Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hoe reg is die ‘regte’ vrugte regtig?

Die huidige trend n.a.v. prof. Tim Noakes se topverkoper-boek, The Real Meal Revolution, het ’n ou debat weer oopgekrap: Maak vrugte vet omdat dit heelwat suiker (of dan koolhidrate) bevat?

In die SARIE van Mei 2014 is ’n tabel gepubliseer wat ten doel gehad het om die “relatiwiteit” van die suiker- of koolhidraat-inhoud van vrugte in perspektief te stel. Ongelukkig het die drukkersduiwel toegeslaan en die belangrikste stukkie inligting het weggeval. (Lees die regstelling HIER.)

Ek bespreek daarom weer die vraag vir diegene wat nie slegs wonder vir gewigsverliesdoeleindes, maar ook vir beter gesondheid, hoe reg is dit dat vrugte nou “sleg” is vir jou, soos die Noakes-aanhangers beweer?

Is sekere vrugte werklik “beter” as ander en maak dit voedingkundig sin om ’n vrug te diskwalifiseer n.a.v. sy koolhidraat-inhoud? (Lees gerus ook die vorige blog, “Vrugtesuiker – vloek of gesondheidsvonds?”)

Wanneer jy na die feite rondom die vrugtesuiker-kwessie kyk, is dit baie duidelik dat die alles-of-niks-aanbeveling of “hierdie vrug is beter of slegter” nie waterdig is nie.

Ja, vrugte word byna manies uit die dieet verban deur die Noakes-aanhangers, en ook sekere groentes … Maar wanneer jy die kwessie van koolhidrate uit ’n voedselbron in perspektief plaas, sien jy ’n ander prentjie.

  • Eerstens – alle vrugte bevat nie ewe veel koolhidrate per gram nie en geen vrug bevat net een soort suiker, bv. vrugtesuiker, nie.

Geen vrug kan op grond van sy koolhidraat-inhoud op die “vermy-lys” geplaas word nie, want jy kan die hoeveelheid wat jy eet mos kontroleer – indien jy tog jou koolhidrate wil beperk.

Jy kan dus kies: 1 appel (soos algemeen voorgeskryf word deur Noakes-aanhangers om oukei te wees), of kyk net na jou porsies en dan kan jy ENIGE vrug(te) geniet – meer van sommige, minder van ander. En dít sal nie ’n koolhidraat-katarsis veroorsaak nie …

  • Tweedens – weet hoeveel koolhidrate verskillende vrugte bevat om slim keuses te maak.

Gedink jy kan net Granny Smith-appels eet? Verrassing! Daar’s heelwat vrugte waaraan mense as “taboe” dink wat baie dieselfde, of selfs minder koolhidrate per gewig bevat. Kyk na die lys hieronder:

100 g bevat soveel g koolhidrate
Granny Smith-appel 13 g
Star King-appel 14
Appelkoos 6,5
Bloubessies 11,4
Kersies 13,3
Vye 13,5
Vrugteslaai (spanspek/lemoen en piesang) 10,1
Druiwe 14,7
Koejawel 7,7
Mango 15,3
Spanspek 8,2
Kaalperske 10,4

Met ander woorde, dit maak geen sin om te sê een vrug is aanvaarbaar en ’n ander is nie. Dit is ’n sinnelose aanbeveling. Donkie-dieetraad!

Hoekom is dit ’n kwessie? En kan mens nie maar net die vrugte uitskakel nie?

Nee. Enersyds omdat vrugte bronne is van belangrike voedingstowwe wat jy andersins moeilik gaan inkry (dit is oor en oor bewys om GESOND te wees vir die meeste mense). Andersyds omdat ons sulke heerlike vrugte in Suid-Afrika het wat mens se dieet geur en kleur gee en baie mense gewoon nie kan dink hoe hulle vir altyd sonder hierdie heerlikheid moet gaan nie.

Alles of niks werk gewoonlik nie vir altyd nie. Ná 5 jaar gaan jy darem lekker moeg wees vir Granny Smith-appels …

Daar is reeds onlangse navorsing na aanleiding van die HVLK (hoë-vet-lae-koolhidraat)-beweging gedoen wat daarop dui dat mense wat hul koolhidrate streng beperk en nie die “gesonde” koolhidrate soos vrugte (al is dit dan in klein hoeveelhede) inkry nie, ’n verhoogde risiko het vir sekere soorte kanker – onder meer dermkanker.

Daar is duisende studies wat wys dat vrugte en groente sonder uitsondering ’n beskermende rol speel – hoe meer kleur en hoe groter die verskeidenheid, hoe beter.

Laai gerus die BETEREET-vrugtelysie hier af vir meer inligting oor HOEVEEL is ‘n porsie.

BeterEet-groete tot volgende keer

Mariza van ZylMariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

Leer gereeld meer by Facebook/bettereat