FOTO: Instagram  @kryptonklary

FOTO: Instagram @kryptonklary

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Die “dinge” in jou derms

In “ ʼn Ding oor derms” het ek jou bietjie meer vertel oor die dieetbehoeftes van die “saamryers” in jou derms. En daarop gewys hoe belangrik dit is om nie net staat te maak op aanvullings nie, maar ook om gefermenteerde kossoorte deel te maak van jou eetpatroon. Ek het ook vlugtig verwys na die belang van probiotika vir jou gesondheid in die algemeen, nie nét vir jou gereeldheid nie.

’n Gesonde probiotika-balans verbeter byvoorbeeld jou gesondheid deurdat sekere organismes vitamiene vervaardig: vitamien B1, B2, B6, B6, B12, biotien en folaat, almal belangrik vir metabolisme, energie, gesonde hare, naels en beskerming teen veroudering.

Jou immuunstelsel en selfs vatbaarheid vir depressie word ernstig beïnvloed deur jou dermflora-balans.

Hoewel ons gewoonlik praat van “derm”-flora, is hierdie belangrike organismes inderwaarheid teenwoordig van jou kroontjie tot jou toontjie.

Selfs in jou mond – die begin van jou spysverteringskanaal – is verskillende flora teenwoordig. Bietjie laer af, in jou maag, is daar minder flora weens die suur in jou maag. Uit die maag na die lang dunderm vermeerder die getalle weer, en in die dikderm is die hoogste konsentrasie mikro-organismes op enige plek op aarde.

Hoeveel probiotika in jou spysverteringskanaal lewe, en die balans tussen hulle, is uniek en wissel na gelang van vele faktore: Is jy normaal gebore, is jy geborsvoed, is jy Japannees, hoeveel kere het jy al antibiotika gehad, en hoe oud is jy? Jou derm-saamryers – hoeveel, watter soort en of hulle jou inderwaarheid help of hinder – word krities beïnvloed deur die gebrek of aanwesigheid van bepaalde voedingstowwe asook dinge wat jy doen of nie doen nie, soos oefening of reis.

Jy kan nie verander hoe jy gebore is nie, of wat jou nasionaliteit is nie, maar jy kan verander wat jy eet en doen. So speel die flora-spesies in die mond ’n rol in tandgesondheid en bepaal onder meer hoeveel gaatjies jy kry.

Ontsmet jy daagliks jou mond ter wille van mondhigiëne met mondspoelmiddel? Al ooit gewonder wat hierdie ontsmetting dalk doen aan jou flora – nie net in jou mond nie, maar ook in die res van jou dermkanaal? Ek het nog nie so ’n studie gesien nie, maar dit sou bitter interessant wees as iemand al gekyk het of daar ’n verband is tussen die gebruik van mondspoelmiddel en oorgewig, aangesien die afwesigheid of aanwesigheid van sekere flora bepalend is in gewigsbeheer.

As jou lysie van “voedsel om te vermy” baie lank is – daardie een in jou kop of op jou yskas – of jy volg dalk ’n dieet wat swaar leun op een of twee voedselgroepe omdat die ander te veel koolhidrate of vet of wat ook al bevat, is jou kanse baie groter dat jy jou arme dermflora laat honger ly. Miskien eet jy oor en oor dieselfde kossoorte – rys, vleis en aartappels, of miskien net slaai en vetterige vleis? Maak jy baie staat op voedsel wat heelwat preserveermiddels bevat?

Hierdie aksies speel almal ’n belangrik rol in hoe “gesond” die lede van jou derm-saamryklub is, en dus hoe gesond jy is. Die afwesigheid van sekere voedingstowwe (nie net die byvoeging van flora nie) het ’n beduidende uitwerking op dermflora-balans.

Soos gewoonlik blyk dit al hoe meer dat die dieet-wenner verskeidenheid is. Die belang van variasie, selfs al kies jy ’n bepaalde “dieet”-benadering, kan nie genoeg onderstreep word nie. Dít alleen maak jou dieet BETER!

“Eet- en doen” dinge wat jou derm se gesondheid kan verander:

  • Lemoene bevat aktiewe bestanddele, soos hesperetin, wat die groei inhibeer van bakterieë wat maagsere veroorsaak (Helicobacter pylori). Die jongste navorsing wys die gebruik om hierdie organisme met antibiotika uit te roei is miskien nie heeltemal so ’n goeie plan nie, aangesien dit (Helicobacter pylori) in der waarheid ’n beskermende effek in die liggaam het wanneer dit nie wild groei en buite beheer is nie.
  • Tannien in rooiwyn en tee inhibeer ’n slegte bakterie, Clostridium, en stimuleer die groei van probiotika (goeie flora).
  • Die polifenol kwersetien, waarvan uie ’n goeie bron is, help keer dat slegte bakterieë soos Coli, wat algemeen in ons voedsel voorkom, vatplek kry in jou dermkanaal.
  • Vesel – veral sekere soorte vesel (inulien) vanaf koring, rog, piesang, uie en preie – dien as “groeimedium” vir probiotika. Koring-sensitief? Maak seker jy eet genoeg uie en preie!
  • Oefening, te min slaap of selfs ’n reis per vliegtuig kan ook jou dermflora affekteer. Tydens oefening vermeerder spesies van bakterieë wat ’n rol speel in bloedsuikerbeheer en gevolglik gewigsverlies . Maak seker jy oefen genoeg … veral as jy reis.

Besoek www.betereet.co.za en Facebook/bettereat vir resepte en idees hoe om hierdie voedsel deel te maak van jou dieet op lekker maniere.

** VRYWARING – Hierdie blog het ten doel om inligting oor voeding en die menslike liggaam beskikbaar te maak aan die algemene publiek en die doel is nie dat dit gebruik word as individuele terapie of behandeling nie. Vir individualisering, bespreek asb. u unieke geval met ’n mediese dokter of geregistreerde dieetkundige.

Groete tot volgende keer

Mariza

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za