FOTO: Phyllis Green

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Appelasyn – mors jy jou geld of is dit goedkoop medisyne?

Al vir meer as ’n eeu word appelasyn (apple cider vinegar) voorgeskryf vir allerhande kwale – seer gewrigte, gewigsverlies, diabete, cholesterol – om maar net ’n paar te noem …  En daar is heelwat navorsing oor dié onderwerp. Maar hoe werk dit?

Daaroor is daar nog nie konsensus nie, maar verskeie meganismes word voorgestel.

Een hiervan is dat die asyn die ensieme wat by vertering van suiker en stysel betrokke is, beïnvloed en vertering dus vertraag word. Die effek hiervan is dat die suiker afkomstig van voedsel as’t ware stadiger in die bloed vrygestel word. Die liggaam het nou nie nodig om soveel insulien af te skei nie, want hy hoef nie ’n bloedsuikerpiek ná ’n maaltyd te hanteer nie. Minder insulien- en bloedsuikerpieke is reeds positief vir gewigsverlies, diabetes en selfs hartsiekte en verhoogde cholesterol.

Ons weet ook dat appelasyn ’n effek het op hoe vinnig die maag leeg word ná ’n maaltyd. ‘n Maag wat langer neem om leeg te word, beteken jy voel langer vol.

Daar is byvoorbeeld in studies met rotte verandering waargeneem in die vlakke van bloedvette ná ’n maaltyd voorafgegaan deur appelasyn… Minder bloedvette kan beteken minder vet moet gestoor word – maar onthou rotte is nie mense nie…

Studies wys ook dat appelasyn moontlik die manier wat die liggaam koolhidrate (stysel en suikers) opneem, kan affekteer.

Iets wat my gedagtes oor dié appelasyn-aansprake geprikkel het, is ’n onlangse studie oor asynsuur en Candida.

Almal het Candida in hul derms. Die moeilikheid begin as daar te veel is of as die verskillende soorte flora en gisse in die derm nie in balans is nie. Dit is vandag ’n groot probleem onder baie mense. Een dosis antibiotika is al wat nodig is om die balans in jou dermflora te versteur.

Die studie was wel gedoen op Candida-infeksie op die vel… Asynsuur het effektief die oormatige groei van die swamme gekeer – sonder die newe-effekte wat andersinds gepaardgaan met anti-swam middels, soos weerstandigheid.

Dit het my laat dink – is dit nie ’n moontlike meganisme waarom soveel mense goed respondeer op ’n skeutjie appelasyn nie? Die sure in die asyn help die derm!

Veranderinge in ons ‘flora’ – te veel van een te min van ’n ander – word verbind met die verhoogde voorkoms in oorgewig, diabetes, hartsiekte, allergieë, inflammatoriese toestande soos artritis en selfs ADHD.

Alles in ag genome is dit beslis ’n moontlikheid dat die asyn so goed is vir ons omdat dit die oormatige groei van ‘verkeerde’ flora in die dermkanaal hok slaan – en dit alleen is van ongelooflike waarde vir ons gesondheid.

’n Woord van waarskuwing: Hou by ‘kos’-dosisse, want as jy oorboord gaan, kan jy jouself goed seermaak.

Oormatige gebruik van suur – soos asyn – sal tandemalje wegvreet. Daar is ook ’n geval beskryf waar ’n appelasyn-kapsule in iemand se keel vasgesit het en vir langer as 6 maande was eet ’n pynlike proses vir dié slagoffer. Mense wie se maag-lediging a.g.v. diabetiese komplikasies aangetas is (gastroparese), moet ook nie te veel asyn gebruik nie, want dit kan die toestand net vererger.

Ek sal maar moet wag om te kyk of iemand my teorie wil toets, maar intussen is my raad om appelasyn te gebruik om ’n heerlike slaaisousie te maak by die meeste maaltye – en só baat te vind by die slaai én die sous!

Laai gerus hierdie lekker slaaisous-basis af en voeg jou gunsteling-kruie by vir lekker variasies op die tema. Kry die resep HIER.

BeterEet-groete tot volgende keer

Mariza van ZylMariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

Leer gereeld meer by Facebook/bettereat