FOTO: Donna Lewis

FOTO ter illustrasie

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hoe ‘low carb’ is ‘low carb’ … of is dit ‘carb free’ …

Die derde aflewering in die kort reeks oor die voedingsaspekte rakende die huidige tendens van Banting soos voorgeskryf in prof. Tim Noakes se boek Die Kos Revolusie.

Ter wille van volledigheid, en voordat ‘n voorstander van Banting weer ‘n blik rooi verf oor my wil uitgooi: Ek staan geensins Banting of prof. Noakes se dieetvoorskrifte as ‘n benadering in geheel teen nie. Die teendeel is eerder waar. Lank gelede, toe prof. Noakes en sy volgelinge nog hard en aanhoudend die gebruik van bv. sportdrankies aanbeveel het, het ek my al beywer om te waarsku: Oppas! So ook het ek gereeld die dogmatiese toepassing van die “laevet”-beweging as die antwoord op alles en die enigste heilige waarheid verwerp. Wanneer mens met ‘n breër blik na die rol van voeding kyk, is daar dinge wat gesê moet word…

Ek deel graag my mening in hierdie blog en wil ‘n paar feite oor die losgemaal om koolhidrate en die sogenaamde Banting uitlig. Speel dus asseblief saam – maar speel die bal, nie die man nie.

Wat is ’n koolhidraat?

Koolhidrate, of carbs (vir carbohydrates)is ‘n versamelnaam vir verskillende suikers. Sommige koolhidrate is makliker verteerbaar as ander, en daar is ook sekeres wat glad nie verteer nie. Vesel bv. is ‘n komplekse koolhidraat wat nie verteerbaar is nie. ‘n Aartappel is dus nie ‘n koolhidraat nie, maar dit bevat koolhidrate. Dieselfde geld wortels, ertjies, pampoen, selfs neute. Inderdaad álle plantaardige voedselsoorte, sowel as die melk van diere – vars melk asook jogurt bevat koolhidrate.

Hoe verstaan jy ‘lae-koolhidraat’?

Die lewe is vol reëls en regulasies, soos spelreëls, verkeersreëls en ook wetenskaplike reëls, sodat ons almal dieselfde “taal” praat.

Persoonlik glo ek hierdie “spelreëls”, waar terme soos “laag”, “geen” en “hoog” op die oomblik na willekeur wisselend gebruik word, veroorsaak die verwarring oor Banting, of dan die hoë-vet-lae-koolhidraat-eetpatroon.

Ek vra gereeld vir volgelinge wát bedoel jy met “laag”, en wát is vir jou “hoog”. En dan kry ek baie verskillende antwoorde.

Die situasie word verder vererger deurdat die verskillende weergawes van die patroon, n.a.v. verskillende stories, sommer lekker saamgeroer word in een pot: Paleo, Banting en hoë-vet-lae-koolhidraat, want dis mos alles dieselfde ding. Of nie?

Kwessies oor koolhidrate

As ons dus net kyk na koolhidrate, staan die volgende kwessies vir my uit soos ‘n paal bo water. En ek het nog nooit anders gesê nie:

Ons eet reeds vir jare te veel, veral te veel koolhidrate, en veral verfynde koolhidrate. Konsepte soos “lae GI” het die probleem inderwaarheid net verder vererger, aangesien verfynde kosse, soos kitspappe en verfynde brood – wanneer dit sg. LAE GI is – skielik voorgehou is as “gesonder”. En hierdie aanbeveling was gebaseer op net één voedingsaspek, naamlik die effek op bloedsuiker in ‘n klein groepie mense.

As jy Bant en voedselitems soos bv. ertjies en beet moet uitskakel, want dis “rooilyskos”, waarom moet jy nie ook pampoen en uie (sg. “groenlyskos”) uitskakel nie? Hierdie items bevat almal min of meer dieselfde hoeveelheid koolhidrate per 100 gram.

Jy kan inderdaad byna 300 g van hierdie voedsame kossoorte eet voordat jy by die hoeveelheid koolhidrate gaan uitkom wat jy sou inkry van ‘n snytjie Banting-brood gemaak met vlassaad, soos voorgeskryf in Die Kos Revolusie.

Net so gaan ‘n skeppie kapokaartappel ook vir jou soveel koolhidrate gee soos die uie en pampoen, wanneer jy nou regtig nie meer jou lus kan hou nie…

My punt is: Die gebrek aan voedingstowwe weens te min groente en te min onverwerkte kosse is slegter vir jou gesondheid as nét te veel koolhidrate. Ja, die beperking van koolhidrate ís baie belangrik. Maar waarom mag jy nie beet en ertjies eet nie, maar wel ui? Dié groentesoorte bevat tog almal ewe veel koolhidrate per porsie, en wonderlike diverse voedingswaarde. Ongelukkig word daar tans soveel items net op grond van een faktor, die koolhidraat-inhoud, uitgeskakel en verskillende mense sing verskillende deuntjies.

Wat my betref, is daar nog nie uitsluitsel oor die “laag” en die “hoog” nie. Jy kan dus Bant volgens die aanbeveling in 2011 van prof. Noakes in die media (75 g koolhidrate per dag), of miskien werk die “strenger” weergawe (minder as 25 g) vir jou. Nog meer onlangs het prof. Noakes in ‘n onderhoud gesê tot 200 g koolhidrate is oukei.

Ek vra die vraag en laat dit daar: Hoeveel van die gewigsverlies met Banting het waarlik net te doen met vet en koolhidrate? Hoeveel kan toegeskryf word aan die feit dat mense suksesvol gewig verloor en “gesonder word” omdat hulle bloot minder verwerkte/verfynde/kits/klaargemaakte/geprosesseerde kosse eet, dus gewoon “beter” begin eet het?

Laai gerus meer info af oor die “hoeveelheid koolhidrate” in verskillende vrugte en groente.

Klik HIER vir ’n porsiegids van stylselkosse

Groete tot volgende week – vir almal wat “beter” wil eet of wil “Bant”!

  • Hestie

    Baie interessant! Dankie. Dis goed om gebalanseerde kenner opinies te kry en as mens die regte kennis het, kan jy eet soos jy verkies. Ek wens ons het die goed op skool geleer!

  • Petra Pretorius

    Met alle respek gese, dieetkundiges het nie ‘n clue hoe om Tipe 2 diabetes te behandel nie. Julle gee vir die diabeet ‘n lys, met ‘n resep of 5, maar die diabeet se bloedsuikers bly hoog. Dan terug dokter toe en die diabeet word nou op insulien gesit. DieetONkundiges weet blykbaar nie dat meel en suiker getroud is en gif is vir diabete nie. Julle skryf ‘n resep en haal net die suiker uit maar los die meel. Julle se hulle kan brood eet, pasta eet, rys eet ….. Miskien moet almal van julle volgende keer na die Diabeet Wereldkongres toe gaan. Vandat Tipe 2 diabete op low carb leefstyl dieete is, word hulle gesond en gaan in remissie. As jy nie self ‘n diabeet is nie, moenie vir ‘n diabeet voorskryf wat om te eet en wat nie.