Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Eet jy genoeg van die ‘regte’ vet om gesond – en maer – te word?

Miskien dink jy dadelik, ja, ek het al hiervan gelees, daar’s slegte vette (en gewoonlik word diervette as “sleg” gebrandmerk) en goeie vette (die plantaardige vette).  Dis ongelukkig nie so eenvoudig nie.

Nie alle diervette is “sleg” nie, en nie alle plantaardige vette is “goed” nie. Hierdie manier wat gebruik word om sekere produkte te “brandmerk” en die indruk te skep dat ’n ander “net goed” is, is wat my betref gevaarlik! Dit ontneem jou van belangrike voedingstowwe en natuurlik lekker eet!

Dis ’n wye onderwerp en een wat baie debat uitlok.

Om te verstaan waaroor vet gaan, nooi ek jou om vandag saam met my klere-inkopies te doen.

Net soos ’n “klerekas” opgebou is uit verskillende items in verskillende kleure, so is vet ook.

Soos die klere in ’n deftige boetiek gegroepeer word volgens kleure, word die “boustene van vette”, genaamd vetsure, gegroepeer na aanleiding van hul struktuur. Rooi bymekaar (die sogenaamde versadigde vette), groen bymekaar (die mono-onversadigde vette) en oranje bymekaar (die poli-onversadigde vette). Die rooies is “harder” of stywer, die groenes is sag maar met houding en die oranje poli-onversadigde vette is heeltemal “pap” en vloeibaar – in so ’n mate dat hulle byna té onstabiel is.

Daar’s natuurlik ook nie net rokke of broeke nie, daar’s serpe, T-hemde, bloese, skoene. Dieselfde geld vir vette – jy kry verskillende soort mono-, poli- en versadigde vette.

Ons lewe ál meer in ’n wêreld waar ’n mens GROEN moet dink – en dieselfde geld vir vette.

Dit is oor en oor bewys: Die balans in ons dieet moet berus daarop dat die meeste van die vette wat ons inneem, GROEN of mono-onversadigde vette moet wees. Ons moet minder ROOI en ORANJE of versadigde en poli-onversadigde vette in ons dieet hê.

Een van die boustene van gesondheid waarop die Mediterreense dieet berus, is dan juis dat dit RYK is aan mono-onversadigde vette. Hulle eet egter ook VLEIS en volvet-suiwel-kase – produkte wat ANDER vetsoorte bevat – maar minder hiervan.

Wanneer jy begin bewus word van die soort vet in die kos wat jy koop, gaan jy miskien ’n paar interessante verrassings kry …

Draai die pakkie spek om. Dis mos SLEG – want dis diervet/versadigde vet? Verrassing! Jy sal sien daar’s meer MONO-onversadigde vette as versadigde vette in. Die bottel druiwepit-olie wat almal al aangeskaf het op Nataniël se aanbeveling … Net soos sonneblom-olie, sojaboon-olie en mieliepit-olie is DRUIWEPIT-olie grootliks poli-onversadigde vette. Vloeibaar maar ietwat “onstabiel” in die liggaam.

Moet jy dus nét GROEN dra? Verseker nie. Gaan jy jou laat vertel dat jy nie ’n mooi rooi serp of ’n paar oranje sokkies gaan aanskaf om jou gunsteling-uitrusting mee op te kikker nie?

Dieselfde geld vir vette. Wat van kardinale belang is, is dat jou basis reg moet wees.

Hier’s hoe

Die keuses in jou koskas moet berus op vette wat meer MONO-onversadigde vette voorsien: olyfolie, kanola-olie, neute, avokado en olies gemaak hiervan.

Dit kan jy “opkikker” met ’n komplementerende rooi item – versadigde vette (room, botter, kaas, vleis, spek, en ook ’n bietjie oranje) en ’n paar oranje skoene – poli-onversadigde vette soos druiwepit-olie en sade soos sonneblom, sesam en pampoen.

’n Onlangse studie wys dan ook ’n bietjie meer van die regte olie gaan verseker jou gewigsverlies-pogings bevoordeel en ons weet dit help met honger! Lees gerus meer hier: ‘n Lepel olyfolie vir beter gesondheid! en Bly jy honger op jou ‘gesonde’ dieet? (klik op die skakels).

 

Lekker eet! Tot volgende keer, en LIKE gerus Facebook/betereet as jy elke dag ’n bietjie meer wil leer HOE jy regtig beter kan eet!

Groete

Mariza van Zyl RDKliniese Geregistreerde DieetkundigeBeterEet Voeding en Voedsel KonsultFacebook/bettereat

www.betereet.co.za

Mariza

 

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER