Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Die 3 grootste dieetfoute en dieetfoefies

Dis dáárdie tyd van die jaar – somerklere word uit die kas gehaal en swemgoed word afgestof. Vermy jy die spieël? Hol jy weg vir die skaal? Jy dink miskien spyt kom altyd te laat en daardie laaste happie nagereg was dalk nie nodig nie. Dieetkundige Mariza van Betereet gee raad!

Wanneer jy eers begin desperaat raak om jou wintervetjies te verloor, moet jy mooi kop hou. Jy kan nou baie vinnig in die slaggat val om dieetfoute te maak én dieetfoefies te glo.

Dieetfoefies

Wees meer krities en versigtig. Lees tussen die lyne. Pasop vir woorde soos “wonder” en produkte wat onmoontlike beloftes maak. Dié bemarking sinspeel op sukses en druk al die regte knoppies. Dit druk ook die maak-my-beursie-oop-knoppie! Die resep wat gewoonlik gevolg word, lyk só:

  • Die WONDER-middel/dieet/aanvulling/hulpmiddel/inspuiting: Eers later besef jy dat jy ’n streng dieet ook moet volg.
  • Die BELOFTE: Jy gaan soos ’n filmster lyk en 12 kilogram in 20 dae verloor.
  • Die BELONING: Eet soveel jy wil én kry die lyf wat jy altyd wou gehad het.

Die 3 grootste dieetfoute wat jy moet vermy

1) Te min kos

Jy vra dalk: “Moet ek nóg minder eet om gewig te verloor?” Vir seker. Maar as jy té min eet, verloor jy meer spiere, minder vet én baie water. Daarom word jy vinnig ‘ligter’, maar jou metabolisme word baie stadiger en jy sal – en dit waarborg ek – die gewig optel sodra jy weer “normaal” eet. Enige eetplan wat byvoorbeeld jou groente-inname beperk to 100 g per maaltyd, of veroorsaak dat jy heeldag honger is en duiselig voel omdat die kos nie eens ’n piering volmaak nie,  moet met baie agterdog bejeën word.

2) Dieselfde opsies

Die tipiese “spyskaart”-tipe dieet: ’n Beskuitjie en eier vir ontbyt; appel en maaskaas vir middagete; en ’n hoenderborsie met ’n groenslaai vir aandete. Wanneer jy só eet verseker dit dat jou liggaam nie die belangrike voedingstowwe inneem nie. En dié voedingstowwe is broodnodig om jou metabolisme aan die gang te hou. ’n Bleek vel, dor hare, sagte naels, tamheid en moegheid is jou voorland.

3) Uitskakeling

Pasop vir “diëte” wat jou vra om een of meer voedselgroepe totaal uit te skakel sonder om ’n alternatiewe manier voor te stel om dié voedingstowwe te vervang. Hierdie benadering is baie gewild, want dit skep die indruk dat dit “maklik” is. Skakel alle suiwelprodukte uit, skakel alle koolhidrate uit, kies alles vetvry! Dit op sigself is nie altyd die probleem nie en dit is vir baie mense ook nodig om sekere kos uit te skakel of minder daarvan te eet. Die probleem ontstaan wanneer daar nie genoeg aandag gegee word om te verseker dat die voedingstowwe wat dan uitgeskakel word, dienooreenkomstig op ánder maniere ingeneem word nie. Dis eenvoudig: as jy nét vleis en vet gaan eet en niks meer koolhidrate nie, gáán dit moeilikheid veroorsaak. Gewaarborg.

Elke mens wil gemaklik voel in sy of haar eie vel en het ’n behoefte aan sukses. Om jou gewig te beheer is ongelukkig heeltemal ’n ander storie. Dis selde maklik. Juis daarom is dit vir baie mense moeilik om die “wonder”-hulpmiddels en ongelooflike suksesverhale te weerstaan. Jy ken miskien die gevoel – jy begin vinnig dink “as sy dit kon doen, kan ek ook”.

Daar ís soms ’n bietjie magic nodig om gewig af te skud, maar jy kan dit doen sonder om jou lyf kwaad aan te doen, sonder dat jy later dubbel soveel selluliet het, sonder dat jou metabolisme beskadig word, sonder dat jy jouself later verwens omdat jy dubbel soveel gewig as “beloning” gekry het.

Dit neem soms net ’n bietjie langer …

Tot volgende keer, en LIKE gerus Facebook/betereet as jy elke dag ’n bietjie meer wil leer HOE jy regtig beter kan eet!

Groete

Mariza van Zyl RDKliniese Geregistreerde DieetkundigeBeterEet Voeding en Voedsel KonsultFacebook/bettereatwww.betereet.co.za Mariza

 

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER