Waatlemoen-en-vinkelslaai
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Moenie ’n piesang wees as dit by vrugte kom nie

Elke seisoen het sy eie reuke en kleure en assosiasies. Kosgewys natuurlik ook. Vir my is die lente en vroeë somer die tyd van die jaar wanneer mens die voetval van die weke wat aanstap na die langgggg somerskoolvakansie, kan aftree met die verandering in die vrugte wat op ons winkelrakke verskyn. Die eerste is aarbeie. Dan koejawels wat soeter is as ’n maand of wat gelede … Die eerste kaalperskes. Druiwe sal ook gou-gou op die rakke wees, en natuurlik een van die dae: waatlemoen.

My seun is mal, mal, mal oor waatlemoen. Ek sien in die week die eerste waatlemoene is op die rakke, maar natuurlik is dit nog onbekostigbaar. Ek het dus niks gesê nie; sal nog so ’n bietjie aanhang met die appels, piesangs en lemoene …

Sappige vrugte. Soet-taai druppels wat so lekker teen mens se ken afloop. As hulle lekker ryp is, ruik hulle ook lekker – hoewel dit deesdae vir my voel die “reuk” is uitgeteel om plek te maak vir perfekte rondings …

Ek kan nie help om elke keer wanneer ek vrugte sny, hetsy aarbeie, lemoene, waatlemoen, aan twee dinge te dink nie.

Die eerste daarvan is die ongelooflike oorvloed voedingstowwe wat opgesluit is in vars vrugte – al die soorte, al die kleure van die reënboog wat konsekwent en sonder uitsondering geassosieer is met gesondheidsvoordele.

Die tweede: Die verwronge gedagte dat jy nie moet vrugte eet as jy bant of laerkoolhidraat-keuses maak nie. Of dan net bessie-vrugte moet eet omdat dit is wat beskikbaar was vir ons oervoorouers.

Voor die geswore banters my aanval – onthou, ek sê oor en oor, dit het ’n plek! Maar om GEEN koolhidrate in te neem nie, is nie by verstek die posisie vir alle mense se gesondheid nie! En bessie-vrugte is prysgewys beslis nie hou-my-maag-vol-voedsel nie, veral nie as jy ’n gesin het nie.

Wat belangrik is, is die konteks, en dat wanneer sweeping statements gemaak word soos dat vrugte vet maak, daar slegs gefokus word op een aspek: die koolhidrate.

Wat bedoel ek met konteks?

Het jy geweet ’n koejawel het amper die helfte minder suiker as bessies van dieselfde gewig? Of dat ’n lemoen dieselfde hoeveelheid, of nee, eintlik ietwat minder suiker as bessies het? En dat daar maar ’n halwe gram verskil in die suikerinhoud van ’n geel Golden Delicious- en ’n suur Granny-Smith-appel is? En net so terloops, die ander vrug wat uitgesonder word as held op grond van suikerinhoud, nl. granate, het inderwaarheid net so ’n raps minder suiker as piesangs en druiwe. (Arme piesang wat altyd ’n sondebok is.)

Dit is wat my so ’n bietjie warm onder die kraag maak – hierdie eenogige benadering. Want elke vrug, ja, elke vrug, het iets goeds in. En selfs al moet mense koolhidrate of suiker in hul eetpatroon beperk ter wille van hul gesondheid, maak dit geen sin om op grond van oorvereenvoudigde aanbevelings jou keuses te maak nie.

Onthou, deur gewoon die hoeveelheid wat jy eet aan te pas, kan jy jou suikerinname – veral van vrugte – manipuleer sodat dit jou dieetpatroon van lae, medium of normale koolhidrate pas.

As jy dus weer lus het vir die heerlike aarbeie, die gevoel van ’n kaalperske se sap wat teen jou ken afloop of die besondere lekkerte van ’n skyf waatlemoen, maak eers seker dat jy nie jouself onnodig te na kom nie.

En vir diegene wat steeds skrikkerig is, dink so daaraan: tamatie is ook ’n vrug

Hier is ’n meer volledige “Hoeveel koolhidrate is in my gunstelingvrugte”-lysie en meer oor vrugte en ander koskwessies in DIK VIR DIEET (Naledi 2015) wat pas verskyn het.

Lees ook