg om wêreld-ekonomieë te laat steier.

Reeds in 2003 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oorgewig/vetsug geëien as die hoofredes vir die grootste persentasie hartkwale, diabetes tipe-2, hoë bloeddruk,
osteoartritis en slaap-apnee.

[box:full:grey:both]

Só lyk dit in SA

[/box]

Hartaanvalle Minstens sestig mense sterf daagliks weens hartaanvalle (2 – 3 elke uur), volgens dr. Jeff King, Johannesburgse kardioloog wat by die GSK-studie betrokke was. Dis dikwels weens ’n ongesonde leefstyl en gepaardgaande vetsug en kan dus voorkom word. Feit: Hartaanvalle en hartkwale is van die grootste oorsake van dood by veral Afrikaanse mans en vroue.

Cholesterol-vlakke in SA het in net ’n jaar met 12% gestyg, aldus die Flora Toets die Nasie-veldtog (2010). (Hoë cholesterol verhoog die gevaar van hartaanvalle en beroertes.) Dis boonop vir vroue ’n groterwordende probleem: Sowat 62,6% van mense wat getoets is en wie se vlakke verhoog het, is vroue.

Diabetes tipe-2 As jy oorgewig is, is jou kans daarvoor meer as dubbel as iemand wat sy gewig beheer. Sowat 6 – 8% van SA se bevolking het diabetes tipe-2. Medici glo dis selfs méér, omdat
baie lyers nie gediagnoseer word nie.

Kanker Oorgewig kan ’n rede vir verskillende soorte kanker wees. Volgens die WGO is tot 40% van kankers voorkombaar as jy gesond leef.

[box:full:grey:both]

Hoe nou met die Afrikaanssprekendes?

[/box]

Geneties? Heelwat navorsing is onlangs plaaslik gedoen oor ’n belangrike vetsug-geen (bekend as die FTO-geen), as deel van die Wellness GeneScreen-projek. En die geen is algemeen by Suid-Afrikaners, sê prof. Maritha Kotze, genetikus van Kaapstad. Maar jou gene alleen kan nie die skuld kry nie.Dis gewoonlik ’n interaksie tussen jou gene en die soort kos wat jy eet wat jou vet maak. (As jy wil deelneem aan die projek, kontak Maritha by 021 938 9324, maritha@sun.ac.za)

Speel stres ’n rol? Waarskynlik. Ons hoef nie te debatteer oor die stresvlakke in ons land nie. Boonop oefen Afrikaanssprekendes nie vreeslik om stres te ontlaai nie. Net 14% was die voorafgaande week in die gimnasium, volgens Amps ( Julie 2009 – Junie 2010). Stres kan jou
liggaam se metabolisme verander en dra by tot vetsug/oorgewig.

Almal met wie SARIE gepraat het (dokters, sielkundiges, dieetkundiges, radio- en TV-mense), glo Afrikaanssprekendes is grootliks verantwoordelik vir hul benarde posisie.

[box:full:grey:both]

Want ons eet so lekker!

[/box]

Ons grootste uitdaging vorentoe lê by kos en ons verhouding met kos. Plus ons gemaksugtige ingesteldheid.

1. ONS KOOK EN GENIET

Tess van der Merwe lê ’n groot deel van die skuld voor boerekos se deur.Ons moenie die krag van kultuur onderskat nie. Volgens haar hou die meeste van haar Afrikaanse pasiënte van tradisionele kos: rys, vleis, aartappels, groente met botter en suiker. Dis ’n dieet met baie stysel en vet.

Net so, sê Marlene van der Westhuizen, skrywer van onder meer Soetgoed (Human & Rousseau, 2011), wat gereeld Afrikaanse vroue op ’n kookkursus oorsee neem. “Dis merkwaardig om te sien
hoe my gaste wat saam in Charroux, Frankryk, gaan kook, smul aan berge vol vars groente, heerlike vleis en vis en bottels wyn (maar sonder enige stysel). En gedurende die 6 dae-kursus
gemiddeld tot 2 kg verloor!”

Ook Errieda du Toit, wat die afgelope elf jaar ’n kosprogram op RSG aanbied, sonder Afrikaanssprekendes se nou verbintenis met kos uit. Luisteraars raak emosioneel wanneer hulle oor kos praat. Dis in ons aard om onsself te troos met kos, fees te vier met kos, te rou met kos. Ons oumas se spense was vol kos, dit was deel van hul gasvryheid. En vandag glo baie Afrikaanssprekendes steeds aan oorvloed.

Sy vertel hoe luisteraars emosioneel oor pap en wors, braaibrode en soetgoed praat. Sy meen die Afrikaner is indulgent van karakter en wil voel hulle word bederf. Gesond eet is nie vir hulle bederf nie: Dis te veel moeite en voel soos ’n opoffering.

Ons sien dit op sarie.com. ’n Tunaslaai kry nie naastenby die trefslae van ’n lamsboud nie! ’n Wenresep is ’n kombinasie van nostalgie + soet = bederf.

Hoewel S.J.A. de Villiers se Kook & Geniet by verre nie die gesondste kos het nie, het sy kleiner porsies verstaan. Dis die grootste bydrae van dié boek, iets wat Afrikaanssprekendes verontagsaam: Porsiebeheer.


2. BRANDEWYN EN COKE (EN ‘N BRAAITJOPPIE)

Vleiseters tel stelselmatig meer gewig op as mense wat meer kJ’s inkry, maar deur ander kossoorte, is in ’n groot Europese studie bevind. Afrikaanssprekendes is juis groot vleiseters, en vetterige vleis daarby, sê die Paarlse dieetkundigeMariza van Zyl. Voeg daarby die gebruiklike brandewyn en
Coke en jy het ’n dodelike kombinasie. Die alkohol in brandewyn keer dat jou liggaam vet verwerk.

Dit word dan geberg. Coke gee jou boonop ’n ongesonde suikerskop. Jou liggaam sit dan die oortollige suiker om in vet. Suiker wat wipplank ry, kan bydra tot onder meer insulienweerstandigheid en selfs hoë cholesterolvlakke.

3. MXit EN KAFKOS

Gemorskos (hoog in suiker, stysel en vet) is deur die GSK-studie uitgesonder as dié grootste sondaar wat tot vetsug lei. Sowat 5% van plaaslikeseuns en ’n volle 25% van meisies is oorgewig, is verlede jaar by die suikeren gesondheid-simposium in Oos- Londen bekend gemaak. Die GSK studie wys ook die meeste ouers weet nie wat hul kinders deur die dag eet nie.

En 6% ontken hul kinders is vet. Afrikaanssprekendes eet dikwels 2 tot 3 keer per week kafkos, wys Amps-syfers ( Julie 2009 – Junie 2010).

Talle navorsing het boonop gewys: As die ouers oorgewig is, is die kinders ook. Dit begin al vroeg: As Ma tydens haar swangerskap ver oorgewig is, is die kans goed dat haar kind lewenslank met gewig gaan sukkel.

Voeg hierby kinders se gebrek aan oefening. Selfone,TV en rekenaars is hul gunsteling-manier van ontspan.

Jongmense bestee sowat 30% van hul tyd voor die TV en rekenaar (in 2007 was dit 25%), wys die plaaslike Healthy Active Kids Report Card, 2010. En net 42% van ons jeug kry oefening.

So, inderdaad. SA en Afrikaanssprekendes het ’n probleem . . .

[box:full:grey:both]

DIE STATISTIEKE

Meer as die helfte van volwasse Suid-Afrikaners (60% of 2 uit elke 3), is:

  • oorgewig (weeg 5 – 10% meer as hul ideale gewig)
  • vetsugtig (20 – 30% meer)
  • OF erg vetsugtig (50 – 100% meer).

(Bron: GSK-studie.)

Dit strook met die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se bevinding (2003) dat 56% van plaaslike vroue en 29% van mans oorgewig is. (Met swart vroue en wit mans voor in die koor.) Die Suid-Afrikaanse Demografiese Gesondheidsopname (1998) het reeds gewys sowat 54% van oorgewig mans is wit.

’n Studie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het boonop gewys 17% van ons kinders tussen 1 en 9 jaar is vet. Ons jongmense is vyfde op die vet-ranglys wat verlede jaar by die suiker en gesondheid-simposium in Oos-Londen bekend gemaak is (naas Brittanje, Kanada, Amerika en Mexiko).

[/box] [box:full:grey:both]

ISSIE WAAR NIE

Ons is boonop ’n nasie in ontkenning. Want hoewel 61% van ons oorgewig en vetsugtig is, erken slegs 34% ons het ’n probleem.

  • 74% meen hul eie gewig is reg, maar ander mense is oorgewig.
  • 78% van vetsugtige mense meen hulle is gesond/baie gesond.
  • 54% van erge vetsugtige mense meen ook hulle is baie gesond.

(Bron: GSK-studie)

[/box]

  • satspjocyzo

    hXnMqq mqzhjnzyrlpb, [url=http://lqifqqrkodwb.com/]lqifqqrkodwb[/url], [link=http://lyijkvkbkhyd.com/]lyijkvkbkhyd[/link], http://xmrqkdpzbwpz.com/