Foto ter illustrasie

Foto ter illustrasie

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: ‘The good, the bad and the ugly’ van wegneem- en kitsmaaltye PLUS kies só beter

Dieetkundige Mariza van Zyl van BeterEet blog vandag oor die slegte kant van wegneemetes en kitskos na aanleiding van SARIE-leser Adel se vraag op Facebook. Mariza help ons ook om beter te kies, as jy nie anders kan nie …

The good, the bad and the ugly. Hoe kies jy beter?

Ons ken dit almal. Een of ander tyd is dit net nodig om “vinnig” iets te kry om te eet. Soms is dit ’n daaglikse gebeurtenis – jy’s bloot te laat en te moeg om saans voor die kospotte te staan. Soms is dit ’n weeklikse gebeurtenis – jou kinders speel op 6 verskillende plekke sport op een Saterdag. Soms is dit ’n nou-en-dan-gebeurtenis – vakansies, naweke weg, ’n vinnige besoek…

Die gejaag van die moderne lewe is selfs nie die mense wat op afgeleë plekke bly gevrywaar nie – die oomblik as hulle hul voete in die stad sit, moet hulle kits kies…

Jy weet die “kits” doen jou nie goed nie – en dit het nie noodwendig net met jou gewig te doen nie. ’n Vaal vel, lewelose hare, lae energie-vlakke, slegte spysvertering, hardlywigheid… alles tekens dat iets onderliggends skort.

Maar hoe gemaak as jy iets ‘vinnig’ moet eet?

Nie alle kitskos is dieselfde nie. Daar’s definitief ERGER en minder erg.

Jamie Oliver het net verlede jaar lelike prosesse oor kitskos ontbloot (kyk ook die video onderaan dié artikel). Prosesse wat chemiese stowwe (wat glad nie gesond is nie) gebruik om kitskos “veilig” te maak. Is dit waar? Ek weet nie.

Maar dit gaan oor meer as net die manier hoe vleis verwerk word, glo ek.

Die groter prentjie

Kits- en gerieflikheidsvoedsel is vir jou lyf amper soos ’n eentonige deuntjie. Jy kry oor en oor dieselfde voedingstowwe in. Jy word oor en oor blootgestel aan dieselfde gebrek aan voedingstowwe. Dieselfde vette. Dieselfde verfynde koolhidrate. Dieselfde proteïene, dieselfde preserveermiddels, kleurmiddels, geurmiddels. Dieselfde oormaat suiker, sout, geurmiddels …

Ongelukkig is dit ’n feit dat verskaffers en vervaardigers van kits- en gerieflikheidsvoedsel hul plek in die mark moet verdien – en PRYS kraai gewoonlik koning. Die mayonnaise gaan dus met sonneblomolie gemaak word en preserveermiddels bevat wat van ru-olie gemaak word; alles vir langer rakleeftyd teen ’n laer prys.

Die hoender gaan waarskynlik nie vryloop wees nie. Jy kry enersyds meer anti-nutriënte in en andersyds het kitskos gewoonlik meer stysel/suiker/sout as groente en vleis. Dis goedkoper. En sommige mense sê lekkerder. Daarom verkoop dit.

As jou metaboliese tipe vereis dat jy meer proteïene moet eet en minder stysel, of geen koring/gluten/verfynde koolhidrate … STERKTE. Kits-eet, en selfs bekostigbare uiteet, word amper ’n totale onmoontlikheid!

Die feit is, ons liggame het VERSKEIDENHEID nodig. Net as ons verskillende kosse eet, het ons ’n kans om die verskillende voedingstowwe wat nodig is vir gesondheid in te kry. Maak jy staat op kits en klaar kry jy heeltyd net dieselfde voedingstowwe in…

Daar’s nie veel salf te smeer aan die kits- en gerieflikheidskos-kwessie nie, maar mens kan van ’n very bad and ugly ’n “beter” maak…

Hoe kies ek beter?

  • Lees die etiket as daar een is. Vermy items wat preserveermiddels, gehidrogeneerde vet, margarien en sonneblomolie bevat, as daaglikse opsie.

  • Vra vrae: hoe gereeld wissel julle jul olie? Gebruik julle margarien om alles in te braai? Bevat die kaas ’n preserveermiddel?

  • Kies opsies waar jy kan sien wat dit is – sosaties, hoenderstukke, steak …

  • Pasop vir die tipiese vol-voel-opsies (pasta-, stysel-gebaseerde slaaie en geregte), tensy die gereg gemaak is met bruinrys. Verfynde kosse is regtig nie gesond nie – vir niemand nie!

Maak die “kits” ’n bietjie beter … in 4 stappe! 

1. As jy te moeg is om saans te kook – kook dan op ’n ander tyd. Ek sit een of twee keer per week my oond aan – en maak dan my vleis/hoender/visgeregte vir ’n paar dae klaar. Saans maak jy dit dan net warm – en sit vars groente of slaai by. Wha-la! ’n Maaltyd in 10 minute. Die geld wat jy op elektrisiteit en wegneemetes spaar, kan jy gebruik om “geriefsvoedsel” soos klaargewaste groente te koop wat die kosmaak-proses nóg vinniger maak!

2. Maak jou eie kits-kos. ’n Groot pot sop in die winter of groenteslaai in die somer kan maklik 4 – 5 dae in die yskas hou. Wissel die smaak af met iets anders wat jy elke dag byvoeg. Vandag gerasperde kaas, oorskiethoender of ’n lekker rissie-salsa.

3. Spandeer liewer aan kitskos wat nie ’n gekombineerde gereg is nie: Maalvleis en groente (nie spaghetti bolognaise nie), hoenderkerrie of geroosterde groente. Sit hierby iets wat vinnig is om te maak: klaargewaste groente of ’n vars vis of steak wat jy vinnig in die pan braai.

Koop byvoorbeeld hoender wat reeds gaar is (soek vir “free range”) en kombineer met vars groente en slaai. Hou by voedselitems waar jy PRESIES kan sien wat dit is – hoenderstukke, steak, sosaties, dan is die moontlikheid van bymiddels kleiner.

4. Soek ’n deli wat bereid is om vir jou ’n gereg voor te berei. Spesifiseer jou bestanddele! (Sien gerus op www.betereet.co.za ’n algemene gesonde bestandele lys).

Waarvan moet jy liewer wegbly?

Tipiese wegneem-kos kan vol baie ongesonde bestanddele wees. Daar is heelwat navorsing wat dui dat twee faktore ’n groot rol speel in die “ongesonde-faktor”: die gebrek aan voedingstowwe en die gebruik van sekere bestanddele (preserveermiddels, geurmiddels, sout). Hierdie kombinasie maak kits- of gemorskos as’t ware verslawend! Jy bly eet – en voel nooit vol nie. En later voel jy altyd weer lus vir daardie spesifieke item…

Hierdie “verslawing” word selfs aan ongebore babas oorgedra …

Dit is nie maklik om uit die spiraal van vinnige en kitskos te ontsnap nie. Maar begin iewers om bietjie beter keuses te maak – ter wille van jou gesondheid.

BeterEet-groete tot volgende keer

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

 

 

 

 

 

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoek www.betereet.co.za

Jamie Olivier wat in jou kitskos versteek is