Foto deur Lee Malan
SARIE KOS OKT/NOV 2013

Foto deur Lee Malan SARIE KOS OKT/NOV 2013

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: “Boere-Banting”, tipies Suid-Afrikaanse grappies en kwessies oor kerk en kos…

Hier is die laaste aflewering in my kort blog-reeks oor Banting volgens prof. Noakes.

Ek is seker jy sal saamstem dis tipies Suid-Afrikaans dat die grappies en gesegdes altyd net ’n kortkop agter die tragedie, die krisis of selfs die twispunte in ons samelewing is. So is dit ook met die Banting-tendens, en jy hoor mense noem dit onder meer “Prof. Slim Noakes se dieet” en “Tim Joakes se dieetraad”.

Maar daar is ’n gesegde wat lui ’n boer maak ’n plan – en dis inderdaad ook die geval met Banting.

In my praktyk raak die aantal pasiënte wat half skaam erken hulle het ook probeer Bant, al meer. En die spekkies sit steeds.

Wanneer jy individueel met mense praat, soos wanneer jy iemand konsulteer, is daar tyd vir detail. Dít is nie die geval wanneer jy met ’n groep mense praat of ’n praatjie lewer nie. In ’n individuele gesprek kan daar detail oor jou en jou kos gedeel word: wat eet jy, hoeveel eet jy, hoe maak jy dit gaar, wat is vir jou lekker? Hoe voel jy oor kos? Hoe voel jy oor jou lyf en hoe voel jou lyf oor jou kos? Jy moet fyn luister om te “sien” en ook te verstaan wat iemand se koskwessies is.

Wat ek tans hóór – en sien – is dat hierdie Banting-ding heeltemal ’n lewe van sy eie gekry het.  Elke boer maak sy eie plan. Elkeen doen dit nes dit hom of haar pas.

Piet Pompies eet lekker spek en eiers vanoggend, biltong en droë wors vir middagete en vanaand cauli-mash met maalvleis.

Piet Spiere kombineer die Banting met sy body building -behoeftes en eet soggens 12 eiers, maar nét die eierwitte. Middagete is dit 6 hoenderborsies, en dan vanaand weer. Daar’s darem ook groente.

Soekie se weergawe van Banting sluit die room in die koffie in, maar die vetterigheid maak haar naar – sy hou dus smiddae by haar hoenderborsie, tamatie, kropslaai en komkommer. Sy is stelselmatig besig om haarself in ’n matige wanvoeding in te eet omdat daar te min variasie in haar dieet is.

’n Vriendin merk filosofies op dat ons mense dalk so ’n messiaanse behoefte het om “iemand of iets” te volg omdat ons kerke aan die leegloop is. Nou is daar ’n lojale gejuig en gejubel oor Banting …

Maar net soos met kerk, lyk dit my dit gaan nooit gebeur dat almal saamstem nie. Dit is ook nie nodig nie. Dit is goed dat mense op ’n kos-missie is. Maar dis veel belangriker dat elkeen sy eie pad na sy eie “regte manier” vind.

Wanneer jy hierdie goeie plek gekry het waar jy nie heeldag stres oor of jy reg Bant of reg … of reg … (vul jou toepaslike “dieet” se naam hier in) al dan nie, is jy reeds ’n paar stappies nader aan beter voel en beter eet. Want sonder so ’n swaard oor jou kop kan jy beter funksioneer.

Dít alleen – geen swaard – is vir jou gesondheid meer werd as net brandmaer wees. Sonder grappies.

Groete tot volgende keer

Mariza van ZylMariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoekwww.betereet.co.za

Lees ook