Mariza van Zyl
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: 7 wenke vir beter kitskos-keuses

Beeldmateriaal van ’n hoenderwassery by ’n kitskos-restaurant in Johannesburg moes verlede week die helfte van Suid-Afrika op hol gehad het. Goed, ek oordryf. Jammer. Net daardie helfte wat Saterdae by hul gunsteling-kitskosplek aandoen en bereid is om in ’n lang ry te staan en wag.

Dis eintlik ironies, want hoewel die gewassery beslis nie aanvaarbaar is nie, verseker ek jou die potensiële “gevare” van ’n gewaste hoender, veral as hy daarna lekker gaargemaak gaan word, is heelwat minder as dié geassosieer met kitskos …

Vir die meeste mense is “uiteet” ook vandag sinoniem met kitskos, al sit jy by ’n tafel aan. Restaurante waar die sjef al gister begin het om die bobotie geurig voor te berei is net vir ’n klein deel van ons bevolking beskore. Meer hieroor in die volgende blog.

Terug by kitskos of kits-uiteet.

Kitskos staan vir seker in die beskuldigdebank in die saak oor die verswakkende gesondheid van die moderne mens. Veral oorgewig en alles wat daarmee saamgaan. Maar kitskos speel blykbaar ook ’n rol in die toename van leer- en emosionele probleme.

Nie net is kitskos gewoonlik baie hoog in vet, verfynde produkte (fyn witsuiker) en sout nie, maar soos alle verfynde en verwerkte kosse is dit gewoonlik ook arm aan nutriënte. Dié verarming is die gevolg van al die prosessering wat voedsel moet ondergaan voordat dit in ’n vorm is waar dit binne minute berei kan word. Moenie dink iemand staan en skil vandag nog sesuur in die oggend aartappels om die dag se skyfies mee te maak nie, of druk maalvleis in die handpalm plat in ketting-restaurante nie…

Is dit moontlik om “anders” kits te kies as jy wil beter eet?

Die “lekker” geassosieer met kitskos gaan veel verder as net die smaak. Navorsing wys dat chemiese stowwe wat afgeskei word wanneer jy kitskos eet, soortgelyk is aan daardie stowwe wat afgeskei word wanneer jy verslaaf is aan iets soos sigarette of alkohol. Scary!

Soos sosiale media is kitseet ongelukkig deel van ons moderne samelewing. Maar dit is geensins nuut nie. Opgrawings in Pompeii werp lig op die antieke Romeine se kitskos-gewoontes. Hulle was ook besig en moes soms vinnig iets gryp om te eet …

Daar is nie opgrawings van eetgerei nie, maar daar is wel ‘n verskeidenheid klein braairoosters gevind. Alhoewel daar geen kosreste behoue gebly het nie, kan daar afgelei word dat dit iets sou wees wat maklik gebraai kon word, soos vleis, haas of selfs voëls, wat “on the go” geëet is. Mediterreense groente en vrugte soos eiervrug, beet, tamatie of okra (byna soos murgpampoentjie) is moontlik ook gerooster. Indien daar brood sou wees, sou dit waarskynlik weens destydse tegnologie heelwat anders gelyk het as die supersagte, sponserige witbrood wat ons vandag ken. Die groot probleem is nie dat ons vinnig iets eet nie, maar eerder WAT ons vandag eet as ons haastig is – en hoeveel.

Natuurlik is dit beter om nie gereeld kitskos te eet nie, maar kom ons wees realisties: dit gaan gebeur. Miskien help dié paar wenke jou ten minste om ’n tree in die regte rigting te gee op die pad na minder potensiële negatiewe effekte op jou gesondheid. Veral rakende gewigsbeheerpogings as jy die “normale” ding doen en ook soms (of meer) kitskos eet.

  1. Moenie dogmaties wees nie. Die meeste kitskos-restaurante sal iets op die spyskaart aanbied wat “beter” is. Besluitnemers by dié restaurante het darem ook al gehoor begin gee aan voedingkundiges se oproepe vir opsies wat meer vaartbelyn is en wat jou kan help om meer vaartbelyn te wees.

  2. Kies items wat herkenbaar is, soos jy dit tuis sou kon voorberei: ’n bakkie mielies, hoenderboudjie pleks van ’n vleiskoekie (patty), 100% suiwer maalvleis, of nog beter: ’n biefstuk-rolletjie. Dan weet jy dit is regtig ’n stuk vleis en nie ’n mengsel van allerhande afvalstukkies wat fyngemaal en saam met wie-weet-watter chemiese middels verwerk is tot ’n patty nie.

  3. Onthou, dis menslik om wanneer daar ’n oorvloed voor jou uitgestal word, meer te wil neem en meer te wil eet (dis goed nagevors). Besluit dus vóór jy uitgaan wat jy gaan eet – en bly daarby. Moet jou nie laat verlei deur die groot verskeidenheid en die flinke kelnerin wat daarop aandring dat die nagereg lekker is nie. Of deel daardie gunsteling-lekkerte ná jou ete sodat jou porsie kleiner is.

  4. Probeer die vetterigheid en verfynde keuses op jou bord beperk: Bestel ’n “burger” sonder brood, maar met slaai. Vra vir groente of net ’n klein porsie skyfies. As daar eers meer skyfies voor jou is, gaan jy bitter moeilik nee sê. 10 skyfies of die hoeveelheid wat in ’n klein teekoppie sal regop staan, is 1 aartappel. As jy dus die hele hoop eet, maak jy jou lyf reg vir ’n marathon.

  5. Onthou: elke skyf pizza is omtrent ’n sny witbrood: sal jy agt snye eet?

  6. Drink liewer vonkelwater (sparkling) as koeldrank saam met jou ete – dis in elk geval beter vir jou vertering.

  7. Sorg dat die soort kos wat jy daagliks eet voedsaam genoeg is sodat dit jou liggaam kan help om al die geur-, kleur-, preserveer- en ander bymiddels te verwerk wat deel is van kitskos. Veral koolsoorte is hier belangrik. Maak dus sommer, waar dit moontlik is, koolslaai deel van jou bestelling.

FOTO: Instagram @popxodaily

FOTO: Instagram @popxodaily

Groete tot volgende keer,

Mariza

Lees ook