sarie023
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Eet liewer koek as brood!

Nee – moenie jou resepteboeke gryp of in jou kar spring om na die tuisnywerheid te jaag om ‘n groot stuk koek te kry….wag eers – ek wil asseblief net gou ‘n paar geheime van koek-eet met jou deel.

Die brein en die hart en die lyf (gedagtes, emosies en ons masjienerie – in mediese terme fisiologie of metabolisme) moet saamwerk vir goeie gesondheid. Gesondheid is nie net die afwesigheid van siekte nie, dit is veel meer! Dis om regtig ‘goed’ te voel! Energiek, lewenslustig, reg vir die dag!

Dis moeilik om regtig gesond te wees as mens te min slaap en daarom elke oggend moeg opstaan – miskien omdat jy te veel werk het, klein kindertjies wat jou wakker hou of snags wakker word om die wêreld se probleme uit te sorteer.

Dis moeilik om gesond te wees as jy so ongemaklik is in jou lyf dat jy nie lekker kan beweeg nie. Dis onmoontlik om regtig gesond te wees as jy nie genoegsame voedingstowwe inkry nie al is jy so dun soos ‘n strepie. Dis moeilik om gesond te wees as jou dieet wat jy volg vir diabetes, insulienweerstandigheid of watookal nie perfek gepasmaak is nie!

Maar waar pas die koek in? Die koek pas soortvan by die lyf se behoeftes – maar meer by die emosies en gedagtes … mits die vriendin nog in die prentjie is!

EK het ‘n vinnige vergelyking gedoen: ‘n gemiddelde sny witbrood weeg ongeveer 40 – 50 g. ‘n Snytjie wit sponskoek so 2 cm dik ( die soort wat mens koop as Madeira-koek of piesangbroodgrootte) weeg ook omtrent 50 g. Die snytjies het min of meer dieselfde hoeveelheid koolhidrate/stysel. Die koek het meer vet – 3 plat teelepels botter in totaal. Nie dik versiersuiker nie hóór. Maar dis lekker net so.

Die kans dat jy die sny witbrood net so gaan eet is min. Die vergelyking word baie gelyk sodra mens ‘n bietjie botter en kaas opsit – en as mens konfyt bysit, gaan die koolhidrate/styselwaarde natuurlik op. Dan’s die koek en brood voëls van eenderse vere.

As mens dus sou sê: om gewig te verloor moet mens bv. kilojoules beperk of porsies tel, kan jy maklik ander plekke in die dag ‘n bietjie vetjies afsny en die snytjie koek geniet sonder om jou kilojoules of porsies om te krap. Ek wil my verstout om te bespiegel dat jy nie eers veel aan die GI van die hele affêre gaan verander nie…

MAAR – wat jy gaan kry as jy die stukkie koek saam met die vriendin geniet wat GEEN sny brood in die wêreld ooit vir jou sal kan gee nie, is ‘n lekker geklets! Tjie-tjie-tjie….

Dít is vir ons vroue van onskatbare waarde. Ja – vir ons gesondheid. Kontak met ander vroue – vriendinne – gaan oor veel meer as kilojoules, vet en GI. Dit help jou brein meer ‘goedvoel’-hormone vervaardig. Dit help jou masjienerie om oortollige ‘streshormone’ te balanseer met goedvoel-endorfiene.

Dit bring mens mos dikwels terug ‘grond’ toe as jy net ‘n ander opinie hoor oor ‘n ding wat pla! Dít alleen verlaag jou streshormoonvlakke en sommer ook bloedsuiker en insulienvlakke. Natuurlik bloeddruk ook. Sal help vir die hoofpyn!

Die koek en die vriendin is dus onlosmaakbaar deel van ‘n gesonde leefstyl! Die wonderlike ding is natuurlik ook dat as jy nie meer die slagoffer van die reusagtige, walglik soet, ongeskik dik versierde stuk koek is nie, maar jouself so posisioneer dat jy jou vrou kan staan en besluit wat jy in jou mond gaan steek, verander die dans met die koek en sommer al die ander dieet-taboe’s ook.

Jy kan nou besluit: ek gaan vir die volgende maand bietjie minder kilojoules inneem of minder stysel en meel en suiker eet, minder geprossesseerde kos, meer vrugte, neute en groente om my masjienerie(lyf)gesondheid te bevorder.

Of jy kan jou vrees vir die ‘onthouding’ wat soms nodig is om meer kilogramme te verloor, verloor. Dan word dit onnodig om jouself te saboteer met stukke koek. Jy hoef dan nie meer ‘op dieet’ of ‘af dieet’ te wees nie. As jy beheer neem – en dit nie oorlaat aan ‘n inspuiting, pil of etiket se ‘klassifisering’,  sien mens ook dikwels nuwe moontlikhede en opsies raak wat voorheen verskuil wat agter hierdie fantasie van ‘n groot stuk koek wat jou sóveel beter gaan laat voel.

Geniet saam met jou vriendin ‘n klein stukkie koek. Nie die een met die dikste versiering. Wat van ‘n pannekoek (ag kan iemand die restaurante asseblief net vra om hulle te vul met geroosterde vrugte sonder ekstra suiker vir my asseblief! ) Gooi self die kaneelsuiker oor – net ‘n bietjie. Geniet die lepel room daarmee saam – liewer as die roomys – net so lekker maar minder soet – beter vir die lyf. As jy self ‘n tee aanbied – probeer die lae vet room – kannie klits nie – maar kan oorgegooi word.

Deel! Vra vir een porsie en twee borde. ‘n Halwe skon met min room en konfyt is net so lekker soos een met baie! Herinner jouself – dis lekker – want dit is samesyn. Lekker is mos net ‘n vingerlek-lank!

As jou nou regtig ‘on a roll’ is: ‘n tjie-tjie-tjie-sessie is selfs sonder koek bevredigend!

‘n Heerlike rooi cuppuccino of caffé latté – die klein koekie daarby is OK! Dit kan – maar hoef net met vetvrye melk gemaak te wees nie want daar’s genoeg bewyse dat daar nie regtig ‘n verskil is nie – in elk geval nie as mens dieet nie – of jy lae vet of vetvrye of volroommelk gebruik nie.

Gaan dan huis toe sonder om jouself te haat … en dan in elk geval die broodblik by te dam! Lees liewer lekker sarie.com en Facebook ‘n ander vriendin by wie jy nooit meer uitkom nie ….en reël solank volgende week se tee-date.

Ek sit vir jou lekker ander kwaliteit teetyd-wenke op www.betereet.co.za en facebook/bettereat!

Tot volgende week

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD
Geregistreerde Dieetkundige

Facebook/bettereat
www.bettereat.net

* Mariza beantwoord élke Donderdag tussen 1 nm. en 2 nm. jou dieetvrae direk op SARIE se Facebookblad.

  • Christa van der Walt

    Ai Mariza…weereens bravo!!!! Ek het vanaand Dr Oz se sop dieet uitgegrou…dalk kry ek moed more, en begin daarmee…dis die Good Housekeeping dieet. Moet se, dit is n maklike een….maar wens so ek kan maar net trug gaan na my ou Atkins, die kgs het sommer afgeval, met inspuitings en pille….en dan se almal, maar jyt dan weer als opgetel, en nog stapels, en kan ek maar net se…jaaaa maar ek het weer begin verkeerd eet!!! Dankie vir jou lekker gesels….van een moedelose vettie!!!

  • Jana

    Wow Mariza, duisend maal "ja" vir die metode, dit is die filosofie wat ek volg, dis goed om te weet dit word deur jou "gestempel". ALLES wat jy skryf is so waar. Sal daaraan vashou die dae wat dit nie so maklik gaan nie.

  • Mehmet

    Herr von Felten benf6tigt definitiv einen Vormund, jemnaden der sein Leben regelt.Wie kann man in dem Alter nur so tief in der Scheisse stecken?Es ist einfach nur traurig, wenn jemand dermassen in seiner eigenen Welt lebt und jegliche Realite4t verdre4ngt.Nun, ich wfcrde ja eine Lobotomie bei diesem jungen Herren Vorschlagen. Angeblich nfctzt sie gegen Depressionen, Zwangserkrankungen, Hysterie und Panikattacken. Wobei die eigentliche Wirkung ihn ausser Gefecht setzen dfcrfte.