Andriette Norman
Dieet

Andriëtte oefen én eet gesond

Sangeres Andriëtte Norman het in die verlede erken sy het met haar gewig gesukkel. Nou weet sy dat ’n gesonde leefstyl baie belangrik is. Sy vertel aan SARIE.com wat haar motiveer om aan te hou om gesond te leef.

Wat is jou motivering om ’n gesonde en aktiewe leefstyl te volg?

Om op die verhoog te staan en goed te lyk én voel. Dit gee my soveel meer selfvertroue en dan is ek sommer meer sprankelend.

Watter oefening doen jy?

Ek doen baie kardiovaskulêre oefening en weerstandoefeninge 3 keer ’n week vir 30 minute.

Is dit vir jou belangrik om gereeld te oefen? Waarom?

Ja, dit is. Dit laat my goed en positief voel en ek eet ook gesonder as ek oefen.

Watter tipe dieet volg jy saam met die oefening?

Ek volg sommer my eie dieet. Baie slaai en goeie vette en baie proteïne, geen stysel in die aand nie. Ek eet ses klein maaltye per dag.

FOTO: Twitter

FOTO: Twitter

Het iemand vir jou ’n eet- en oefenprogram uitgewerk?

Ek was al by ’n paar mense wat vir my eetprogramme uitgewerk het, maar ek het sommer so deur dit my eie eetprogram begin uitwerk. Ek weet nou al wat werk vir my en waarvan ek hou.

Wat dink jy is belangrike beginsels vir iemand wat hul lewenstyl gesonder wil maak?

Om reg en gesond te eet is baie belangrik, maar oefening én gesond eet móét saam aangepak word.

Wat motiveer jou om gereeld te oefen en gesond te eet?

Daardie gevoel as jy by die gimnasium uitloop of ’n berg klaar uitgeklim het – jy voel sommer asof jy iets bereik het! Dis ’n positiewe gevoel, ’n empowering gevoel.

Hoe voel jy as jy nie gaan oefen het nie?

Ek voel nie so opgewek en vol lewe as wanneer ek wel gaan oefen nie.

Sarah Theron, Zanne Stapelberg en Andriëtte Norman in 2013

Sarah Theron, Zanne Stapelberg en Andriëtte Norman in SARIE 2013
FOTO: SARIE

Wat motiveer ander bekendes om gesond te leef? Eloïse Cupido en Jo da Silva vertel vir SARIE.com