Tim Noakes

Dieet

Die Tim Noakes-dieet: Nou ook beskikbaar in Afrikaans

Of jy nou saamstem met dié kontroversiële dieet of nie, dié Engelse resepteboek het van die rakke af gevlieg. En nou is dit ook in Afrikaans beskikbaar.

SARIE se gesondheidskrywer, Lydia van der Merwe, het vroeër vanjaar* dié dieet ondersoek. Dís wat sy bevind het …

Dis ’n kos-revolusie

Die vyand: koolhidrate (suiker & stysel)

Die vriend: hoëvetkosse

Los dus die brood, aartappels en pasta. En sê ja vir vetterige vleis, wors en botter, aldus Noakes.

Die “sammajoor”: prof. Tim Noakes

Wêreldbekende sportwetenskaplike aan die Universiteit van Kaapstad.

 2010: Prof. Noakes was in 2010 ’n prediabeet en het besef tensy hy soos sy pa en oom aan diabetes wil sterf, sal hy ’n nuwe oplossing vir ’n algemene probleem moet vind:

Hoe keer jy die opmars van vetjies as jy ouer word, tensy jy soos ’n maniak oefen?

Hy moes maar net om hom kyk om te besef die konvensionele antwoord, eet minder en oefen meer, werk dikwels nie.

2011: In 2011 sê hy dat alles wat ons die laaste paar dekades oor voeding geleer het, “verkeerd” is, skryf Carine Visagie, sindikasie-redakteur van health24.com, in die nuutste SARIE KOS April/ Mei (26 April op die winkelrakke). Só het hy ’n paar dieetkundiges goed vies gemaak. Want sy hoë-vet-lae-koolhidraat-eetplan verskil radikaal van die lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet wat jare lank wêreldwyd voorgeskryf is.

Sy aha!-ervaring het nie in afsondering gebeur nie. Volgens die Harvard School for Public Health se webblad (www.hsph.harvard.edu) hoop bewyse op dat ’n lae-vethoë-koolhidraat-dieet onvoldoende is vir gewigsverlies, die voorkoming van hartsiektes en verskeie kankersoorte.

Was byna 4 dekades se raad oor versadigde vet (sg. “slegte” vet) – en die beperking van kosse soos room, botter en vetterige vleis – dan verkeerd?

Ja, sê prof. Noakes. Ons biologie is evolusionêr in ’n lae-koolhidraatomgewing verfyn. Ons het dus nie biochemiese “wapens” teen ’n skielike toename in insulien en bloedsuiker ontwikkel nie. Weens ons genetiese samestelling is baie van ons dus deesdae in ’n meerdere of mindere mate “insulien-weerstandig”.

Só eet jy volgens Noakes

NEE vir …

suiker, koeldrank en sappe met suiker, brood, alle rys, pasta, aartappels, pap, ontbytgraan, lekkers en soetgebak, nageregte met koolhidrate, kunsmatige versoeters en produkte daarmee, en plantolies met omega 6-vetsure.

FOTO: Donna Lewis

FOTO ter illustrasie

(Hoewel omega 6 “goeie” vette is, kry ons Westerlinge te veel daarvan in. Dit veroorsaak chroniese laegraadse inflammasie, wat lei tot leefstylsiektes soos hartaanvalle en diabetes tipe 2, en is deel van ’n wye reeks produkte, bv. olies soos sonneblom en druiwepit en die meeste margariens. Dis ook in een of ander vorm in die meeste geprosesseerde kosse.)

Ja vir …

eiers, vis, vleis, volroom-suiwel (kaas, melk, jogurt), groente (veral blaargroente met ’n lae koolhidraat-inhoud; vermy dus aartappels, ertjies, beet) en neute (behalwe grondbone), en drink water, tee, koffie en droë wyn.

FOTO ter illustrasie

Vrugte kom met ’n waarskuwing: Eet min, want dit bevat koolhidrate. Net 1 appel het bv. al die koolhidrate wat jy per dag kan inneem.

Kan almal by dié eetwyse baat vind? Vind HIER uit.

Koop die boek aanlyn by kalahari.com

Kan dit sleg vir jou wees?

Volgens Carine sal dieetkundiges jou waarskynlik afraai om ’n hoë-vet-lae-koolhidraat-eetplan te volg. Talle reken daar’s nie genoeg navorsing om te wys  is op die lang termyn doeltreffend of veilig nie. Veral die versadigde vette (hoog in diervette soos room, botter en rooivleis) is kontroversieel.

Baie mense op ’n HVLK-eetplan verloor gewig en gewigsverlies sal waarskynlik hartgesondheid bevorder, sê prof. Lionel Opie, ’n wêreldbekende kardioloog en voormalige hoof van die Hatterinstituut vir kardiovaskulêre navorsing in Afrika aan die Universiteit van Kaapstad. Hy waarsku egter die uitwerking van ’n HVLK-eetplan op hartsiektes moet nog deur goeie wetenskaplike navorsing getoets word. (Prof. Noakes erken dit.) Onthou ook dat prof. Noakes ’n atleet is en uit die aard van sy werk meestal met ander atlete te doen kry, sê prof. Opie. Baie oefening kan die uitwerking van ’n hoëvet-dieet temper. (Die “slegte” cholesterol verlaag.)

Op sy beurt verwys prof. Noakes na ’n analise van gepubliseerde data wat toon daar is nie ’n verband tussen die hoeveelheid vet in jou dieet en jou risiko vir hartsiektes nie. (In die American Journal of Clinical Nutrition.)

Nee vir alles-of-niks-benadering

Mariza stem geensins saam met die tradisionele “laevet”-benadering nie. Sy is ’n voorstander van die matige inname van diereprodukte en genoeg “goeie” vet (soos vis, neute, avokado’s). “Maar om alle vet wat voorkom te eet en heeldag voor die TV te sit, gaan beslis nie jou probleem oplos nie.”

Koolhidrate: Moet nie die baba saam met die badwater weggooi nie. Alle koolhidrate is nie dieselfde nie. Onverfynde grane en peulgroente en ’n wye verskeidenheid groente en vrugte het ’n plek in ’n gesonde dieet.

Prof. Noakes beklemtoon ook omdat hy ’n hoë risiko vir diabetes tipe 2 het, neem hy die eetplan tot die uiterste. Maar dis nie nodig vir ieder en elk om só ver te gaan nie, sê hy. Mariza stem saam dat ons verfynde koolhidrate (pasta, brood, kitsontbytgrane, kunsmatige versoeters) moet vermy.

Proteïen: In Swede, waar die meeste van die navorsing oor vette en hartgesondheid gedoen is, is van die hoofbronne van proteïen salm, makriel en haring, en ander vetterige vissoorte hoog in omega 3-vetsure (“goeie” vette). Dis plaaslik baie duur, sê Mariza. In SA is die grootste deel van ons proteïene afkomstig van voerkraal-diere en/of battery-hoenders. Die diere se voer sal hul vet-samestelling verander – en meer of minder omega 6- en 3-vette bevat. (By diere wat natuurlike weiding eet soos Karoo-skaap, is die hoeveelheid omega 3 gewoonlik hoër as omega 6.)

En ten spyte daarvan dat prof. Noakes-hulle “suksesverhaal-promosie” inspan, werk die eetplan nie vir almal nie, waarsku Mariza. Want die oorsaak van gewigsprobleme is nie altyd koolhidrate nie.

Jou gene bepaal of ’n sekere dieet vir jou gaan werk of nie. Ons kennis daarvan brei daagliks uit.

– Mariza van Zyl

“Ons weet reeds geneties gaan die HVLK-dieet vir sommige mense meer kwaad as goed doen.” Vetsug is inderdaad baie kompleks, erken Rael. Tog is ’n derde van mense na raming “insulien-weerstandig” en kan by so ’n dieet baat vind. Besoek ’n gesondheidspesialis voor jy jou dieet drasties verander, sê hy. Die laaste woord kom van prof. Opie, in ’n onlangse artikel in die South African Medical Journal: “Die Japannese se dieet is hoog in koolhidrate met baie rys en min vet. Tog lewe hulle die langste. Miskien is dit die vis in hul dieet, of dalk is die geheim om stadig te eet.”

Kontak

*Dié inligting kom uit die aritkel “Die groot vet-debat” in die Mei 2014-uitgawe van SARIE. As jy dié volledige artikel wil lees, kan jy die digitale kopie van dié uitgawe koop. Klik HIER.