FOTO: Instagram  @radicalradishla

FOTO: Instagram @radicalradishla

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: 6 voordele van spruite

Soms vergeet jy eenvoudige goedjies wat eintlik baie belangrik is … soos hoe iets so klein soos ’n spruit of uitloopsel (sprout) ’n groot verskil kan maak aan die gesondheidswaarde van jou dieet.

Ek was aan’t kantoor skoonmaak toe ek afkom op ’n ou faksmasjien-uitdruk – die ink het oor die jare al baie dof geraak – met inligting oor spruitjies!

Ek onthou toe gelukkig ek het jare gelede ’n spruitjie-maker (sprouter) gekoop wat met baba se geboorte en grootmaak agter in die kas bly staan het. Net daar het ek dié stowwerige boks uitgehaal en siedaar, binne drie dae was daar letterlik bakke vol van die heerlikste spruite in my kombuis. En dit teen ’n fraksie van die prys wat supermarkte daarvoor vra!

FOTO: Instagram @jena8038

FOTO: Instagram @jena8038

Wat kan hulle vir jou doen?

  • Die ontkieming van ’n saadjie is ’n wonderlike proses waarby jou liggaam ook kan baat vind: Die ensieme wat betrokke is, help ook jou verteringsprosesse! Diegene wat dus normaalweg opgeblaas voel van bone en lensies – en daar is baie sulke mense – vind gewoonlik hul spysverteringstelsels is heeltemal tevrede ná hulle spruite geëet het.
  • Anders as die meeste ander gewasse, word spruitjies nooit blootgestel aan die gebreke en gebruike van moderne verbouingsmetodes soos besoedelde waterbronne, gifstowwe en ’n gebrek aan voedingstowwe in die grond nie. Alles wat die spruitjie nodig het om te ontkiem is in die perfekte verhouding beskikbaar, binne-in die boontjie of saadjie self.
  • Spruitjies verskaf belangrike minerale – kalsium, koper, sink en magnesium – in gekonsentreerde vorm. ’n Magnesiumtekort is vandag meer algemeen as in die verlede weens o.a. gebrekkige grondmagnesium en dus laer magnesiumvlakke in voedsel sowel, die hoë prys van voedsel wat ryk is aan magnesium (soos neute) en die verlies aan magnesium wat plaasvind tydens die verfyning van byvoorbeeld koring en hawer (oats).
  • Spruite is ’n baie goeie bron van ’n verskeidenheid voedingstowwe soos vitamien B, vitamien E, vitamien K, vitamien C en proteïene wat, danksy die ensieme, makliker deur die liggaam opgeneem kan word.
  • Gekookte boontjies bevat natuurlik heelwat koolhidrate terwyl spruite ’n “slim” koolhidraat- keuse en ideaal as jy versigtig is vir stysels en suikers.
  • Spruitjies help jou versadig voel, is ’n gekonsentreerde bron van ’n hele verskeidenheid voedingstowwe en is ’n goedkoop en maklike manier om jou gewone middagslaai in ’n japtrap op te kikker en ’n lekker kou-tekstuur te gee.

Laai gerus hier jou metode hoe om spruitjies te maak, af.

FOTO: Instagram @essililjama

FOTO: Instagram @essililjama

Lekker spruit! Lekker BeterEet!

Groete tot volgende keer

Mariza

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za