Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Het jy ‘gesonde’ of ‘ronde’ gewoontes?

Ek is ook mens: ek is MAL oor Chocolate Eclairs, Swartwoudkoek met baie room en genoeg Kirch. Ek weerstaan moeilik die Crème Brulee. Jy kan my vermaak met ‘n Swiss Roll -veral as daar gekookte kondensmelk binne-in gerol is. Pannekoek. Basaarpoeding. Appeltert met room.

Mens leer nie ALLES op Universiteit nie – soms leer die lewe jou…ek het ook te veel gewig opgetel toe ek swanger was en met ‘n baba wat nooit deurgeslaap het ek lekker gesukkel om dit te verloor!

Te min slaap. Te veel stres. Ten spyte van ‘reg’ eet het my eie insulienweerstandigheid sy merk gelaat. Die boep? Jy kan my niks vertel nie.

Ek het nog nie laat toets nie – maar ek’s seker ek dra die ‘vet’ gene. Twee jaar van PRESIES reg doen was nodig om my stryd te wen. Die stryd teen pre-diabetes, trae skildklier, moegheid.

Miskien is dit ook jou storie? Miskien het jy nog nie die stryd gewen nie?

Ekskuus – ek dwaal af. Om jou vraag te antwoord: – eet jy ooit sjokkelade en drink jy wyn?

VERSEKER! Graag. Gereeld. Elke dag.

Maak dit regtig ‘n verskil as jy ‘n harde dag gehad het om die HELE blok sjokkelade op te eet? Is dit moontlik om die gewoonte te breek? Kan jy jou brein se paatjies verander? Die spreekwoord lui – lekker is net ‘n vinger-lek lank en ‘n oomblik op die lippe, ‘n ewigheid op die heupe. Preek hierdie woorde vir ons vandag wat TOEGANG het tot oormaat en oorvloed.

Nee –ek oordeel jou nie. Ek dink mens het deels hier te make met ‘oer’-gewoontes – die honger-of oorvloed sindroom. Die verskil is net, SJOKOLADEKOEK met dubbel-dikroomversiersel en ASYNPOEDING met EKSTRA karamel het nie bestaan nie. Sjokkelade was tot 100 jaar gelede nog ‘n handgemaakte en daarom duursame produk….min sou mens kon bekostig om die hele plak op te eet.

As jy die besluit geneem het, regtig die besluit geneem het om jou ‘ronde’ gewoontes te verruil vir ‘gesonde’ gewoontes, kan jy beheer. Dis jou lyf. Jou keuse. Ja – jy of jou lyf het miskien ‘n vorm van ‘hulp’ nodig om onderliggende gebreke te help herstel – maar hier’s paar wenke om toe te pas – ook as jy deelneem aan ons Een-nommer-kleiner-veldtog!

–       Sny i.p.v. ‘n vet sny, ‘n maerder snytjie.

–       Eet elke dag iets klein wat lekker is – nie alles op ‘n slag nie

–       Spesiale geleenthede: geniet die samesyn, geniet die lekker kos – jy mag maar– vra jouself: gaan dit minder lekker wees as jy ‘n kleiner porsie skep?

–       As jy selfs uithang: gesonde bestandele halveer die ‘kwaad’ wat oordaad doen. Gebruik die beter meel, die beter olie, die beter botter (Lees gerus meer op www.betereet.co.za en LIKE op facebook/bettereat vir daaglikse lekker-eet idees)

–       Wees ‘n sjokolade-snob.

–       Dis nie ongeskik om nee dankie te sê nie. Staan by jou besluit – sonder voorbehoud. Kweek die gewoonte aan om nie ‘n tweede porsie te neem nie.

–       Breek weg van die ‘laaste’-kans mentaliteit…kans is goed daar gaan nog vele geleenthede wees vir lekker eet.

Iemand het eendag geskryf dit neem 28 dae om ‘n gewoonte te verander. Is dit waar?  Ek weet nie.

Wat ek wel weet is dat mens se ‘smaak’ vir soet baie sensitief is. Dit neem net 7 dae om jou ‘soet’-smaak se knoppie OP te draai. Dit wat dus op dag 1 soet genoeg was, sal, nadat jy vir 7 dae die soet ietwat vermeerder het, nie meer soet genoeg wees nie. Dan sal jou lyf bly vra vir nog meer soet.

Elke vrou het sjokkelade nodig (Dis waar! Lees hier meer!) … maar beter eet word makliker as jy besluit het: hou jy meer van koek – of kleiner kleertjies?

Mariza van Zyl (RD)SA

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

* Lees nóg blogs deur Mariza hier.

[box:full:red:both]

GROOT NUUS!

Ons daag jou uit om saam met sarie.com en Bettereat ‘n spesiale 6-week-leefstylplan te volg. Dié plan is spesiaal deur ons dieetkundige, Mariza van Zyl, ontwerp en gaan sorg dat jy beslis een nommer kleiner is! Pas dan jou nuwe lyf in pragtige ontwerpersklere uit ons winkel as jy klere ter waarde van R2500 kan WEN!

Klik hier vir al die inligting

[/box]