sr0101kos15.tif
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Maak dít jou bankrot en vetter?

Oor spesiale produkte en “plaasvervangers” wat jou bankrot (en vetter) maak …

Die wêreld is deurmekaar. En nie net die kos- en dieetwêreld nie, die hele wêreld. Tensy jy heeltemal van die “grid” af is, kan jy nie anders as om die Franse vlag oral om jou te sien nie.

Die Parys-tragedie is natuurlik geensins die enigste tragedie wat rou op ons borde lê nie, maar dit is wat op die oomblik op die tafel is. Baie nader aan die huis is ons eie Parys midde-in ’n knellende droogte in ons land, een wat ons almal se eetgewoontes oor die volgende maande gaan raak.

Jy sal verstaan dat hierdie dinge my laat voel asof dit te lighartig is om oor kos en dieet te praat?

Tog weet ek en jy dat ons weer vanaand, môre-oggend en môremiddag gaan eet. Wat ’n voorreg!

Uit weerwil teen lighartigheid, gaan ek vandag so bietjie wegbeweeg van die biochemie van koolhidrate, proteïene en vette en waar en hoe dit inpas in jou koslewe, gesondheid of dieet, en bietjie fokus op die onsienbare dinge rakende kos, dieet en gesondheid. Soos waar jou kos vandaan gaan kom.

Jy weet dit en ek weet dit: kos is ’n onlosmaakbare deel van elke mens se lewe, hetsy dit goed of sleg gaan. Dis ’n baie basiese behoefte. Tog is ons kosbehoeftes, soos soveel ander aspekte van ons lewens, nou verbind aan ons lewensomstandighede. Jou eetgewoontes wanneer jy kan kies en keur uit ’n verskeidenheid op vol winkelrakke lyk heelwat anders as dié van iemand wat voedselonsekerheid ervaar.

Voedselonsekerheid? Ek verduidelik in my boek Dik vir Dieet (Naledi 2015) dat voedselonsekerheid nie net verwys na lewensomstandighede waar daar geen kos is nie, maar ook situasies waar mense wonder of daar genoeg kos gaan wees of nie. Selfs net bekommernis oor ’n moontlike onvoldoende beskikbaarheid van kos – soos wanneer mense twyfel of hulle gaan uitkom met die maand se kosgeld – word geklassifiseer as voedselonsekerheid.

Hoeveel dieet-voorskrifte laat jou so voel? Saam met jou “dieetresep” kry jy dikwels ’n lang lys spesiale plaasvervangers vir kossoorte wat nou taboe is, maar natuurlik kom die plaasvervangers teen ’n hoër prys. Maar, dink jy by jouself, dié of dáái dieet het dan so goed gewerk vir die ou op die sosialemedia-blad, die een wat in sy los hemp pronk ten spyte daarvan dat hy “soveel van X kon eet soos hy wou” en nooit honger was nie … Dit moet vir my ook werk!

As die eise aan jou beursie egter te veel is, kan jy jouself spoedig in die situasie bevind waar die streng dieet jou in voedselonsekerheid dompel: Gaan ek sukses bereik as ek nié die spesiale produkte kan koop nie? Hoe lank kan ek hierdie patroon volhou sonder my geliefde kossoort(e)? Ek moet nou alleen eet, want dis net te duur om die hele gesin so te voer … (terloops, dít gaan erger raak met voedselinflasie wat reg staan om te spring vanweë Parys, die ene in sowel die EU as die Vrystaat). Miskien is jou gedagte ook dat jy nou nog kan volhou met die “spesiale” voedselitems, maar jy stres reeds oor hoe dit sal gaan as jy jou dieet moet volhou met “gewone” kos.

Dít is wat in jou kop gebeur, en lyfgewys gaan voedselonsekerheid gepaard met gewigstoename of onvermoë om gewig te verloor – volgens navorsing in Australië.

Maar jy staan nie alleen in dié penarie nie. “Spesiale” produkte is dikwels nie net vir jou duur nie, die prys wat ons planeet vir dieet-tendense betaal is soms ook baie hoog.

In tye waar dinge regtig deurmekaar is, soos op die oomblik – wêreldgewys en kosgewys – hunker ek vir seker terug na hoe dinge was voor alles verander het. Al weet mens dit kan nooit weer so wees nie.

Ek het ’n geweldige hunkering na die terugkeer na ’n normaliteit t.o.v. kos en koskeuses. Weg van die oordaad. Weg van die fokus op ’n enkele een of twee aspekte. Weg van dogma. Weg van meer vir minder teen ’n prys. Weg van kunsmatig. Weg van gemanipuleer. Weg van soveel mense wat gevangenes is van kosgedagtes. Terug na ’n bietjie van alles, en die besef dat die enigste TE wat goed is, TE perd en TE voet is.

Koop Mariza se boek, Dik vir dieet, HIER.

Lees ook