mariza_henk_foto
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: 5 Redes waarom jy nie kan maer word as jy nie vet eet nie…

Nee, as jy ‘gril’ vir vet en maklik jou gewig in toom hou en nie baie vet om jou middel dra nie is jou gene en metabolisme, jou liggaam se masjien, waarskynlik heel gelukkig met min vet.

Maar, en dis ‘n groot “maer”, baie mense is die afgelope dekades onderwerp aan die aanbeveling om in álles die laevet- of vetvrye opsie te kies. Kort op die hakke volg natuurlik reekse en ritse produkte – spesiaal gemaak met die doel om die ‘laevet’ of vetvrye banier te dra.

Maar die feit van die saak is as die vet in ‘n vervaardigde item moet ‘af’, moet iets anders óp. As jy vetvrye roomys wil maak, gaan jy meer ‘soet’ nodig hê om dit na iets te laat smaak. As die vet uit die jogurt gehaal word, vra dit meer suiker of versoeter. As die vet in ‘n koekie verminder word, proe dit na brood tot jy meer soet bysit. As jy vetvrye lekkergoed eet, gaan jy meer suiker inkry (tensy dit heeltemal kunsmatig versoet is).

Melk

En saam met die vet word natuurlik ook vetoplosbare vitamiene verwyder, soos vitamien A, D, E en K.

Vitamien D kry ons ook van die son, vitamien K word gemaak deur die flora in ons dermkanaal – maar vitamien A en E MOET ons eet vir metaboliese gesondheid om ons are en hart gesond te hou. As jy dus vet vermy, ontneem jy jou liggaam juis dít wat nodig is om jou hart en are te beskerm.

Die verdere kinkel in die kabel is natuurlik dat die baba saam met die badwater uitgegooi is. Saam met die vet-fobie is kossoorte wat van nature hoog is in vet (soos neute, sade en onverwerkte olies soos avokado en olyfolie, asook diereprodukte soos eiers en kaas) ook van die ‘gesonde’ lysie verwyder. Want dit maak mos vet, of hoe?!

Het die subtiele boodskappe via advertensies en ander maniere van bemarking miskien in jou kop ook vasgesteek? Dink maar aan die botter-margarien-debat, die ‘slegte’ versus goeie vette. Maar jy wonder steeds…want jy het dit soveel keer gesien, gehoor, gelewe..

5 REDES waarom jy nie sonder vet moet klaarkom nie

En hierdie feite is nié betwisbaar nié

  1. Vet in voedsel gee ‘smaak’ en stimuleer ons senustelsel om die kos te ‘geniet’ deurdat dit ‘lekker’ in ons mond voel. Sekere vette help ons selfs meer versadig voel (Lees gerus meer hier) – eet te min vet, en jy wil bly knaag …
  2. Vet is nodig vir elke sel in die liggaam. Selle se wande verander en weerspiëel die soort vet wat ons eet. Fokus op ‘die regte’ vette, dít verseker ‘sagte en plooibare’ selle – wat ook die risiko vir siektes soos diabetes, hartsiekte, insulienweerstandigheid ens. verminder. Dit beïnvloed ook gewigverlies. Beter vette = jy is minder vet.
  3. Sonder genoeg vette word ons produksie van hormone beïnvloed. Hormone is belangrik vir metabolisme en gewigsverlies en -beheer.
  4. Alle vette is nie dieselfde nie. Vette in bv. koud geperste olyfolie is in der waarheid medisinaal en bevorder gewigsverlies, en verminder jou risiko vir siektes soos kanker, hartsiekte en metaboliese sindrome in vergeleke met vetsoorte wat verwerk is.
  5. GEEN natuurlike produk bevat ooit NET ‘versadigde’ vette nie – maar altyd ‘n kombinasie van vette. Jou skaaptjoppie, jou glas melk, jou stuk kaas: NEE, dit bevat nie NET slegte vet nie. Jou margarien? Nee dit bevat nie NET sogenaamde ‘goeie’ onversadigde vet nie. Skakel jy dit alles uit om die ‘vet’ te vermy en probeer oorleef op ‘vetvrye’ opsies, skakel jy ook belangrike voedingstowwe uit waarsonder jou liggaam NIE optimaal kan werk nie.  Dít maak vet en siek.

Die goue reëls van vet eet en maer wees:

  • Wees kieskeurig – net omdat dit plantaardig of van ‘n spesifieke plant-bron afkomstig is, beteken nie dit is beter nie. Net omdat dit van ‘n dier kom, beteken nie dis ‘sleg’ is nie.
  • Gebruik verskillende ‘vet’-kosse – verskillende neute, sade, olyfolie, kanola-olie en selfs bietjie klapper-olie en botter.
  • Kies so ónverwerk as moontlik

(Besoek gerus FACEBOOK/bettereat vir gereelde wenke en meer detail HOE mense hierdie opsies kan toepas).

Ja – sommige mense moet baie min vet eet. Maar niemand moet GEEN vet eet nie, en sommige mense moet meer eet!

Mariza van Zyl (RD)SA

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet™ Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za

* Lees nóg blogs deur Mariza hier.

GROOT NUUS!


Ons daag jou uit om saam met sarie.com en Bettereat ‘n spesiale 6-week-leefstylplan te volg. Dié plan is spesiaal deur ons dieetkundige, Mariza van Zyl, ontwerp en gaan sorg dat jy beslis een nommer kleiner is! Pas dan jou nuwe lyf in pragtige ontwerpersklere uit ons winkel as jy klere ter waarde van R2500 kan WEN!

Klik hier vir al die inligting