Dieet

2017 se gewildste diëte: Troetel die goeie flora in jou maag #WatJyMoetWeet

Ons ondersoek elke week ’n gewilde dieet en hoor wat die eksperts daarvan sê. Dié week kyk ons na die voordele daarvan om ’n gesonde en gelukkige maag te hê vir gewigsverlies. Die gut diet is groot nuus in die gesondheidswêreld en die Britse leefstylwebtuiste Byrdie noem dit die nommer 1-dieet vir gewigsverlies, ’n mooi vel en ’n beter bui. Klink goed, nè!

Wat is dit?

Al hoe meer studies wys hoe ’n belangrike rol jou maag speel in jou gesondheid – vir van gewigsverlies tot jou gemoed en jou vel. In ’n Belgiese studie in 2013 is bevind dat maer kinders tot 70% meer maagbakterieë het as oorgewig kinders.

Die verband tussen jou derm-bioom, metaboliese gesondheid en vatbaarheid vir die ontwikkeling van vetsug, diabetes en outo-immuunsiektes soos artritis en ’n onderaktiewe skildklier, en selfs hartsiektes, word toenemend ondersoek.

Maar wat wel seker is: Wanneer jou maag gesond en gelukkig is, het dit ’n positiewe uitwerking op jou hele lyf.

Hoe werk dit?

’n Komplekse ekostelsel – ’n sosiale netwerk – van triljoene bakterieë en ander mikroörganismes floreer in veral jou dermkanaal. Vir elke menslike sel in jou lyf is daar tien bakteriële selle. Dit help ons met basiese fisiologiese prosesse – van spysvertering tot groei.

Baie van hierdie bakterieë speel ’n belangrike rol in jou gesondheid. Dit breek gifstowwe af, vervaardig sekere vitamiene en aminosure, en vorm ’n versperring teen bakterieë wat siektes kan veroorsaak, volgens die tydskrif Nature.

Drs. Justin en Erica Sonnenburg, mikrobioloë by die Stanford-universiteit, skryf ook oor die belangrikheid van gesonde dermflora in The Good Gut: Taking Control of Your Weight, Your Mood and Your Long-Term Health (Penguin, 2015).

Kan dit vir jou werk?

Almal kan baat vind deur beter na hul dermflora om te sien. Maar jy moet veral op jou dermflora fokus wanneer jy altyd moeg is en jou kop dof voel. Ook as jou maag voel en raas soos ’n sementmenger. Dít gebeur omdat kos gis, eerder as wat dit verteer. Jou maag voel opgeswel en seer wanneer jy eet. Jy is hardlywig en/of het diarree. Dit alles voorspel niks goeds vir jou gesondheid en jou gewig nie.

Wat mag ek eet?

Die ideale verhouding tussen die bakterieë is 85% “vriendelikes” en 15% “onvriendelikes”. Antibiotika, swak voeding, inflammasie, stres, chroniese medikasie en ander faktore maai egter onder die “vriendelike” bakterieë en versteur die delikate balans. Hulle kan dan nie meer belangrike take so goed soos altyd doen nie. Wanneer dit gebeur, kan probiotika help.

Kry met min moeite jou derm-mikrobes hups. Gee hulle net genoeg goeie kos wat probiotika bevat, skryf die dieetkundige Mariza van Zyl in Dik vir dieet. Hier is haar lys:

Prebiotika, kos vir probiotika, stimuleer die dermflora se groei en werking. Dis gewoonlik onverteerbare of minder verteerbare koolhidrate (vesel). Bronne sluit in:

• Rou knoffel
• Rou preie
• Rou uie
• Groenerige piesangs
• Rou sampioene
• Aalwyn
• Amandels
• Patat (gaar)
• Pektien in byvoorbeeld suurlemoene en appels

Donkergroen groente en geel vrugte bevat karotenoïede wat jou liggaam in vitamien A omsit. Dierlike bronne van vitamien A is ook baie belangrik:

• Volroomkase
• Eiergeel
• Lewer en niertjies
• Room en die vet van diere wat natuurlike weiding gehad het

Jogurt en kaas is die bekendste voorbeelde van gefermenteerde kosse, maar ander is:

• Duitse sauerkraut
• Koreaanse kimchi (gefermenteerde groentes)
• Chinese kombuchu-tee
• Japannese miso-sop (gemaak van sojaboonpasta)

Dis weerstandig teen vertering en word deur die dermbakterieë gefermenteer. Die kookmetode is deurslaggewend.

• Heel of grofgemaalde droë mielies, soos growwe mieliemeel (klipgemaal). Kook en laat koel oornag af. Warm op tot louerig, nie kokend nie.
• Aartappel: Kook en laat koel af.
• Rys: Kook en droog twee uur in die oond.

Preserveermiddels en ’n verlengde rakleeftyd kan beteken dat min van die probiotika daarin die doellyn haal. Sommige vervaardigers waarborg wel ’n sekere hoeveelheid lewende kulture aan die einde van die produk se rakleeftyd.

Dis baie belangrik om so ’n aanvulling te neem as jy antibiotika gebruik, maar dis nie altyd die ideale oplossing op lang termyn nie. Die soorte probiotika daarin is meestal beperk. Dit oorleef ook net sowat agt dae in jou dermkanaal. Die bakterieë is boonop baie sensitief, sterf maklik en dié in jou aanvulling is dalk lankal kapoet.

Vertroetel en “voer” dus dié wat reeds in jou derm woon, bykomend tot ’n goeie probiotika-aanvulling, sê Mariza. Kies ’n produk met baie verskillende stamme (strains), is die raad van prof. Patrick Bouic, ’n immunoloog van Kaapstad. Verkieslik ’n produk wat jy in ’n yskas moet bêre, want die bakterieë leef dan langer. Beskerm dit teen direkte lig. Sommige vriesgedroogde soorte het moontlik nie verkoeling nodig nie. Wissel verskillende handelsmerke af, want almal verskil, sê hy.

Wat moet ek vermy?

• Verminder “onvriendelike” bakterieë se kos. Sny alle vorme van suiker uit. Ook groente met baie suiker soos pampoen.

• Vermy alkohol en gegiste produkte soos Marmite, Bovril, sojasous en balsemasyn.

• Vermy geprosesseerde, verfynde kosse.

• Beveg kos-intoleransies. Los moontlike “probleem”-kos vir ’n proeftydperk van twee weke. As jou simptome (opgeblaas, hardlywig en/of diarree) nie verbeter nie, konsentreer op ’n volgende moontlike sondaar. Vermy kosse wat simptome veroorsaak 3 – 6 maande lank en voeg dit dan geleidelik weer by jou dieet. As dit steeds probleme veroorsaak, los weer, beveel prof. Bouic aan.

Probeer vandag

Een van die jongste gesondheidsgiere is kefir, ’n gegiste melkdrankie wat jy met ’n spesifieke jogurt(kefir)-plantjie maak. Dis uitstekend vir jou goeie flora en tans word baie navorsing daaroor gedoen. Vra rond vir iemand met ’n plantjie. Of koop die korreltjies by theprohealthshop.com.

Kyk HIER of jy kefir vir jou kan maak.

SARIE skryf geen diëte voor nie. Praat eers met jou dokter voordat jy groot leefstyl-veranderinge maak.

Verwerk uit die artikel “Probiotika, pro-gesondheid!” in die Junie 2014-uitgawe van SARIE en “Jogurt (en Kie.) – jou pad na geluk” in die Mei 2016-uitgawe.

Lees nou

2017 se gewildste diëte: #WatJyMoetWeet van die Sirt-dieet

Lyk skraler in ’n japtrap, sónder ’n dieet!

Dieet net 2 dae van die week