FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Kan kos kanker keer?

Die groot K kry die meeste mense se aandag. Mariza blog oor of kos ‘n verskil kan maak …

Hoeveel mense ken jy wat kanker het of gehad het?

Tot onlangs is sekere kosse met ‘n mengsel van byvoorbeeld vitamien A, E en C gefortifiseer en dan bemark as ‘n opsie om jou antioksidant-inname op te stoot. Die aanspraak was dat dit jou immuunstelsel versterk en jou só teen siektes en kanker sou beskerm.

Sedertdien het dinge gelukkig verander. Nuwe voedselwetgewing het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Baie van dié soort aansprake was dikwels misleidend of buite konteks gestel. Dink maar aan “ekstra vitamiene” by lekkergoed, of selfs water. Ek onthou selfs dat daar ‘n margarien was wat met kalsium verryk was! ‘n Pragtige idee, maar jy moes omtrent die hele bak opeet om dieselfde hoeveelheid kalsium te kry as wat ‘n glas melk jou sou gee.

Die kanker-en-kos-konneksie is heelwat komplekser as net ‘n lysie van vitamiene wat ook ‘n antioksidant-effek vir jou kan inhou.

Kankerdeskundiges soos dr. Carl Albrecht van die Kankervereniging bevestig dat faktore soos besoedeling, plaagdoders, natuurlike gifstowwe soos aflatoksien (wat nie dikwels in die voedselketting voorkom nie) en ander chemiese middels die faktore is waaraan aandag gegee moet word.

Hierdie ‘liggaamsvreemde’ verbindings – verbindings wat nie natuurlik in die natuur voorkom nie – is oral om ons. In ons water, ons voedsel, medikasie. Wat gebeur daarmee in jou lyf?

Miskien is jy een van die mense wat sukkel om dit uit te skei, omdat jy geneties nie goed detoksifiseer nie. Miskien is jy een van diegene wat geneties meer sensitief is vir chemiese hormone wat bydra tot byvoorbeeld die hoër voorkoms van sekere borskankers.

Wat kan jy doen? Dis ‘n dilemma.

slaai0_300w

Dink net hoeveel jong meisies is sedert 14 op die Pil. Elke tweede vrou is op hormoonvervangingsterapie. Ander middels – soos die hartmedikasie digoksien  – word in urine uitgeskei en beland so weer in ons watervoorraad.

Maar die chemiese stowwe is ook in jou kombuis. Bestee ‘n slag die tyd en lees voedsel-etikette. Hoeveel keer per dag eet jy sonder dat jy weet wat binne-in is? Stop jy gereeld vir wegneemkos, en het jy al gekyk of die plastiekbakkie waarin jy jou kos warm maak mikrogolf-vriendelik is? Bevat die olie of margarien wat jy daagliks gebruik vir kook/bak/brood ‘n preserveermiddel?

Baie chemiese stowwe, nè?! Jy moet soms nogal soek om produkte te kry wat nié preserveer- of bymiddels bevat nie.

Daar is twee kos-en-kanker-kwessies wat vir my uitstaan: Aan die een kant bewustheid en vermyding; en aan die ander kant moet jy jou lyf help om hierdie stowwe (waarvan sommige moeilik vermybaar is) te ‘verwerk’. Dit is die realiteit, want almal kan nie organies koop nie en almal kan nie ‘n watersuiweringstelsel installeer nie.

Die doeltreffendste detoksifikasie-sisteem om jou te beskerm en jou liggaam skoon te hou is nie die bloubessie-pil, of liters tamatie-sop (vol likopeen), of hoëdosis-vitamienpille nie. Nee, die belangrikste ‘beskermingsmeganisme’ sit links onder jou ribbes. Jou lewer.

Máár, en dis ‘n groot maar, jou lewer het die bloubessies, die tamaties, die broccoli, die spinasie, die beet en die wortels, die sink en magnesium en foliensuur, die koper, die vitamien A en B’s nodig om optimaal te funksioneer. Gesonde kos wat propvol allerhande vitamiene, minerale en essensiële vette is, is nodig om optimaal te funksioneer. En baie daarvan. Wat beteken dat dit weer eens die voedsel en jou koskeuses is wat sentraal is om siektes en gesondheidsprobleme te help voorkom.

Dis onmoontlik om als reg te maak wat krom is, maar ‘n goeie begin is half gewin … en deur net te let op hierdie eenvoudige opsies, kan jy reeds jou risiko verminder.

Verminder jou risiko vir kanker só

  1. Beperk kosse wat bymiddels en preserveermiddels bevat tot een porsie per dag en balanseer die inname van kos wat uit ‘n pakkie kom deur dubbel soveel vars groente en vrugte te eet – wat jy altyd baie goed moet afspoel.
  2. Probeer sorg dat minstens die helfte van die kos wat jy daagliks eet rou is: Dis maklik om dit reg te kry: 3 vrugte en 2 rou groentes, en selfs geweekte hawermout pleks van kitspap. Dis net so vinnig – as jy onthou om dit die vorige aand te doen! Of probeer hierdie heerlike groentesap!
  3. Probeer alternatiewe vind: Die meeste Suid-Afrikaans geproduseerde kanola-olie en olyfolie bevat nie preserveermiddels nie – dis maklik om te verruil vir olies wat dit wel bevat. Maak jou éie slaaisous eerder hiermee. Gebruik dié olies vir kook en bak. Maar let op: Antioksidante is nie altyd ‘n goeie ding nie – sintetiese antioksidante soos TBHQ en BHA word gebruik en dit is nie dieselfde as die antioksidante wat natuurlik in kos voorkom nie.
  4. Helderkleurige groentes – groen, rooi, geel, donkerpers (spinasie, kool, broccoli, beet) moet ELKE dag op die spyskaart wees. Dit is kardinaal vir detoksifikasie.
  5. Verfynde kosse (brood, meel, koekies, koek, koeldranke, skyfies, witrys, kitsontbytgraan) bevat minder voedingstowwe as hul onverfynde, onverwerkte eweknieë. Dit kan lei tot ‘n gebrek aan belangrike voedingstowwe wat jou liggaam nodig het om homself skoon te hou van kanker, én dit kan ook jou kanse op ander siektes soos diabetes en insulienweerstandigheid verhoog.

Mariza van ZylLees gerus meer op www.betereet.co.za en wenke vir beter, skoner tog lekker koskeuses op facebook/bettereat.

Mariza van Zyl
Geregistreerde Dieetkundige

Facebook/bettereat
www.betereet.co.za