FOTO: Facebook  Jenna verloor 'n mens

FOTO: Facebook Jenna verloor 'n mens

Dieet

Celeb-haarkapper se reis om 100 kg te verloor

Janine Kotze, ’n bekende haarkapper van Pretoria, het onlangs besluit genoeg is genoeg. Sy het die groot stap geneem om vir eens en altyd van haar oortollige 100 kg ontslae te raak.

Sy gesels met SARIE.com oor die eerste 11 dae van die reis.

“Ek was vir jare lank ’n maer meisie, maar weens traumatiese ervarings het ek ’n emosionele eter geword en dié gewoonte het heeltemal buite beheer begin raak. Ek het gesukkel met wie en wat ek is, en het grappies gebruik om agter die gewig weg te kruip,” vertel Janine.

“My man, Driaan, het so ’n tydjie gelede vir my gesê ek kan nie aanhou om so met myself te spot nie, want dit is nie vir hom lekker as ek ’n grap van myself maak nie. Ek het daardie dag besef dit gaan nie net oor my nie – ek moet iets aan my gewig doen vir hóm ook. Ek moet hom ook respekteer, al is hy lief vir my nes ek is.”

Ek het op my eie probeer, maar die eerste beste roomys wat oor my pad gekom het, het alles bederf en ek het moed opgegee.

- Janine Kotze

’n Paar weke gelede by die opening van ’n nuwe restaurant in Pretoria loop Janine ’n kennis raak. As haarkapper kon sy nie die versoeking weerstaan om vir haar te sê sy moet haar wortels kleur nie. Die kennis, Elaine Pieterse, ’n persoonlike afrigter, sê toe Janine moet bietjie kom gym … En toe Elaine ’n paar dae later by die haarsalon opdaag, besef Janine sy moet nou haar belofte ook hou.

“So begin ek en Elaine toe elke dag vir ’n uur en ’n half saam oefen. Een uur saam met Elaine en ’n halfuur kardiovaskulêre oefening soos fietstrap of trapmeul (treadmill). Maar ek wou seker maak ek gee nie weer moed op nie, toe begin ek elke dag op Facebook blog oor my reis na my doelgewig. Jenna verloor ’n mens, die naam van die blad, gaan letterlik oor my dag-vir-dag-uitdagings en -oorwinnings.”

Ek wil 100 kg verloor, dis ’n hele mens!

Elaine het vir Janine ’n eetplan uitgewerk saam met die nuwe oefenroetine. “Ek is nie gewoond daaraan om ses keer per dag te eet nie. Ek moet baie meer gedissiplineerd wees, my tyd beter bestuur om die kos voor te berei, tyd te maak vir oefen en ses keer per dag te eet. As haarkapper kan ek nie net eet wanneer ek wil nie.”

Haar raad aan ander besige vroue wat hul werk, verkeer, kinders en huishouding moet balanseer, is om jou tyd beter te bestuur:

In pleks daarvan om voor die TV te gaan lê, kan jy jou kos vir die volgende dag voorberei. Trek dadelik jou tekkies aan sodra jy van die werk kom eerder as om op die bank neer te val. Staan ’n uur vroeër op om te oefen …

Met die motivering en ondersteuning van Elaine en die kommentaar op haar Facebook-blad (wat reeds oor 1 000 likes het!) kry sy inspirasie om elke oggend haar tekkies aan te trek. “As jy eers jou tekkies aanhet, kan jy nie omdraai nie,” sê sy. “Ek bid ook baie vir krag om hierdie reis voluit aan te pak.” Sy neem ook stemboodskappe met haar selfoon op om later vir haarself terug te speel en te motiveer.

Janine se raad aan ander wat ook gewig wil verloor is om nie langer te wag nie. “I’d rather gym one hour of the day than be fat for 24 hours of the day,” haal sy aan. “Praat met jouself en dink aan jou eie gesondheid en jou liggaam.”

Haar eerste doelwit is om self haar eie tekkies te kan vasmaak. “In dié stadium maak my man my skoene vas. Ek sal baie bly wees om dit self te kan doen!” Die uiteindelike doelwit, wanneer sy 72 kg weeg, is om op Mauritius se strand in ’n swembroek te stap. “Sonder ’n lap of ’n T-hemp of ’n board short,” vertel Janine.

“En dan oor so twee jaar sal ons baie graag met ’n gesin wil begin, want op die oomblik is dit te gevaarlik om ’n swangerskap te waag.”

Janine gaan maandeliks op haar blog haar gewigsverlies bekend maak. SARIE.com gaan gereeld met haar gesels vir wenke en om haar vordering met ons lesers te deel.

Sterkte Janine! Jy is voorwaar  ’n inspirasie!

Lees ook