FOTO: Instagram luudohoanganh

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Oefening het niks met gewigbeheer te doen nie … of nie?

Die vyfde onderwerp in my kort blogreeks oor Banting gaan oor die rol van oefening. 

Ek onthou ’n grappie uit my kinderdae. Die verteller moes in ’n swaar aksent Engels praat, met harde r’e en “z” pleks van “th”: “Good morning, zis is Radio Gaga, it iz time for our morning exercises. OK, arrr you rrready? Up, down, up, down … rrrright, now ze other eyelid …”

In Augustus het prof. Noakes tydens sy praatjie by Stellenbosch Universiteit die volgende stelling gemaak: “As jy moet oefen om jou gewig te beheer, is jou dieet verkeerd.” (Die Burger, 12 Augustus 2014.)

Ja, baie mense verpes inderwaarheid oefening, en wel om verskeie redes. Hulle het nooit genoeg tyd om daarby uit te kom nie of is te moeg na werk of hulle gril vir die sweterige apparate in ’n gimnasium. Die genoemde stelling deur prof. Noakes is natuurlik musiek in hul ore, want al die gekerm oor gereelde oefening bereik net een ding: dit wek by hulle skuldgevoelens. Dus gaan diesulkes vir seker nou ook probeer Bant, want hulle sal gewig verloor sonder om ’n vinger te lig. Of nie?

Die feite is as volg: 

Enersyds is hierdie stelling nie van toepassing op almal nie. Geneties (en jy kan toets daarvoor) reageer mense se liggame verskillend op oefening. Dis eintlik logies, anders was ons almal marathon-atlete. Ek kan dus elke dag 30 minute oefen en gaan al my ekstra spekkies verbrand, terwyl jy dalk dieselfde doen en geen effek sien nie – miskien net bietjie “fermer” voel.

Dít is inderdaad frustrerend en ek verstaan waarom sommige mense sal gryp na die belofte van ’n dunner lyf sonder ’n druppel sweet met Banting.

Die term vir ’n mens se unieke respons op oefening is “exercise responsiveness”. Indien jy geneties minder bevoorreg is – jy verbrand as’t ware minder vet wanneer jou spiere werk – het jy geen ander keuse as om na jou dieet te kyk as jy gewig wil verloor nie. Want jy gaan nie maerder word van oefen nie. Die teendeel is ook waar.

Hier lê egter ’n knoop: dalk is jy geneties ook “sensititief” vir te veel versadigde vette. As jy dan “Bant” met room, botter en eiers en vetterige vleis, gaan jy ook niks gewig verloor nie.

Andersyds gaan oefening tog oor veel meer as gewigsbeheer. Wat dink jy is beter vir jou brein – blokraaisels doen, of stap om die blok (nie die een wat jy onder die bed inskop nie)?

Verrassing: Stap om die blok! Oefening, of dan aktiwiteit – en jy hoef nie ’n marathon te hardloop nie – stimuleer die vorming van nuwe breinselle. Oefening laat jou ook gewoonlik sweet, wat ’n belangrike manier is om van toksienes in jou liggaam ontslae te raak. Doen jy dit nie (stap en oefening), hoop sekere gifstowwe makliker op in jou lyf en maak jou uiteindelik siek. Oefening is ook ’n doeltreffende metode om streshormone (kortisol) te verbrand. En dié hormone kan jou siek maak as dit “ophoop”.

Oorgewig is ook ’n siekte. Maar sover dit my betref, is dit irrelevant of oefening jou help om gewig te beheer al dan nie – dit is vir seker KARDINAAL vir ALMAL se gesondheid.

Groete tot volgende keer

Mariza van ZylMariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoekwww.betereet.co.za