Mariza van Zyl
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Laevet, of minder suiker en stysel. Wat sê die navorsing?

Ek onthou as klein dogtertjie op my tante se plaas het ek my daarin verlekker om die roombak uit te lek as daar botter gekarring is. Vandag nog is ek lief vir room – eerder ’n minder soet roomkoek as stroopsoet versiersuiker vir my. Liewer ’n lepeltjie room in ’n lekker koppie koffie as dik suiker onder op die bodem. Jy kan my glad nie met ’n soetding soos ’n gebakte poeding bederf nie, maar die romerigheid van koue basaarpoeding gaan ek moeilik verby…

Dit is oor en oor bewys dat vet kardinaal is om die kos in jou mond te laat lekker smaak. Vet speel ook ’n belangrike rol in versadiging en die absorpsie van voedingstowwe. Wanneer die vet in ’n produk verminder word, moet iets anders meer gemaak word om dit smaak te gee. Ja, die laevet- of vetvrye produk gaan na niks proe as daar nie ’n bietjie méér suiker, kunsmatige versoeter, sout of ander bymiddels bygevoeg word nie.

Die status quo word hoog gehou: Vet maak vet. Verminder die vet in jou dieet vir beter gesondheid – hetsy vir jou hart, gewigsverlies of diabetes. Diëte word voorgeskryf as ‘gesond’- op grond van hulle ‘laevet’-inhoud. Jy word aangemoedig om laevet- of vetvrye produkte te koop en te gebruik. Jy is so mooi gekondisioneer dat enigiets waarop ‘laag’ op die etiket aandui, summier in jou oë beter is as die gewone opsie. Verkeerd. Of laat ek liewer sê – waarskynlik nie so heeltemal reg nie. Voor ek harder op tone trap as wat nodig is….

Dit suig ek nie uit my duim nie! Onafhanklike navorsing dui al hoe meer aan dat die fokus op verminderde vet – veral versadigde vet – om hartsiekte, obesiteit en toestande soos oorgewig aan te spreek, nie heeltemal waterdig is nie en ook nie die hele prentjie weerspieël nie.

Inderdaad! Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat daar ’n verband tussen versadigde vet (sogenaamde “slegte vette” van dierprodukte soos vleis, botter, room en kaas) en hartsiekte bestaan nie. Tog word daar steeds daarop gehamer. “Slegte” diervette en goeie “laevet” word dan ook sommer so in een asem genoem.

Oppas! Verfynde koolhidrate in jou dieet is ’n veel groter risiko as die sogenaamde diervette, ook sover dit hartsiekte aangaan. Skuif die fokus weg van ‘slegte diervette’ en gee meer aandag aan verminderde inname of die uitskakeling van verfynde koolhidrate. Dít word vir liggaamsvetverlies aanbeveel.

Wat is verfynde koolhidrate? Koolhidrate is die versamelnaam vir suikers en stysels – wat ‘lang-ketting’ suikers is.

Wat is ‘verfyning’?  Eenvoudig verduidelik kan jy so daarna kyk: ’n Produk is verfyn as die oorspronklike voedselproduk verwerk is sodat jy dit in ’n ander vorm as waarin dit in die natuur voorkom, kan eet. Daar is natuurlik grade van verfyning: deels verfyn, bv. hawermout, en heeltemal verfyn soos koekmeel, wit suiker en wit rys. Kitspap en ontbytgrane, wit rys, vrugtesap, hoëvesel-brood is alles ‘gesonde’ kos as jy kyk na GI en lae vet-inhoud, maar dis alles verfynd. Hoekom? Die kosse is sommer heeltemal ontneem van sekere van die oorspronklike komponente (vesel, water en vet) in die kiem van die grane, of dit is ‘uitmekaar’ gehaal en weer bymekaargesit, soos in die geval van volkoringbrood.

Jy kan self besluit hoe ver jy dit wil neem. Wat my betref is die grootste struikelblok wat dié rigtingwyser betref nie of dit ’n verskil kan maak aan mense se gesondheid nie, maar of mense dit kan regkry om in vandag se kits-en-klaar gedrewe wêreld ten minste minder verfynde koolhidrate kan eet.

Lees gerus meer oor gesond eet op www.betereet.co.za en kuier saam op FACEBOOK/bettereat vir daaglikse beter koskeuses.

Mariza van Zyl RD(SA)

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet™ Voeding en Voedsel Konsult

 

* Lees nóg blogs deur Mariza hier.