Foto ter illustrasie
FOTO Unsplash / Cala

Foto ter illustrasie FOTO Unsplash / Cala

Dieet

2017 se gewildste diëte: Die sop-detoks #WatJyMoetWeet

Ons ondersoek elke week ’n gewilde dieet en hoor wat die eksperts daarvan sê.

Eers was dit juicing. Nou is dit die soup cleanse. Kan dié vloeistofdieet vir jou werk? Ons klop aan vir raad by Larissa West, dieetkundige by My Diet Clinic.

Wat is dit?

Die sop-detoks behels om twee dae per week vyf verskillende soppe te eet (elk drie uur uit mekaar). Die ander vyf dae van die week moet jy slegs een maaltyd met sop vervang en jou ander maaltye moet gebalanseerd wees. Dit word bemark as ’n dieetplan wat lewenslank gevolg kan word.

Hoe verskil dit van juicing

Die sop-detoks is verreweg die gesonder opsie tussen die twee.

Met die ewe gewilde juicing-dieet word vars groente en vrugte versap. Die sap behou die meeste van die vitamiene en minerale wat in die heel vrug was, MAAR dit skiet tekort aan oplosbare en onoplosbare vesel. Afhangend van die soort vrugte en groente wat versap word, kan die dieet hoog in suiker wees. Omdat jy ook al jou kos drink en nooit kou nie, kan dit lei tot knaende hongerpyne.

Die juicing-dieet is baie laag in proteïene en dus te ongebalanseerd om vir ’n lang tyd vol te hou.

Waarop is die sop-detoks gegrond? 

Volgens Nicole Centen, skrywer van die boek Soup Cleanse Cookbook, is die dieet ’n moderne weergawe van gewone sopdiëte. Dit werk deurdat die liggaam detoks danksy die inname van gesonde, voedsame bestanddele wat in smaaklike soppe omskep is.

Die intermittent fasting-konsep waarop dit gebaseer is, is veronderstel om die metabolisme te versnel, immuniteit te versterk, die organe te detoks en jou gewig te laat afskud. Die idee is dat jy nie sal honger word nie omdat die sop so veselryk is. Nicole gee ook verskeie resepte sodat jy nie gou verveeld sal raak nie.

Voordele van die dieet is dat dit lae GI is en dit sluit ook algemene allergene soos gluten en suiwel uit.

Kan dit vir my werk?

Ek bevraagteken wel die langtermyn-sukses en volhoubaarheid van die dieet. Jy sal slegs gewig kan verloor en afhou as jy permanent van soppe leef, en ongelukkig is die kans goed dat jy ná ’n paar maande wel gaan verveeld raak en terugkeer na jou ou eetpatroon, en natuurlik jou ou gewig.

Hou ook in gedagte dat die eetplan heeltemal generies is en nie voorsiening maak vir die individu nie. Iemand met prikkelbare dermsindroom kan byvoorbeeld erge dermongemak ervaar omdat die plan so hoog in onoplosbare vesel is.

Ons beveel gewoonlik aan dat eetplanne gebaseer word op ’n mens se lewenstyl en unieke genetiese samestelling, soos wat ons doen by My Diet Clinic. Genetiese toetsing gee jou ook ’n aanduiding van hoeveel oefening jy moet doen om jou gesondheidsdoelwitte en teikengewig te bereik.

Foto ter illustrasie FOTO Unsplash / Henrique Félix

Foto ter illustrasie
FOTO Unsplash / Henrique Félix

Gratis sopresepte

Groentesop

genoeg vir 8 koppies

• 5 ml olie
• 1 middelslag-ui, geskil en fyngekap of gerasper
• 1 middelslag- groen soetrissie, fyngekap of gerasper
• 1 middelslag- rooi soetrissie, fyngekap of gerasper
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• ¼ kool, gesnipper of gerasper
• 400 g-blik tamaties (of gebruik vars tamaties), fyngekap
• 2,5 liter kookwater
• 30 ml Ina Paarman-aftrekselpoeier (of gebruik 500 ml klaarbereide aftreksel)
• 5 ml gedroogde kruie, bv. basiliekruid

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie, soetrissie en knoffel tot sag.

Voeg die kool by en meng goed. Voeg die tamaties en 1,25 liter water by.

Meng die res van die kookwater met die aftrekselpoeier en voeg by die sop.

Voeg die kruie by, bedek en laat kook – 30 minute as jy aftrekselpoeier gebruik, 60 minute as jy klaarbereide aftreksel gebruik.  

Kerrie-pampoensop

• 500 g pampoen (nie botterskorsie nie)
• 5 ml kerriepoeier
• 1 liter hoenderaftreksel (plus ekstra water, indien nodig)
• 1 ui, fyngekap
• 1-2 knoffelhuisies, fyngekap (opsioneel)
• 15 ml olie

Meng die pampoen en kerriepoeier met die aftreksel en kook tot sag. Braai intussen die ui en knoffel (indien gebruik) in die olie tot bruin. Voeg by die pampoen en maak die sop fyn.


SARIE.com skryf geen diëte voor nie. Praat eers met jou dokter voordat jy groot leefstyl-veranderinge maak.

Lees nou

2017 se gewildste diëte: Troetel die goeie flora in jou maag #WatJyMoetWeet

2017 se gewildste diëte: #WatJyMoetWeet van die Sirt-dieet

Dieet net 2 dae van die week