helene lady gaga
Dieet

Dieet-blogger Hélène Horak beantwoord julle vrae

Hélène Horak se blog oor haar gewigsverlies op SARIE.com is een van ons gewildste blogs nóg. Haar gewigsverlies van 70kg het baie vroue geïnspireer om gesonder te leef.

Ons het vir byna ’n maand elke weeksdag saam met haar die pad gestap en ons onthul nou haar nuwe lyf in die April-uitgawe van SARIE. Intussen beantwoord sy lesers se dieet- en leefstyl-vrae op SARIE.com.

Hoe sny ek die lekkergoed uit?

Retha du Plessis vra: Jy lyk pragtig! Sjoe, jy is so goeie voorbeeld vir baie mense. Ek wil graag weet, ek is erg lief vir lekkers – ek dink verslaaf daaraan. Wat doen jy om veral in die eerste paar dae van jou dieet uit te hou? Ek gee op ná ’n week en koop weer lekkers. Dis asof my liggaam dit soek.

Hélène: Baie dankie jong. Ek het minder met soet goed gesukkel as met die stoute sout goedjies, maar dis om te ewe. Ek glo jy moet jouself nie ontneem laat voel nie. As jy regtig lus is vir daai soet ding eet ’n bietjie van dit op ’n dag. Soos sjokolade – eet ’n blokkie lekker duur sjokolade net ná aandete. Jou lus word ’n bietjie geblus en jy verbrand dit vinniger.

Ek vat ook happie “belasting” by die kinders as ek regtig lus is vir iets soets eerder as om ’n hele een self op te eet. Nou as jy ooit al tussen ’n 7-jarige en sy lekkers gekom het, sal jy weet jy gaan net een happie kry en klein daarby. Maar nou is jou vreeslike lus ’n bietjie beter en binge eet jy nie ’n hele kas vol lekkers ná twee weke nie.

Ontuis in jou eie lyf?

Sulette Behnke vra: Mens raak gewoond aan jou voorkoms en jy leer om jouself te aanvaar. Was daar ’n tyd wat jy ongemaklik en onseker gevoel het met jou verlies? Asof jy in iemand anders se lyf is?

Hélène: Ja, definitief! Ek skrik nou nog as ek skielik in die spieël kyk. Hahaha! Ek het my sussie se hakke amper met die trollie afgetrap toe ons saam met my ma eenmaal in die dorp was en ek sien in die winkelvenster ons dra byna dieselfde grootte.

Ek dink jy bly vir lank in jou kop nog vet. Dis soms vir my ongemaklik om noupassende klere te dra, alhoewel mense my verseker dat ek nou kan, want ek is bang my rolle wys. Ek het juis op 65 kg opgehou, want ek het te benerig in my gesig  geraak en natuurlik is ons almal bekommerd oor plooie, nè …

Waar kom die motivering vandaan?

Leandri Vd Westhuizen vra: Hi Helene, jy is absoluut stunning! My dood is brood. Het jy dit in jou dieet gehou? Hoe het jy die eerste maand of so gemotiveerd gebly om te gaan oefen? Dankie vir die inspirasie!

Hélène: Baie dankie! Ek eet nie baie brood nie. Ek was nog nooit baie erg daaroor nie. Maar ek lief ’n braaibroodjie, so ek eet net die helfte van een, sodat ek nie op ’n ander dag simpel raak en te veel eet nie. Probeer volgraan lae GI-brood.

Oor die oefening … die eerste maand was hel en die tweede een net nog erger. Hehehe! Ek kan elke dag aan ten minstens 100 goeie verskonings dink om nie te oefen nie. Ek was bitter lus om vanmiddag dit net te los en eerder al die ander belangrike goed te doen wat ek nog moet doen. My punt is dat oefen MOET ’n prioriteit wees. Ons as vroue stel so maklik dit wat óns nodig het uit. En as dit boonop iets is wat jy nie regtig wil doen nie, des te meer. Maar jy móét oefen. As jy ’n verandering in jou lewe, gesondheid of lyf wil sien, moet jy opstaan en werk daarvoor.

Dis hard en dis swaar, maar dit raak beter as jy ’n roetine het. En as dit eers gewoonte is, gaan dit bietjie makliker – ek belowe!

Wat moet ek eet?

Letitia Faulds vra: Hi Helene, hoe het jy in die begin geweet wat jy kan eet en wat nie, dis vir my altyd die grootste raaisel. Daar’s soveel besluite.

Dís nogal ’n raaisel met tye, nè? Selfs ek wat ’n mediese agtergrond het, sukkel soms. Dit voel asof daar elke tweede week een of ander nuwe wonder-kos is wat al jou vet gaan verbrand en wonderlike dinge belowe.

My raad is hoe minder verwerk, hoe beter. Eet groente en vrugte vars en onverwerk, amper so veel as wat jy wil. Jy kan regtig nie verkeerd gaan daarmee nie. Moenie jou blindstaar aan al die fat free- of low fat-tekens nie. Lees die etiket – kyk na die kilojoules of kalorieë in die kos, soms is die verskil so verspot klein dat dit eintlik snaaks is. Ek sê nie eet ’n bak suurroom saam met jou aartappel nie, smooth low fat maaskaas werk net so lekker. Ek bedoel net dat alle dieet-kosse nie noodwendig die beste keuse is nie.

Ek is mal oor Woolies se Slimmer’s Choice fetakaas – dit proe nie soos karton nie. Ek drink lae vet melk in my koffie en koop blikkies lensies, want ek is te lui om die goed vir ure te week in water voor ek dit by my maalvleis gooi. Maar verder koop ek heel gewone kos. Ek eet net baie rou groente en vrugte ook.

Het jy ‘n vraag vir Hélène? Vra dit onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad! Gebruik die hashtag #HeleneHorak en gesels saam!

Lees Hélène se blog in drie aflewerings HIER:

Só het ek 70kg verloor – DEEL 1

Só het ek 70kg verloor – DEEL 2

Só het ek 70kg verloor – DEEL 3

*Hélène is nie ’n dieetkundige nie. Haar raad is wat vir haar gewerk het. Praat met jou dokter as jy gewigsprobleme het of voordat jy ’n streng dieet begin volg.

  • Carla Sherona Maree

    Hallo Helene,
    Ek wil graag by jou weet, watter oefeninge het jy gedoen om jou arms se voorkoms te verbeter. Ek sukkel nou al baie lank om my bo arms beter te laat lyk. As ek daar verby kan kom sal dit vir my ook baie meer motivering gee om aan te gaan.

  • Niena Dauth

    Hi Helene, baie geluk!! Ek wil so graag blog begin,ek het na kankergewas uit rectum verwyder is met n stoma ‘toegerus’en sal graag daaroor wil skryf. Dit is van dag tot dag groter uitdaging. Hoe en waar begin ek?? Assb jou raad en advise en dankie baie!!!