Mariza van Zyl
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hoe maak jy jou kos gaar dat dit help gesond maak?

WENK 1 in ons kort reeks: Staal jouself teen dik dieet-beloftes!

Tssshhhhhhh! Só sis die botter in die pan. Eers die spek. Dan later die eiers. Mmm. Dit ruik lekker en al die vet gaan jou lekker versadig laat voel. Ok, jy het nie botter gebruik nie, maar klapperolie.

Tik-tik-tik begin die ratte van jou lyf draai. Die spek, eiers en lekker botter (of klapperolie) – deesdae die ontbyt van keuse vir so baie mense – is eintlik maar net ’n versameling van duisende verbindings. Wanneer jou lyf se masjinerie daarmee klaar is, sal dit gereduseer wees tot ’n miljuisend verskillende molekules wat elk in jou liggaam ’n effek sal uitoefen. Proteïene, vette, vitamiene, minerale. Al die voedingstowwe wat nodig is om jou aan die gang te hou.

Eers deur die mond, dan die maag, dan voort na die derms waar dit opgeneem word en dan al toer-toer deur jou are, wat soos ’n besige padnetwerk die hele spul versprei na al jou selle wat voedingstowwe nodig het.

Maar alles is nie pluis nie. Saam met al die belangrike boustene is daar ook minder gewensde deeltjies waarmee jy opgeskeep gaan sit ná hierdie ontbyt. Daardie lekker bruingebraaide stukkie spek en krakerige korsie waar die botter en eier mekaar in die pan ontmoet, het byna gebrand! Maar nog nie. Dit is dáár waar jy ’n lelike ding sou kon sien as jy mikroskopiese sig gehad het.

Hul naam? Byna onuitspreekbaar: Advanced glycation end-products, met die afkorting AGE’s. In eenvoudige Afrikaans? Glikotoksiene. ’n Verbinding wat vorm wanneer jy die volgende bestanddele bymekaar het: Hitte + Proteïene (Vleis/Kaas/Eiers/Vark) + Vet 

Terloops, hulle vorm ook van nature in jou liggaam en dit neem toe as jou ratte begin vasbrand weens wipplank-bloedsuiker of te veel vet in jou bloed, en natuurlik wanneer jou inname van anti-moeilikheidmakers (antioksidante) te laag is.

Antioksidante vanaf vars, ongeprosesseerde voedsel, veral groente, vrugte, kruie en speserye, is noodsaaklik om hierdie giftige amokmakers (AGE’s) – hetsy van die kos wat jy inneem of daardie wat in jou lyf vorm – aan bande te lê en vas te vang voordat hulle bydra tot meer INFLAMMASIE in jou lyf.

Jy is miskien al bekend met inflammasie. Indien nie: Dis ’n toestand of proses in jou liggaam wat vergelyk kan word met wat gebeur as jy ’n stukkie beskuit in die louoond vergeet. Selfs by ’n lae hitte sal dit ná ’n dag of wat verbrand wees

Miskien dink jy: “So what? Basta inflammasie, solank ek net gewig verloor!”

Maar nee. Inflammasie, en AGE’s, speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling en verloop van veral insulienweerstandigheid, en ook in daarmee gepaardgaande toestande soos diabetes, hartsiekte en gewone oorgewig. Alzheimer se siekte en ander neurologiese toestande soos depressie en selfs rumatoïede artritis word ook hierdeur beïnvloed. Hierdie toestande word op maniere wat ons nog nie heeltemal verstaan nie, aangevuur wanneer daar te veel AGE’s in jou lyf rondswerf. Dit aldus navorsing uit Australië wat pas gepubliseer is.

Ons weet wel dat inflammasie in die liggaam drasties verminder indien ons net die hoeveelheid AGE’s wat ons vanaf voedsel inneem, halveer. Al die bangmaak-siektestories daargelaat, net hierdie halvering alleen bevorder algehele gesondheid – nevermind net gewigsverlies.

Voor jy dus weer wegval aan als wat vetterig en vleiserig is en lekker bruin en bros gebraai is omdat die nuutste dieet-tendens jou aanmoedig om dit te doen: maerwees – néé gesondwees – gaan oor meer as net hoeveel vet en koolhidrate jy eet.

Foto ter illustrasie FOTO: Donna Lewis

Foto ter illustrasie
FOTO: Donna Lewis

Leer gerus meer oor strategieë om die hoeveelheid AGE’s in jou dieet drasties te verminder – gaan LIKE op facebook/bettereat

Groete tot volgende WEEK vir WENK 2: Wanneer is teetyd, en ander dinge oor kos en tyd wat jou ideale kan maak of breek …

Lees ook