mariza_fb_foto_vir_sarie_mrt_2013_310w
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hoe proe gebalanseerd?

3 goed het my nogal hierdie afgelope week laat dink:

’n Facebook-vriendin deel haar 9-jarige se vraag:

Ná sy probeer verduidelik het dat hulle gebalanseerd moet eet deur die week en dan naweke bietjie meer lekkergoed kan eet, bly die kontante outjie – ’n tipiese seuntjie wat nie skrik vir van die dak afspring nie, en saans nie aan die slaap raak nie maar “omval” – ’n oomblik stil en vra toe: Mamma, hoe proe gebalanseerd?

‘n Nuwe kennis vertel dat sy aangeraai is om ‘n PIENK PAP vir ontbyt te eet omdat dit ‘n LAE-GI-produk is.

‘n Artikel verskyn oor ’n Noord-Amerikaner wat ’n seldsame toestand het: die stroombane in sy brein is so bietjie gekruis, en dit veroorsaak dat alles wat hy hoor, ook na iets proe. Die naam Jackie “proe” vir die man soos drop, “Mamma” proe soos roomys en die woord praat “proe” soos spek …

Hoe proe gebalanseerd? Goeie vraag! Ek sou baie graag vir mnr. Wannerton met die seldsame toestand dié vraag wou vra …

Gebalanseerd. Jy lees so dikwels stellings soos: “as deel van ‘n gabalanseerde dieet” of matigheid en balans. Mense se interpretasie van “gebalanseerd” – ten opsigte van dieet sowel as die lewe – is natuurlik hier ter sprake.

Ongelukkig het “gebalanseerd” – wat eintlik die standaard vir “gesonde keuses” behoort te wees – in baie gevalle ontaard in ’n wolf in skaapklere: Die term as deel van ’n gebalanseerde dieet word as’t ware misbruik om jou aan te por, of jou gewete te sus, om gereeld voedselitems wat sonder voedingswaarde is en eintlik regtig ongesond is, te eet.

Die vrou wat aangesê is om pienk gekleurde, versoete, verfynde, verwerkte “pap” deel te maak van haar “gebalanseerde” dieet het gesidder by die gedagte. Nie net oor die graad van verfyning wat die produk ondergaan nie, maar ook die gebrek aan verantwoordelikheid teenoor ons omgewing wat met die gebruik van soveel verwerkte produkte gepaard gaan. Dit was vir haar een te veel en sy het daardie spreekkamer verlaat. Ek sou ook.

Die pienk pap staan natuurlik geensins alleen nie. Daar’s heelwat “produkte” wat vandag as “deel van ‘n gebalanseerde dieet” beskou word, maar inderwaarheid ver verwyderd is van wat waarlik as voedingkundig “gesond” beskou kan word. Produkte wat roem op een of twee faktore – die hoeveelheid vet of suiker of bygevoegde vitamiene daarin –  maar wat inderwaarheid voedingsgewys verrinneweer is deur prosessering en verwerking.

Jy sien, “gebalanseerd” is eintlik ’n moeilike konsep. Ek bly maar by my rule of thumb vir gebalanseerde keuses: As jy dit self kon plant, oes, pluk, jag, vang of berei, en die bestanddele op die etiket is almal aan jou bekend, is dit waarskynlik ’n “gebalanseerde” keuse.

Hoe proe gebalanseerd? Dit proe lekker!

Leer saam meer van beter balans as jy saamkuier op www.facebook/bettereat of www.betereeet.co.za

Groete tot volgende keer

 

Mariza

Lees ook: