Mariza van Zyl
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: ’n Ding oor jou derm, verkoue en griep

Hier waai vanoggend ’n koue windjie in die Paarl. Dis vroeg vir winter, maar dit gaan glo lekker lank koud wees vanjaar. 

Dit beteken ook die “siek” seisoen is hier. Griep en verkoue. Net soos met die “terug skool toe”-mediagolf ná elke skoolvakansie, sal jy seker binnekort artikels en advertensies begin sien vol inligting oor hoe jy verkoues en griep kan hokslaan met allerhande rate, poeiers en pilletjies.

Vóór jy jou afspraak maak vir jou jaarlikse griepinspuiting, of die sterktste bottel vitamien C aanskaf wat jy in die hande kan kry, dink gerus vir oulaas nog een keer aan jou derm.

In die tweede blog oor “’n Ding oor derms” het ek kortliks verwys na die rol wat ’n gesonde derm speel in verskeie liggaamsfunksies – ook jou immuniteit.

’n Uitstekende artikel deur ’n briljante navorser, dr. Michael Ash, het my gister herinner aan ’n enkele aspek wat ek nog nie aangeraak het nie in die gesprek oor die belangrikheid van gesonde derms – en as uitvloeisel daarvan beter algemene gesondheid: Vitamien A

Miskien onthou jy soos baie mense dat aanvullings van vetoplosbare vitamiene (A, D, E en K) “gevaarlik” of toksies kan wees. Hierdie “vrees” vir vitamien A oorskadu ongelukkig die geweldige belang van dié vitamien vir algehele gesondheid en, soos jy sal sien, ons dermgesondheid spesifiek.

Het jy geweet dat ons sonder genoeg vitamien A meer geneig is tot osteoporose en beenbreuke, en dat ons sig swakker, ons vel minder mooi en ons meer geneig tot voedselsensitiwiteite is? Ons vermoë om energie te produseer is ook van vitamien A afhanklik, en laaste – maar nie die minste nie – is ons immuunstelsel krities afhanklik van vitamien A. Dié vitamien is belangrik om ons immuunstelsel te moduleer, dus om seker te maak hy werk reg. ’n Ooraktiewe immuunstelsel kan lei tot siektes soos ’n onderaktiewe skildklier en artritis, terwyl ’n ontoereikende immuunstelsel jou sal vatbaar maak vir als wat verbykom en sommer op die koop toe ook verskeie voedselintoleransies tot gevolg kan hê. Dié intoleransies manifesteer dikwels as vae simptome van moeg, lui, tam – sommer sleg wees ná etes – of as prikkelbare en ongemaklike derm.

Uit die jongste navorsing blyk dit nou die vorm van vitamien A wat vir ons immuunstels nodig is, is dié vorm wat in diereprodukte voorkom, aangesien baie mense nie die vitamien A in groente en vrugte ten volle kan gebruik nie.

Saam met jou lekker gefermenteerde kool, blomkool, jou glas rooiwyn en jou veselkeuses (piesang, preie, uie) om jou dermbioom gesond te hou, moet jy ook so nou en dan ’n lekker porsie lewer, bietjie botter, room en harde kaas inkry. En ook veral vetterige vis soos sardiens. Hou jy nie van lewer nie? Nou ja, miskien is dit tyd om te kyk na ’n aanvulling. Die vrese ten spyt blyk dit dat vitamien A in die vorm van retinoësuur (10 000 IU eenhede per dag, selfs oor ’n lang tyd) in die algemeen veilig is. Mense wat gereeld lewer en orgaanvleise eet, moet versigtiger wees met ’n aanvulling.

BeterEet groete tot volgende keer

Mariza

Verwysing: A Review Article: Vitamin A: The Key to Immune Tolerance in the GUT, Journal of Orthomolecular Medicine, VOlume 26, Number 1, 2011. Michael Ash, BSc (Hons) DO, ND, FDip ION

 

Lees ook: