Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Cholesterol-riglyne – wie drink verniet pille?

Bang vir cholesterol? Vetvry gaan jou nie beskerm nie, en miskien is jy (of iemand wat jy ken) verniet op pille – volgens die nuuste riglyne en aanbevelings.

Die nuutste riglyne vir die behandeling van cholesterol is pas deur die Amerikaanse Hartstigting en Skool vir Kardiologie (die studie van die hart) vrygestel. Die kort en die lank van die nuwe boodskap: behandel die pasiënt, nie die bloedtoetse nie. Dit beteken vir die man op straat nie veel nie, daarom verduidelik ek.

Vir jare is riglyne voorgehou waarvolgens voorskrifte vir cholesterol-verlagende medikasie gegee is wanneer ’n pasiënt se cholesteroltelling, veral die sogenaamde “slegte” cholesterol (LDL), bo sekere waardes was. Die feit is, cholesterolmedikasie (net soos alle ander medikasie) is nie sonder newe-effekte nie en het ’n invloed op die hele liggaam. So is daar byvoorbeeld ’n verhoogde risiko vir die ontwikkeling van diabetes. Mense ervaar ook dikwels spierpyne en swakheid as newe-effekte van dié medikasie. Dus, sonder om te kyk na wat in die res van jou lyf aan die gang is, is die pakkie pille oor die toonbank geskuif en het jy ’n lewenslange kliënt geword – net soos ’n kwart van die Amerikaanse bevolking.

Die nuwe riglyne werp nou meer lig op die saak en gee stukrag aan die belangrikheid van “ander” maniere om die “toestand” meer doeltreffend te behandel. As jy byvoorbeeld ’n ietwat verhoogde cholesterol het, maar jou “goeie” cholesterol is hoog en jy nie probleme met jou  bloeddruk en geen familie-geskiedenis van hartsiekte het nie, dan is jy nie meer ’n kandidaat vir die medikasie soos jy in die verlede sou wees nie – al is jou cholesterolvlak verhoog.

Dis tyd om meer vrae te vra voor jy net jou volgende voorskrif gaan haal. Dis ook tyd om die ware voordele en die ongelooflike invloed wat jou kos- en leefstylkeuses op jou gesondheid het, van nader te bekyk. Die nuutste riglyne bevestig net weer die belang van nie “dieet” nie, maar van klem op die proses om keuses te maak wat jy lewenslank kan toepas.

Ongelukkig gaan jy nie ’n vreeslike verskil maak as jy dink jy doen jou ding met ’n fokus op laevet- of die hartgesond-produkte nie. Nee, die soort vet, die soort stysel, die soort groente, hoe gereeld jy eet, die lekkers wat jy kies, hoeveel kitsprodukte en geriefsvoedsel jy eet en of jy sekere kosse soos neute en sade net nie gereeld of genoeg eet nie – om maar ’n paar voorbeelde te noem – sal jou lyf help om die regte cholesterol-profiel te handhaaf.  (Meer hieroor op www.betereet.co.za)

Hoe moet die man op straat onderskei? Die meeste mense is al deurmekaar gepraat oor cholesterol. Dis ’n moeilike een, want onthou: almal soek ’n maklike oplossing en wil nie altyd te veel dink nie, of het nie tyd om te veel te dink nie.

As ’n eenvoudige “reël” is ek altyd skepties as ’n aanbeveling gemaak word wat net op een gesondheidsaspek fokus. Byvoorbeeld: Dis goed vir die hart. My rede: Die lyf is ’n komplekse orgaan, en ja, dit is miskien goed vir die hart, maar wat van die derm of die bloedsuiker of insulienweerstandigheid of die brein? Kyk nou maar hoe kry die laevet-dieet bloedneus t.o.v. die vetsug-epidemie in die wêreld! Miljarde rande is spandeer om laevet-produkte te ontwikkel, en steeds word die epidemie net erger…

Onthou: Cholesterol is nodig in jou liggaam – vir jou hormone en jou breinfunksie. Vra dus wanneer jou voorskrif hernu moet word en maak seker die “dieet” wat jy volg bevat álles wat jy nodig het vir gesondheid – nie nét cholesterol-verlaging nie.

Lees gerus meer oor dieet en cholesterol op www.betereet.co.za en kuier saam op FACEBOOK/bettereat vir daaglikse beter koskeuses.

Mariza van Zyl RD(SA)

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet™ Voeding en Voedsel Konsult