FOTO: Instagram @nadiael_khoury

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hierdie smeerding is die beste!

Hierdie smeerding is die beste! (Nee, dis nie die botter-margarien-kwessie nie …)

Jy kan die hele een eet! Die héle een? Ja – die héle avokado. Elke dag.

Dít is natuurlik byna net moontlik as jy gelukkig genoeg is om ’n boom in jou tuin te hê, want hulle is soms aan die duur kant …

Die botteragtige mondvol is propvol vitamiene, minerale, vet, proteïene en selfs vesel. Maar dis nie al nie. Saponiene, wat help om gewrigte gesond te hou, en sterole, soos gevind in die peperduur bakkie margarien spesiaal vir cholesterolverlaging, is ook op die lys bestanddele van dié heerlike eetding.

Heilsame avokado’s! Nie ’n groente nie, maar ’n vrug. Inderwaarheid ’n bessie. Plak die watertand-gesondheid gerus lekker dik op ’n rog-kraakbeskuitjie met bietjie sout en peper en suurlemoen, of maak dit fyn vir ’n heerlike doopsous by groentestokkies . Net so kikker dit ’n vervelige slaai op, en dis die perfekte “vinnige” ete … verwyder net die pit en eet die groen lekkerte uit die skil uit.

Maar dit maak vet, of hoe? Wat dink jy? In die “ou dae” van een-dieet-vir-almal en “porsie-planne” met die fokus op “laevet”-produkte was ’n  porsie avokado gelyk aan ’n ¼ van ’n klein avokado. Dit het getel as “1 porsie vet”.

Maar as jou dokter of dieetkundige of gewigsverlies-kundige bygebly het met die navorsing, het hulle jou al meer as 10 jaar gelede verlos van die ellendige marteling van so ’n piepklein porsie.

Bemarking ten spyt, is daar steeds mense wat glo avokado’s maak vet. Miskien minder as in 2003 toe navorsing oor avokado’s getoon het byna 50 % van Suid-Afrikaners reken dit maak vet – maar die mite leef steeds voort.

Feit is, avokado’s kan inderwaarheid help met gewigsverlies wanneer dit ander vette, soos margarien of sonneblomolie-gebaseerde produkte soos mayonnaise, in die dieet vervang. Dis ou nuus, maar tog belangrik om te herhaal.

Buiten die “gewigsverlies”-kwessie is daar ook natuurlik die gesondheidskwessie. ’n Gesonde vel, mooi naels wat nie skeur of breek nie, lewenslus en energie, en selfs die vermoë om gesellig iets baie lekkers te geniet sonder skuldgevoelens. Dis als deel van “gesondheid”. Ja, jy kan maer én ongesond wees…

Die mooi van ’n natuurlik produk soos avokado’s is dat, wanneer jy daardie kunsmatige opsies waarmee jy jou lus vir iets lekker probeer stil verruil vir iets so voedsaam soos ’n avokado, baat jy op vele maniere.

Kies gerus gereeld genoeg groen geurige botteragtige avokado. Dis gelukkig ook op die “GROEN LYS” van die huidige dieet-craze!

Mariza van ZylTot volgende keer

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

 

FOTO: Instagram @kicking_edx

FOTO: Instagram @kicking_edx