Red heart
Gesond

Mites oor borskanker: deel 2

Oktober is borskankerbewustheidsmaand en met soveel mites en verouderde idees in ons kop en op die internet, is dit dikwels moeilik om feit en verdigsel oor borskanker van mekaar te onderskei. Prof. Justus Apffelstaedt, medeprofessor by die Universiteit Stellenbosch en hoof van die Tygerberg-hospitaal se borskliniek, gee antwoorde.

Red heart

Mite 6

Dis beter om die hele bors te verwyder eerder as net die aangetaste deel.

Waarheid:
Borskanker saai uit (metastaseer) na plekke buite jou bors. Die gewas in jou bors kan jou nie doodmaak nie. Wel die kanker wat na jou brein, longe, ensovoorts versprei, iets wat reeds vroeg met borskanker gebeur. As jy ’n radikale mastektomie kry (die hele bors word verwyder en nie net die aangetaste deel nie), is jou kans op oorlewing dus nie noodwendig groter nie. As so ’n mastektomie wel nodig is, kan jou bors tydens dieselfde sessie gerekonstrueer word. By ’n kliniek wat ’n multidissiplinêre benadering volg, besluit die onkologie-chirurg, mediese onkoloog, bestralingsonkoloog en plastiese chirurg op die beste tyd en volgorde van elke individuele behandeling.

Vir elke 100 vroue by ’n goed georganiseerde borskankerkliniek sal sowat 60 borsbehoudende chirurgie kry (net die aangetaste deel word dan verwyder); 35 ’n mastektomie en onmiddellik bors-rekonstruksie; en 5 sal die teater sonder haar eie of ’n bors-rekonstruksie verlaat.

Mite 7

’n Mammogram het nie my borskanker uitgewys nie.

Waarheid:
Mammografie van goeie gehalte sal in sowat 90% van gevalle borskanker uitwys. As mammografie saam met ultraklank gedoen word, styg dit tot byna 98% en dis min dat dit nie opgetel word nie.

Mite 8

Mammogramme is pynlik.

Waarheid:
As dit pynlik is, moet die redes eers vasgestel word voor jy daarmee voortgaan. ’n Goed opgeleide radiografis in mammografie behoort jou te kan help om te ontspan. As die pektorale spiere agter die bors ontspanne is, behoort die mammogram pynloos te wees.

Mite 9

’n Borsvergroting maak dit moeiliker om borskanker op te spoor en jou risiko is dus groter.

Waarheid:
Dit vermeerder nie jou klierweefsel nie en daarom ook nie jou risiko nie. Dis wel nodig dat ’n ervare radiografis jou mammogram dan doen, aangesien spesiale tegnieke nodig is om al die borsweefsel te sien.

Mite 10

Borskanker is meestal oorerflik.

Waarheid:
Net sowat 5 tot 10% van borskankergevalle is weens ’n genetiese afwyking (mutasie) wat jy by ’n ouer geërf het. As jy sekere mutasies van die BRCA-gene het, is jou leeftyd-risiko vir borskanker meer as 80%. Dit gesê: Sowat 20 tot 30% van vroue met borskanker het ’n familielid daarmee. Dit beteken egter nie die BRCA-geenafwyking is noodwendig ’n familietrek nie. Borskanker is so algemeen, dis glad nie ongewoon dat meer as een vrou in ’n groot familie – sonder die gene – dit het nie. Het jy ’n nabye familielid (ma, suster, dogter) met borskanker op ’n jong ouderdom (onder 50 jaar), verdubbel jou kans om dit self te kry. Twee nabye familielede, dan verdriedubbel dit.

Lees nou

Mites oor borskanker: deel 1

Skoonheid ♥ borskankerbewustheid – só kan jy ook help!