stap 2

FOTO ter illustrasie

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Klapperolie en -melk – is dit werklik die beter opsie?

’n SARIE-leser het verlede week op Facebook gevra: Is klappervet en -melk werklik so goed soos wat almal sê? Dieetkundige Mariza van Zyl van BeterEet antwoord … 

“Ja, almal is nou meer bewus van klapperolie en verwante voedselitems soos klappermelk, klappermeel en klapperroom – veral as gevolg van die huidige hoë-vet-lae-koolhidraat- (HVLK)dieet-craze. Dis so erg dat toe ek nou die dag my weeklikse voorraad van twee blikkies klappermelk wou koop, daar NIKS op die rak was nie!

Dit was nogal ’n krisis omdat ek klappermelk graag aanbeveel as alternatief tot koei- of bokmelk vir mense wat nie suiwel of ander alternatiewe soos soja- en rysmelk kan gebruik nie. Dis boonop lekker in ’n koppie chai-vanielje-tee.

Klappermeel word gebruik as alternatief vir koringmeel en is nou baie gewild omdat dit nie koolhidrate bevat nie. Klappervet of -olie word weer aanbeveel omdat dit meer stabiel by hoë temperature is, soos wanneer jy ’n steak braai.

Tradisioneel is klapperprodukte nie in die Weste aanbeveel as ’n gesondheidsopsie nie, weens die hoë inhoud van versadigde vet. Ek onthou spesifiek jare gelede se dieetriglyne vir cholesterol waar klapper aangedui was in die “om te vermy”-kolom.

Vandag weet ons dat die vetsamestelling van die kokosneut – die bron van alle klapperprodukte – sodanig is dat dit wel grootliks versadigde vet bevat, maar dié vette is “korter” en kan maklik deur die liggaam gebruik word vir energie – ook deur jou brein. Die flora of probiotika in jou dermkanaal baat ook moontlik by die soort vette in klappermelk.

Maar …

Tog is klappervet – net soos enige ander voedselitem – nié volmaak en die antwoord op alles nie!

Dit bevat byvoorbeeld geen omega 3-vette nie en bevat heelwat van ’n soort vet genaamd miristien wat volgens navorsing kan bydra tot die komplekse ontwikkeling van hartsiekte. Daar is vir seker dus waarde in die gebruik van klapperprodukte, maar soos altyd die geval is met voedsel, kraai variasie en matigheid koning.

As jy skielik groot hoeveelhede klappermelk, -vet, -meel begin gebruik, dink eers hieroor: Sou ons voorsate, wat nie op die gemak van supermarkte kon staatmaak nie en wat ver moes reis om kokosneute te versamel, só baie van dié kosbare item inneem?

Bietjie van baie 

Maar dit is ook nie heeltemal sleg nie! Bietjie-bietjie van verskillende olies, soos plaaslike vervaardigde olyfolie, rou neute, sade, avokado en avokado-olie, is wat nodig is vir goeie gesondheid.

Maak klapper-produkte gerus deel van jou daaglikse eetpatroon, in klein hoeveelhede, en op só ’n manier dat jy die gesondheidswaarde en variasie van jou dieet verhoog.

Probeer hierdie heerlike botter-olyfolie-klapperolie-smeer: dis net so sag soos margarien, maar sonder enige preserveermiddels en bymiddels. Gebruik dit vir voedselbereiding of as ’n sagte smeer. KLIK HIER VIR DIE RESEP. Dis nog ’n manier om elke dag beter te eet.”

BeterEet-groete tot volgende keer

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

 

 

 

 

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoek www.betereet.co.za