Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hoe om die Paasfees-kilo’s te vermy

My man vra of ons darem ‘n stukkie lamsvleis het om voor te berei oor hierdie Paastyd…so saam met die brood en wyn…die eintlike rede vir die Pase…

Hierdie tyd van die jaar is daar ‘n luiheid in die lug asof die son moeg geskyn is. Vir my is dit sinoniem met die PAASNAWEEK wat net betyds aanbreek na ‘n baie dolle kwartaal. Tyd met familie en vriende. Tyd om tot verhaal te kom.

Ook miskien ‘n kansie op ‘n kasie en ‘n glasie…..en seker iewers ‘n paaseier?

Gun my dus ‘n paragrafie oor die haas, die kaas, die glasie, die brood en die wyn.

Die haas is vandag so sentraal deel van die bemarking van Paastyd.  Haas mag wel beskikbaar en ‘n delicatessen wees in Frankryk – maar hier by ons is skaap verseker meer algemeen en wel nie goedkoop nie – maar meer bekostigbaar!

Ek onthou hoe ek as kind honger geword het met die lees of hoor van die Paasverhaal. Dit moes seker gewees het omdat daar so dikwels na ‘DIE LAM’ verwys word dat ek in my geestesoog heeltemal oortuig was dat die ‘Laaste maal’ DEFINITIEF lamsvleis moes gewees het…

Lam moes LANKAL van die ‘ongesonde kos-lys verwyder gewees het. Min mense besef dat tot 85 % van Suid-Afrikaanse skaapvleis vryloop is.  Net soos ‘n mense se liggaam wys wat hy eet – so ook die dier s’n. Die bossies/grassies en ander variasies van plantmateriaal wat Suid Afrikaanse skaap vreet het ‘n gunstige invloed op die vetsamestelling om nie eers te praat van die kwaliteit proteïene nie. ‘Met ander woorde die lam is NIE ‘n bron van NET ‘SLEGTE’ VERSADIGDE VETTE NIE.

Die Kaas. Soos skaapvleis het kaas ‘n ‘slegte’ gesondheidsnaam. Het jy cholesterol of wil jy gewig verloor? Jy beter dit om die hoekie geniet ….

Dis nie NIE NODIG NIE!

Die nuutste navorsing beaam gewone ‘common sense’ dat kos wat mense al honderde jare eet tog nie skielik ‘sleg’ kan wees vir mense nie. KAAS het inderwaarheid beskermende eienskappe t.o.v. die ontwikkeling van hartsiekte en metaboliese sindroom. Veral kase soos Camembert, Brie en bloukaas. Lees gerus meer oor kaas op www.betereet.co.za.

Die glasie – is nie net goed vir die hart, maar in die ‘glasie’- sonder oordaad – is ook gesondheid vir die hart en gemoed. Die Fransman Bellisle fokus in sy navorsing oor wyn dan ook op aspekte van belang in die liggaam anders as net die inhoud van die wyn. Ja – die manier wat ons eet en drink – die samesyn, die ontspanning, die geborgenheid van ‘n familietafel dra alles by tot ‘gesondheid’… Het jy bewyse nodig van die wetenskap om te weet hoe goed goeie samesyn jou doen?

Laaste die brood? Brood is nie sommer net brood nie – dis ‘n hele gesprek op sy eie.

Wat wel nou ter tafel is, is dat jy gerus jou snytjie brood hierdie Paastyd kan verruil vir ‘n kwaliteit sjokolade eier. As jy keurig kies, kan selfs dít op jou goed vir my lysie wees.

Goed vir almal- ook vir Ouma wat ’n diabeet is wat gewonder het hoe sy dit gaan regkry om nie Boeta se hart te breek as sy groot paaseier wat hy met liefde vir haar bring, mag eet nie.

Koop ‘n kleintjie. Of koop ‘n grote en deel!

Suster Sara – jy wat nou net op dreef gekom met ‘n ‘beter lyf’ program noudat al die boeke oorgetrek is en die jaar sy eie loop gekry het: geniet dit eerder sonder skuldgevoel as jy MAL is oor paaseiers. Sjokolade – suiwer sjokolade is GOED vir jou!

Die sjokolade eiers – so 30 g, net sjokolade – gaan omtrent dieselfde ‘tel’ as ‘n sny brood met botter/margarien. Gaan kyk gerus op Facebook/bettereat – dan hoef jy nie te wonder nie…

Lekker eet. Lekker kuier. Geseënde Paastyd.

Mariza van Zyl RD
Kliniese Geregistreerde Dieetkundige
BeterEet Voeding en Voedsel Konsult
Eet gerus elke dag saam beter by Facebook/bettereat.

LEES MEER BLOGS DEUR MARIZA HIER