FOTO: Instagram @_filipagomes_

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Daar’s iets in my bord wat jou lewe kan verander

Raai, raai: Daar’s iets in my bord wat jou lewe kan verander …

Dit is sonder oë, sonder vingers, tone en glad nie grillerig nie. Soms is dit donkergroen, soms is dit liggroen. Dis eetbaar en hoe meer jy daarvan gebruik, hoe beter is jou kanse op maerword, gesondwees en goedvoel.

Dis kruie! Geurig en smaaklik en grootliks ’n onontginde bron van gesondheid. ’n Handvol groenigheid by jou bord kos verhoog moeiteloos die gesondheidsindeks van jou dieet – en kikker jou smaak-ervaring terselfdertyd op. Jy kan as’t ware sê kruie is ’n heerlike mondvol “medisyne”.

Daar is egter ’n groot verskil tussen medisyne en kruie-kos. Medisyne oefen gewoonlik net sy aksie op ’n enkele teiken in die liggaam uit. Kruie, daarenteen, het ’n uitwerking op ’n wye spektrum aktiwiteite in die liggaam. Selfunksie en -kommunikasie, en selfs die manier hoe jou gene hul rol speel in jou gesondheidsprobleme, word “verander” deur die kombinasie van aktiewe bestanddele in kruie.

Kruie is byna ’n “een-skoot-skiet-al-die-moeilikheid-weg”-hulpmiddel!

Mense kook deesdae min met vars kruie. Enersyds is dit weens ons gejaagde bestaan. Andersyds het ons gewoond geraak aan kits-opsies vir geur en smaak. Kinders se kommentaar en gedrag spreek veral hier boekdele: as die tamatiesousie nie proe soos die een waaraan hy gewoond is nie, wil hy dit nie eet nie… Of miskien hou jy nie regtig van kosmaak nie en wil die kook- en eet-kwessie net so vinnig moontlik afhandel. Moontlik is jy net onseker en weet nie watter kruie sal lekker wees saam met watter kos nie.

Hoe dit ook al sy: “moderne” en kitskos is smaak-arm. Tog is dit iets wat jy baie maklik kan verander!

Lente en vroegsomer is die ideale tyd om ’n paar kruieplantjies te plant. As jy nie ’n tuin het nie, kan jy dit sommer in potte plant. Net ’n handjie vol elke dag is al wat nodig is om jou daaglikse eet-ervaring te transformeer. Vars kruie is ook al hoe meer beskikbaar in ons supermarkte.

’n Bietjie is goed, en meer is nog beter om jou bord kos nie net stukke lekkerder nie, maar ook hope gesonder te maak.

FOTO: Instagram  @wiltshireau

FOTO: Instagram @wiltshireau

Om jou te inspireer, 3 baie algemene kruie en meer oor die voordele wat opgesluit is in die groen blaartjies van hierdie kruie-plantjie. Ek hoop jou lyf raak lus vir dié gesondheid:

  • Pietersielie Heerlik vars gekap saam met enige groenteslaai (rou werk ook lekker met bv. geroosterde groente), of kikker ’n rys-en-lensieslaai op. Pietersielie is ryk aan onder meer vlugtige olies wat detoksifikasie-prosesse in die liggaam stimuleer.

  • Marjolein is heerlik saam met gestoomde groente, hoender en vis. Die aktiewe bestanddele verander die funksie van gene wat bepaal of jy bloedsuiker of cholesterolprobleme en gepaardgaande gewigsprobleme en insulienweerstandigheid sal ontwikkel. Terloops, dieselfde geen wat voordeel trek uit marjolein is ook die een wat maak dat jy vet word as jy te veel versadigde vet eet. As jy hierdie genetiese variasie het (PPAR-gamma) – gooi die groen blare sommer dik!

  • Tiemie is ook ’n krui wat maklik groei en lekker is saam met vis, hoender en vleis. Dit het ’n bewese invloed op inflammasie en dus op metaboliese sindroom.

Al begin jy net met een of 2 opsies, sal jy reeds ’n positiewe effek in jou bewerkstellig. Eksperimenteer hoe jy kruie kan gebruik. Onthou, net soos met enige groente, hoe minder jy die groenigheid martel met hitte, hoe beter!

Meer wenke oor kruie en hul gebruike en voordele op www.betereet.co.za en facebook/bettereat.net.

Groen groete tot volgende keer

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za